Stef se see of Johnny s’n?
2010-03-26 22:07
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Julian Müller skaar hom by die ateïstiese dominee Klaas Hendrikse (“Dít wat ons nié dink,” By, 6 Maart).
Vir hom is dit veelseggend dat die ring van Zierikzee in die oorweldigend konserwatief-Protestantse provinsie Zeeland bevind het Hendrikse kan voortgaan met sy werk as dominee.
Dit is egter net die helfte van die storie. Wat die ring bevind het, is dat Hendrikse se siening nie wesenlik verskil van dié van ander liberale teoloë in die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) nie.
Müller meld nie dat die PKN ’n klomp vrysinnige dominees het nie. Hy noem nie dat ’n beduidende aantal teen die besluit gestem het nie. Hy maak niks van die appèl teen die besluit nie.
Soos Hendrikse het Müller dit teen die teïstiese wêreldbeeld. Teïsme, aldus Müller, is gebore uit die antieke siening van ’n drieverdieping-heelal.
Hy sê met stelligheid: “Tot en met die bevindinge van Kopernikus en Galileo was dít die enigste en gangbare wêreldbeeld.”
Die Kopernikaanse revolusie het egter nie om die omverwerping van die konstruksie van drie verdiepings gegaan nie, maar om ’n ander verstaan van die konstellasie van hemelliggame.
Die geosentriese model van die heelal (aarde as vasstaande middelpunt) moes plek maak vir ’n heliosentriese model (son as vasstaande middelpunt).
Martin Luther het hom, in sy reaksie op Kopernikus, beroep op Josua wat die son (nie die aarde nie) beveel het om stil te staan.
Kopernikus se teorie het niks van sy geloof in die bestaan van ’n transendente God weggevat nie. Hy het voortgegaan om in Frauenburg sy kerk met toewyding te dien.
Dit was die Roomse Kerk wat Kopernikus se boek De revolutionibus orbium coelestium op die lys van verbode boeke (die pouslike indeks) geplaas het.
Daarteenoor het die bekende en deurlugtige Hervormer Andreas Osiander die voorwoord geskryf.
Johannes Kepler, wat op Kopernikus se siening voortgebou het, het aan Michael Maestlin, sy voormalige professor in Tübingen, geskryf: “Ek wou ’n teoloog word en was ’n lang tyd rusteloos daaroor. Nou sien ek egter hoe God deur my pogings verheerlik word in astronomie.”
Galileo Galilei se bekende woorde (ná sy verhoor deur die Roomse Kerk) het nie in die verskiet verdwyn nie: “Die Heilige Gees wil ons in die Bybel leer om hemel toe te gaan, nie hoe die hemele werk nie.”
Die verouderde geosentriese model, wat ook bekend staan as die stelsel van Ptolemeus, kan teruggevoer word na die tyd vóór Christus. Dit is ouer as die Christendom self!
Die nuutste ontdekking van ’n uitdyende heelal bewys vir Kopernikus en Galileo verkeerd en moet seker weer vir ’n verhoor deur die kerk en ’n anders-dink oor God vra. Of is dit nodig? Moet ons godsbeeld elke keer verander as ons wêreldbeeld verander?
Met watter wêreldbeeld werk die digter van Psalm 139 as hy van God praat as binne-in my, naby my, bokant my, onder my, om my, oral, altyd by my?
Watter verdiepings sien Paulus in Efesiërs 3 gekonstrueer as hy vir ’n begrip van die bo-verstandelike vierdimensionele reikwydte van die liefde van Christus bid en om ’n volkome vervulling met die volheid van God vra?
In enige sinvolle teologiese gesprek is ’n sorgvuldige en noukeurige omskrywing van woorde en uitdrukkings van belang. Die definisie wat Müller van teïsme gee, is nie wat daaronder verstaan word nie.
In teïsme word daar gelyktydig met die transendensie (uitwoning) en die immanensie (inwoning) van God gehandel.
In Müller se teïstiese godsbeeld sien hy ’n veraf tref-en-trap-God. Dit mag miskien waar wees van die Ou Testamentiese godsbeeld, maar dit is nie die voorstelling wat God van Homself in die Nuwe Testament maak nie.
