Vaarwel, my Valentyn
2012-02-10 21:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Dinsdag sal ons weer verswelg word deur goedkoop sentiment. As teenmiddel teen die clichés van Valentynsdag, dink Loftus Marais na oor die opbreekvers, ’n vorm van wraak, selfterapie, skadevergoeding, en boonop soms ’n finale appèl tot die liefde.
Elke jaar word ’n mens oorval deur Valentynsdag se goedkoop sentimente en eenvoudige boodskappe. Kaartjies, sjokolade, blomme, silwer hartvormige ballonne. Die liefde word verklein tot uitroepe en slagspreuke.
Die teendeel van hierdie vinnige verbruikerskommunikasie is natuurlik die goeie gedig – dit verg tyd, aandag en emosionele betrokkenheid.
Daarom sal verse wat handel oor die einde van ’n verhouding, oftewel dan die break-up-vers, die regte teenmiddel wees vir hierdie seisoen van swoele liefde. Die waardering van ’n opbreekvers is ’n soort inenting teen alle Valentynsoppervlakkighede.
Die opbreekvers as genre is iets wat nie eintlik bestudeer word nie. Gedigte oor gelukkige liefde, die huwelik, oor vriendskap, die dood – hulle word saamgebundel en uitgegee; word bespreek in artikels, maar daar word taamlik min aandag aan die opbreekvers as aparte verskynsel gegee.
Wat ís ’n opbreekvers? Wel, dit het eerstens baie gemeen met die lykdig. Dit is ook ’n vers wat treur.
Dikwels word die geliefde, nes die gestorwene, geïdealiseer. Of die teenoorgestelde gebeur: die versaakte spreker beeld die geliefde as boos uit, of ten minste as iemand vol gebreke.
Die anti-ideale uitbeelding van die geliefde in die opbreekvers kan dikwels ook gelees word as ’n vorm van wraak.
Die spreker, indien hy skryf oor sy eie ervaringe, “wen” die finale geveg deur die boekstawing van sy eie gebroke hart.
“Ek was reg, jy was verkeerd” – dít is gereeld die subteks van vele opbreek-verse. Die skrywer het dus hier altyd die oorhand, aangesien die vers ’n “die finale woord” in enige verhouding sal wees.
Nie alle digters is egter wraaksugtig nie. Soms kan die opbreekvers gesien word as ’n finale appèl, die laaste liefdesbrief. Hierdie gedig vra dan: neem my terug, is dit regtig oor, kan iets gered word?
Maar dalk is die interessantste manier van kyk na die opbreekvers om dit te sien as ’n vorm van skadevergoeding.
Die warboel van emosie en die irrasionaliteit van die gebroke hart word teengewerk deur die streng ekonomie en vorm van die poësie.
Daar word teen die “gebrokenheid” van die skrywer se toestand gereageer deur sy ordening van elemente. Die gedig as selfterapie. “Indien dinge in die vers sin maak, sal dit vir my ook sin maak.”
In die onlangse Afrikaanse poësie is daar baie voorbeelde van al bogenoemde soorte opbreekverse. Die kontemporêre break-up-gedig is oral te vinde.
Danie Marais se debuutbundel In die buitenste ruimte handel oor die verbrokkeling van ’n huwelik.
Sy tragikomiese stem verleen ’n dubbele lading aan baie frases.
Vergelyk die eiesoortige, amper ongeërgde, patos van hierdie aanhalings:
“En ek bly sit / by die seegroen kombuis- tafeltjie / êrens aan die gatkant van ons koppige liefde” of “Ek kon maar net vol ontsag toekyk / hoe jy soos die Starship Enterprise / outonoom / deur tyd en ruimte suis”.
Of “as ek onthou hoe eensaam dit was / om soos ’n melktand in watte te lê – / sorgvuldig weggepak, per ongeluk vergete / in ’n geheime wegsteekplek”.
Of, die Valentynsat leser kan Ronelda S. Kamfer se “To all the boys I loved before” of “rampspoedige einde” gaan lees.
In eersgenoemde skryf sy sy word ge-dump “vir Tiffy, ’n sewentienjarige in graad ag” en in laasgenoemde “jou lessenaar is / deurmekaar en jou oë is mooi als wat / ek gedink het ek wou hê”.
’n Nuttige voorbeeld van ’n kontemporêre opbreekvers is Fourie Botha se “Die gordyn in die kamer” uit sy debuutbundel Donkerkamer (2011):
Die gordyn in die kamer
wankel vorentoe en terug –
’n dronk bestuurder op ’n streep.
Teen die hoek van die plafon
skyn die bedlamp ’n chevron.
Ek verneem jy verander
vanaand van roete.
’n Sestig-sone: ons gereëlde liefde.
