Van die sloot op die wal?
2011-06-18 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die woord “sloot” omsluit ’n tikkie swaarmoedigheid. Die sêding lui mos “van die wal in die sloot”. En ma’s sing in die wie- geliedjie “Siembamba”: “Draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop, dan is hy dood...”
Die konnotasie vermenigvuldig as dit by ’n diép sloot kom. Soos in die naam van Diepsloot, ’n informele nedersetting met ’n geraamde 200 000 inwoners noord van Johannesburg.
Het Diepsloot die bagasie van sy naam opgesuig? Of voed berigte van geweld en geweldige armoede ons persepsie van dié buurt?
’n Video – en daaropvolgende berigte in The New York Times en die plaaslike media – oor die dood van die Zimbabwiër Farai Kujirichita aan die hand van ’n bloeddorstige skare in dié plakkerskamp, het die voorkoms van vigilante-moorde en die frustrasie in gemeenskappe soos Diepsloot immers pas weer in die kollig geplaas.
Die joernalis Anton Harber het in sy splinternuwe boek, die gelyknamige Diepsloot, deur die kollektiewe fiksie gaan grawe om feite te probeer vind.
“Soos die meeste mense het ek waarskynlik tydens die xenofobiese geweld (in 2008) van die plek bewus geword,” vertel Harber. “Ek was nog nooit vantevore daar nie, maar ek het al verby Diepsloot gery op pad Magaliesberg toe.
“Ek het probeer sê: Kom saam, ek is op ’n ontdekkingstog, want ek was ook nog nooit daar nie, en ek het ook al hierdie stereotipiese idees oor Diepsloot. Kom saam, en ons sal krap en krap en krap.”
Dié Wits-professor in joernalistiek en mediastudies en destydse stigterslid van The Weekly Mail (nou die Mail & Guardian) het vir middagete ’n Ethiopiese restaurant in die suidooste van Johannesburg gekies. Dis tog meer gepas om hier oor ’n township te gesels as in ’n voorstedelike Mugg & Bean. Ons is die enigste klante, maar musiek wat oor die televisie blêr, maak dit moeilik om te hoor.
Harber vertel hy wou verstaan wat op grondvlak in die Suid-Afrikaanse politiek aangaan. Die fyn nuanses. Wat agter die xenofobie en sporadiese “dienslewering- protes” lê. En hoe dit gebeur het dat Jacob Zuma – teen middelklas-Suid-Afrika se verwagting in – president geword het.
Maar die ligging vir sy navorsing het ontbreek. Die gloeilamp het aangegaan toe hy op ’n dag met Chris Vick, adviseur van die minister van menslike nedersettings, Tokyo Sexwale, gesels het. Vick het die “politieke eier” beskryf wat hy moes skei toe Sexwale in 2009 ’n halwe nag in Diepsloot deurgebring het.
“Terwyl ek geluister het,” skryf Harber op sy blog, “het ek tot die besef gekom dat Diepsloot die plek is waaroor ek moet leer en navorsing doen, waar ek tyd moet deurbring en waaroor ek uiteindelik moet skryf.”
Hy bestel ’n bord vleis en groente wat op ’n injera, ’n soort pannekoek, uitgepak word. Hy maak seker dis bees, en nie bok- vleis nie. Ons eet met ons hande.
“Ek het drie maande lank elke dag Diepsloot toe gegaan,” vertel hy. Dit was verlede jaar tydens sy sabbatsverlof. “Ek het meestal soggens gegaan en ’n onderhoud met twee of drie mense gevoer. Dan sou ek huis toe gaan, want dit was beter om dit onmiddellik te transkribeer en vars te skryf.”
Toe het Harber drie maande lank by die Universiteit van Oxford in Engeland aan die boek gaan werk as deel van ’n navorsingsbeurs.
“Dit het my toegelaat om weg te kom en deur al my opnames en notas te werk. Ek het die grootste gedeelte daar geskryf, wat ’n fantastiese geleentheid was, want ek kon nie vir ’n beter atmosfeer gevra het nie. Dit was nuttig om afstand tussen my en die land te kry wat ons gedurig omsingel.”
Hy het in ’n sewentiende eeuse sterrewag gewerk wat in ’n kamer vir genote omskep is. Dit was ’n groot kontras, erken Harber – om in die gewyde, gewigtige atmosfeer van ’n 900 jaar oue universiteit oor die sestien jaar oue Diepsloot se ubuntu én mob justice te tob.
Dit is iets wat hom ook kritiek op die hals gehaal het. Kan ’n wit man wat in dié soort wêreld omgaan, ’n swart nedersetting se storie geloofwaardig vertel?
