Tussen sêrries shooters
2011-06-04 23:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op

‘Dankie, jy is ’n ware ou skat!!!!” SMS ’n eerstejaarstudent my nou die dag in die taal waarmee ’n mens met “Mams” of “Oumie” gesels.
“Is u tevrede met ons diens?” is die standaardreël onderaan ’n e-pos wat ek van ’n ander universiteit ontvang toe ek navraag doen of ’n doktorale student se uitslae al beskikbaar is – kompleet met ’n nommer waarby ’n mens anoniem in die styl van “How is my driving?” agterop vragmotors kan terugvoer lewer.
By die een universiteit ná die ander verrys indrukwekkende nuwe kantoorblokke waarin uitvoerende hoofbestuurders gaste op leersofas ontvang en soesji bedien word. Dít terwyl dosente dit in sommige studentedorpe nie kan bekostig om eiendom te koop nie, omdat studente die pryse opjaag.
Universiteite se mediaveldtogte en handelsmerkpoetsery het ’n nuwe sofistikasie bereik. Die een universiteit beloof in sy advertensies ’n mens kan jou “graadkry met lekkerkry klaarkry”. ’n Ander stel voor jy kan jouself herontwerp. ’n Derde genereer Afrika-kennis.
’n Kantoor by ’n stedelike universiteit se houtpanele word vervang omdat dit te elitisties en muwwerig lyk – die nuwe interieur is op dié van ’n Absa-tak gemodelleer.
Watter idees oor – en verwagtinge van – Suid-Afrikaanse universiteite skemer in hierdie eklektiese voorbeelde van institusionele kultuur deur? Belangriker nog: Wat is die vraag (of vrae) wat gestel word wanneer die “regte universiteit” as antwoord aangebied word?
’n Eenduidige antwoord is uiteraard reduksionisties. Navorsing en talle indekse sit sistematies uiteen in watter spesialisvelde universiteite die beste vaar. Pluraliteit in ’n universiteitstelsel is nie net wenslik nie, maar noodsaaklik. Geen pasklaar-keuse bestaan nie, en studente het verskillende per- soonlikheidstipes en behoeftes.
’n Vraag oor die keuse van die “regte universiteit” het verlede week in Beeld ter sprake gekom. Die ontleding hiervan het hoofsaaklik gefokus op waar Afrikaanse studente studeer en watter persentasie hulle van die algehele studentekorps vorm. Die strekking van die Beeld-vraag was min of meer soos volg: Wat doen Suid-Afrikaanse universiteite om hul kampusse en akademiese aanbod aanloklik te maak, spesifiek vir ywerige, (wit, middelklas) Afrikaanse studente wat met harde kontant vir hul studies kan betaal en met hul voete stem? Beeld se antwoord, vervat in kommentaar op die hoofartikelblad, is die Noordwes-Universiteit, spesifiek die Potchefstroom-kampus, word die vooguniversiteit van Afrikaans as ’n akademiese taal.
Drie goed kom vervolgens ter sprake. Eerstens het die soort spesialisering wat in vandag se arbeidsmark noodsaaklik is, ’n verlengde fase van kindwees ingelui. Vir veel langer as voorheen is jong mense van hul ouers of die staat afhanklik terwyl hulle aan universiteite studeer. Hoewel die tyd nie heeltemal sorgvry is nie, behels dit tog ’n vorm van koestering teen die realiteit – veral vir studente van middelklasgesinne wat nie hoef te werk nie. Dit stel hulle in staat om idealisme te kan kombineer met ’n mate van toe-eiening en selfgeregtigheid, sleutelfaktore in latere sukses – mits die vaardighede wat opgedoen word konkreet en uitnemend is.
Tweedens is dit nie ongewoon nie dat in tye van onsekerheid die behoefte ontstaan om jong mense ’n bietjie langer teen die verantwoordelikhede van volwassenheid te beskerm. Die soort gemoedelike balans tussen studie en sorgvrye studentetye – liefkosings in die laan, melkskommels, sêrries, shooters – is ’n ervaring wat ’n mens dalk almal sou wou toewens, maar met vandag se werklikheid hou dit min verband. (Die jong mense van slegs een of twee generasies wit Afrikaanssprekendes kon werklik kies wat hulle wil doen – dit is die soort keuses wat met bevoorregting saamval, dié van ’n heersersklas wie se middelklasstatus onfeilbaar lyk.)
Derdens het ons in die afgelope twee dekades vinnig ’n gevestigde verbruikerskultuur ontwikkel waarin kopers altyd met respek behandel word, enige tyd van plan kan verander en bykans nooit daarop gewys word indien hulle verkeerd is nie. Winkel- sentrums figureer as eietydse katedrale waar goed versorgde personeellede hul klante met die soort respek hanteer wat slegs uit algehele ongelykheid spruit. Onder geen omstandighede mag personeellede sê wat hulle regtig dink nie; elke boodskap word versag. Hoe aangenaam is dit nie byvoorbeeld om ’n bank te besoek nie, en hoe skerp steek dit nie af teen ’n besoek aan, arguments-onthalwe, Binnelandse Sake of die plaaslike lisensieafdeling nie.