Jou aankondiging laat my kop draai.
Ek verdwaal in hierdie kamer.
Die M1 (Suid) swenk skerp verby.
Gaan noord! Gaan noord!
Jy wéét dis teen die wet:
’n U-draai op ’n snelweg.
Ek pluk die gordyn oop,
soek jou kar in die straat.
Die lamppaal voor die ruit
trek ’n sperstreep deur die aand.
Dis die skok en verbasing van die versaakte geliefde wat hier vasgevang word in die eerste strofe se gordyne wat wankel soos ’n dronk bestuurder.
Die opbreekafkondiging laat sy kop draai. Hy verdwaal in sy kamer. Hy sien homself in die gordyn se bewegings.
Die ruimte word gelaai met ’n vreemde, vervreemdende metaforiek.
Die taal van die verkeerswêreld word gebruik: bestuurders, strepe, die daklys is ’n chevron, die verhoudings-planne ’n roete.
’n Interessante woordspel aangesien die ruimte van intieme “verkeer” (die kamer, die plek van omgang, gemeenskap, vertroulikheid) hier verplaas word deur die mees meganiese en onpersoon- like soort “verkeer” (vervoer, padreëls, ensovoorts.).
Hierdie metaforiek ondersteun ook die kilheid en saaklikheid in die toon van die spreker.
Hier word sonder veel emosie of passie verslag gedoen oor die einde van ’n verhouding. Die spreker “verneem” van sy geliefde se besluit.
Die besluit word ’n “aankondiging” genoem. Die hele gedig bestaan uit 12 kort, direkte sinne. Elkeen ’n blote stelling.
Dis juis die kontras tussen die beheerste vorm en die emosie onder die oppervlak wat die leser van die gedig tref.
So baie desperaatheid skuil in die “draai” en “verdwaal” in die tweede strofe, dit maak nie saak hoe reguit dit berig word nie.
Die versaakte se wense kan ook nie direk genoem word nie, en word eerder metafories met “Gaan noord! Gaan noord!” uitgedruk.
In die handeling van die spreker is daar ook verskuilde intensiteite. Hy “pluk” die gordyn oop. Hy beweeg na die venster – na sy beminde.
Die hunkering in die woord “soek” in die laaste strofe.
Hierdie indirekte, kil toon is op verskeie maniere funksioneel. Dit skakel met die hulpeloosheid van die versaakte.
Die einde van ’n verhouding is ’n situasie waarin die afgekeurde geliefde bloot meganies móét optree, die nuwe “sperstrepe” volg, die nuwe “roete” aanvaar.
Dit is nie ’n gesprek of ’n moontlikheid nie – dit is ’n afgebakende finaliteit waarbinne die afgekeurde geplaas word.
Hierdie gedig vang dus iets vas van die geskokte gelatenheid van die skielik versaakte geliefde.
Maar hier is dalk ook iets meer ingewikkeld aan die gang. Die saaklike stem is moontlik ook ’n karaktereienskap van die spreker – sy kilheid veroorsaak die “Sestig-sone: ons gereëlde liefde”, die rede hoekom hy verlaat word.
Die metaforiek en die toon is dus ook eintlik die rede vir die “U-draai”, die hele tragedie: sy onvermoë tot passie.
Die gedig volg ook ’n streng vorm. Twee strofes van vyf reëls gevolg deur twee strofes van vier reëls.
Die vermindering van reëls eggo die einde van die verhouding. Hier is ’n moment van vermindering en afloop. Dinge kom tot ’n einde.
Wat ek verder in die gedig wil lees, met al die Valentynsclichés wat tans in die ronde is, is dat die laaste strofe ’n ontluistering van twee tipies romantiese beelde is: die geliefde by die venster of balkon (“what light through yonder window breaks”) en dan ook die nagtoneel met die sagstralende straatlig (gewoonlik met ’n paartjie onder ’n ou Paryse gaslamp in die mistigheid).
Ons lees ook slegs van ’n bedlamp en ’n straatlig buite die venster.
Die kamer is ’n donker een – nie net in die sin van afwesige lig nie, maar ook in die sin van donkerder emosies: ontnugtering, desperaatheid, droewigheid. Dit skakel dus met die bundeltitel. Dié is inderdaad ’n somber donkerkamer.
Die lees en waardering van hierdie soort opbreekvers is ’n kulturele antwoord op die soetsappige liefdeswoorde in winkels, op TV en die radio.
Dit is die teenoorgestelde van die romantiese cliché: ’n vars en intense blik op die donkerder sy van die liefde.
Dalk sal ’n bietjie balans keer dat ons liefdesuitinge nie almal verarm en vereenvoudig nie.
Loftus Marais is ’n digter.