In die storie van Jesus van Nasaret word God allermins aan ons voorgestel as ’n koning en ’n generaal.
Jesus was volkome in aanraking met sy vroulike kant. God-in-die-kerk word vroulik wanneer Hy deur sy Gees in vroue en meisies kom woon.
Om dus te beweer dat ons “oor geslagte en eeue só deurdrenk geraak het van teïstiese godskonsepte dat ons dit byna onmoontlik vind om in enige ander kategorieë oor God te dink en te praat”, is ongesubstansieerd.
Opvallend dat Müller in sy beskrywing van die wesenseienskappe van God nie die “alomteenwoordigheid” van God noem nie.
Waarskynlik omdat hy die afstand wil behou wat hy self tussen mens en God skep met sy vereensydiging van die teïsme.
Dit is ook nie korrek om te beweer die kerk is oor eeue heeltemal van die teïsme deurtrek nie, veral nie soos Müller dit voorstel nie.
Daarvoor is die kerkgeskiedenis te ryk aan verskeidenheid en vertoon die verskillende kerklike tradisies vandag steeds die teendeel.
Daarby moet gesê word die teïsme as sodanig is ook jonger as Kopernikus en Galileo se moderne wêreldbeeld.
Die begrip teïsme is die eerste keer deur die Engelse filosoof Ralph Cudworth in 1671 gebruik. As moderne filosoof het hy hom vereenselwig met Galileo se wêreldbeeld, terwyl hy die bestaan van God teenoor die onhoudbaarheid van die ateïsme verdedig het.
Müller veralgemeen met sy aanname dat dit vir denkende mense toenemend moeilik word om in ’n teïstiese God te glo. Dit is hoogstens die geval by ’n sekere groep denkende mense.
Dit is opvallend dat Müller onder die uitweë wat hy noem, nie die volgende noem nie: Sommige denkendes staan, met die nuwe uitsigte en beter insigte, in stomme verwondering voor die God wat alles gemaak het!
Müller se uitkoms lê by die post-teïsme. Hy meen Hendrikse hoort ook hier. Volgens Wikipedia is post-teïsme “a variant of nontheism that proposes to have not so much rejected theism as rendered it obsolete, that God belongs to a stage of human development now past”.
Of Müller nou post-teïs, panenteïs of panteïs is, is moeilik om te bepaal. Volgens hom is die panenteïsme vir baie Christene die uitweg, maar hy definieer panenteïsme nou in terme van die panteïsme: alles is in God en God is in alles.
Die aanvaarde definisie van panenteïsme lees: God in alles, maar God is méér as alles. Panenteïsme erken die transendente bestaan van God.
In 2008 het Müller nog by die Nuwe Hervorming Netwerk gesê: “Panenteïsme is nie ’n nuwe konsep nie, maar kom opnuut na vore as ’n poging om sowel God se transendente (Bron en Agent) as God se immanente (God as geïnkarneerde doel) in een Godskonsep te verstaan en uit te druk.”
Hiervan doen Müller nou afstand. In vandag se taal en denke bestaan God nie meer vir hom nie. Müller het aanbeweeg. Hy word nou gefassineer en geïnspireer deur nuwe denkraamwerke oor God. God gebeur.
Met die aanhaling van Stef Bos se “Lied van God” wys Müller hoe naby sy post-teïsme aan panteïsme lê.
Die groeiende globale ekologiese krisis is besig om panteïsme te populariseer. Richard Dawkins het in sy The God Delusion aan panteïsme kredietwaardigheid onder ateïste verleen. Hy beskryf panteïsme as ’n “sexed-up atheism”.
Hy verduidelik: “Pantheists don’t believe in a supernatural God at all, but use the word God as a nonsupernatural synonym for Nature, or for the Universe, or for the lawfulness that governs its working.”
Die trefferfliek Avatar is deur Ross Douthat van The New York Times beskryf as “Cameron’s long apologia for pantheism ... Hollywood’s religion for a generation now.”
In kort: Müller sing met Stef Bos: “God ben de wind ... De Zee.”
Ons ander, ook denkende mense, sing met Johnny Cash: “Oh roll my ship over the waves of Your sea ... with the fire of Your breath.”
Dr. Johann Ernst is aktuarius van die NG Kerk se algemene sinode.