Ook universiteite begin toenemend hierby aanpas en praat nou die taal van studente as kliënte. Studente is immers ’n mark – en die mark kry altyd wat die mark wil hê!
Talent is egter min of meer ewe- redig in ’n samelewing versprei, het die rektor van die Universiteit van Kaapstad, Max Price, verlede jaar in ’n debat oor rassekwotas aangevoer. Ongelyke geleenthede en swak skole beteken natuurlik nie alle leerlinge kan hul potensiaal bereik nie. Ons het ongetwyfeld ’n diep rif van onontginde talent in Suid-Afrika.
Die Zimbabwiese studente wat ons nou in ons universiteitstelsel aantref, dui daarop ’n korps swart studente wat uitnemend presteer, betree die universiteitstelsel binne een generasie ná onafhanklikheid. En ’n stelsel wat op meriete gegrond is, gaan grondige verskuiwings meebring. Apartheid, daarenteen, het slegs as merietestelsel binne die klein poeletjie van ’n wit minderheid gefunksioneer .
Boonop is die wêreld toenemend aaneengeskakel. In Tunisië, Egipte, Griekeland en Spanje sit gegradueerdes sonder werk op straat. Dit het ’n rol gespeel in sowel die sogenaamde Arabiese Lente as in die sosiale wanorde en versetaksies wat tans in die bykans bankrot Griekeland afspeel.
In Australië presteer immigrante buitengewoon goed in finalejaar-skooleksamens, ’n sleutelfaktor wat toegang tot universiteite en kursuskeuses betref. In ’n land wat die agt uur-werkdag gemunt het – agt uur slaap, agt uur werk en agt uur vir ontspanning – werp immigrante se keuse om hul vrye tyd vir ’n werksessie om die etenstafel af te staan, vrugte af.
Aan Amerikaanse elite-universiteite is sowel minderhede as immigrante relatief oorverteenwoordig, en behaal studente van Asië uitstekende prestasies in sekere kursusrigtings. In China kom universiteite soos padda-stoele op, en hul navorsing-uitset verbeter vinnig.
Dit is nie ’n byderwetse weergawe van ’n swart gevaar-, geel gevaar- of Oosterse gevaar-diskoers waarmee gogga vir baba bang maak nie. Dit is eerder feite wat in ag geneem moet word wanneer besluite oor universiteite en studierigtings geneem word.
Bitter min studente is werklik trustfonds-kinders, en die meeste van hulle gaan van hul eie toekomstige verdienste afhanklik wees. ’n Mens is middelklas slegs tot die mate waarin jy in die volgende generasie dieselfde middelklas-lewenstandaard as jou ouers ewenaar of oortref. Die vraag oor sosiale klas lê nog in die toekoms. Die lewe is nie ’n Afrikaanse fliek nie.
’n Oormatige groepsbewustheid, ’n verskuilde afhanklikheid van ’n stelsel en voorregte wat nie altyd gaan bestaan nie, ’n hunkering na ’n meer ongekompliseerde wêreld en die selfvertroue van ’n eertydse heersersklas kan sommige studente pootjie wanneer hulle noodwendig met ’n uitgebreide portuurgroep van hier en oorsee sal moet meeding. Die geleenthede wat wit studente se ouers gegeld het, sal hul kinders nie vanselfsprekend te beurt val nie.
’n Vriendin het haar voorgraadse studie aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi, daarna ’n onderwys- diploma aan die Universiteit van die Noorde verwerf en toe na Stellenbosch verhuis waar sy ’n M.A.-verhandeling aangepak het. Terwyl sy gewerk het, het sy haar doktorsgraad voltooi. Só het sy ’n wêreld se blootstelling gekry – en dit alles in die binneland.
Die idee van ’n universiteit as ’n pater familias vir Afrikaans en vir wit Afrikaanssprekendes het vir teikenstudente gewerk toe die vader nog die volksbeursie gedra het. Maar om die vraagstuk oor die “regte universiteit” vandag te verskraal tot die universiteit waar Afrikaanses die grootste gros vorm, is om wit Afrikaanses in ’n hok te jaag. En wie se fantasie is dit nou eintlik?
Vrae oor die vaardighede wat kursusse kweek, die intellektuele kaliber van dosente, die blootstelling wat studente kan verwag, debatte in die klaskamer, die netwerke en sosiale kringe wat gevorm word en die geleenthede wat deur universiteitstudie ontsluit word, word te vinnig gesystap.
Dit ís so dat diegene wat kan betaal, meestal kan kry wat hulle wil hê en met hul voete kan stem – maar is dit wat jy kry ook dit wat jy nodig het?