“Harber is heeltemal onbewus van sy witheid in ’n swart ruimte,” het die politieke kommentator Andile Mngxitama onlangs in ’n resensie in die Mail & Guardian geskryf; Diepsloot is niks meer as ’n “antropologiese strooptog” in ’n swart township om die leserspubliek ’n blik te gee “op hoe die ander helfte lewe” nie.
“Ek het dit van hom verwag, dit was heeltemal voorspelbaar,” sê Harber oor Mngxitama se aantyging dat wit mense nie oor swart kwessies kan skryf nie.
“Eerlik gesê, ek dink dis nonsens. Ek bedoel – wat is die verlenging daarvan? Dat slegs Arabiere oor die revolusie in Egipte kan skryf, of Jode alleen oor dinge in Israel?
“Ek bied ’n perspektief. Die perspektief van iemand wat in Diepsloot woon, sal anders as myne wees. Dis laf om te beweer enige van hierdie sienings is meer geldig as die volgende een. Word my siening gevorm deur die feit dat ek in die voorstede woon en wit is? Natuurlik! Maar as jy in Diepsloot woon, sal daar ander beperkinge en voorspronge op jou siening wees, of hoe? Ons sal Diepsloot slegs verstaan as daar verskillende sienings is.”
“Ons (joernaliste) betree situasies wat anders is, en ons het die gereedskap om tot ’n soort insig te kom van wat daar aan- gaan. Dis wat ons in Egipte doen, en dis wat ons in Diepsloot doen.”
Met sy navorsing het Harber besef ons dink te maklik die staat is stadig en doen nie veel om dienslewering te verbeter nie.
“Dis simplisties. Mense moet begrip hê vir wat die stad kan en nie kan doen nie, en hoe lank dit sal neem.” Amptenare het in 2006 geskat tot 80 nuwe mense vestig hulle per dag in Diepsloot.
Is daar dan ’n uitweg; sal die toekoms ooit meer rooskleurig lyk vir die mense wat hier in armoede woon?
“Ek is bevrees daar’s nie ’n maklike antwoord nie. Ek sou graag vir jou ’n one-liner wou gee. Almal sê altyd: Is jy optimisties of pessimisties? Ek haat daardie vraag, want ons is altyd ’n kombinasie van albei, is ons nie? Daar is baie dinge aan Diepsloot wat my goed laat voel oor die land, en sommige dinge wat my vreeslik bekommerd gemaak het. Maar die belangrike ding is om te verstaan dat ’n mens die land op die lang termyn moet sien.”
Harber gee ’n laggie, gê-gê-gê, wat hom nog meer laat voorkom soos ’n goedige dominee wat met sy hande inmekaar gevou op ’n sagte manier moeilike konsepte uitlê.
Weens sy voorkoms word hy egter meer dikwels met die vermoorde mynmagnaat Brett Kebble as met die spreekwoordelike dominee verwar.
“Maar mense doen dit slegs een keer, want ek word gewoonlik so kwaad. Ek is al ’n paar keer in die straat voorgekeer. Dan sê ek ek is Brett Kebble.”
Glo jy daardie stories oor wat met my gebeur het? sal hy dan vra om hul been te trek. “Dit maak mense goed deurmekaar,” sê hy. “Wel, stel dit so, ek kan aan beter vergelykings dink, meer gemaklikes.”
Want anders as Kebble het Harber homself nog altyd aan die kant van geregtigheid geskaar. As joernalis in die 1980’s het die staat dikwels sy mond tydens die noodtoestand probeer snoer. Hy het eenmaal in die Sondagkoerant Rapportvertel hy is weens ’n subpoena getroud – sy prokureur het gedink dis die enigste manier hoe Harber se vrou vir hom in die tronk sal kan gaan kuier.
Maak dit hom dan moedeloos dat die geveg om mediavryheid met die voorgestelde wet op die beperking van inligting en media-tribunaal klaarblyklik van voor af begin?
“Kyk, dis beslis teleurstellend dat ons so ’n stryd so vinnig moet begin stry,” sê hy. “Maar aan die ander kant het dit mense weer gemobiliseer om betrokke te raak by die kwessie van mediavryheid.
“Ek dink dis goed. In die oorgangsperiode het ons almal seker probeer maak dat die grondwet en sy instelling wat gevorm is, sterk was. En toe het ons met ons lewe aangegaan, en soos dwase gedink alles sal in die haak wees.
“Wat die afgelope jaar of twee gebeur het, is dat organisasies hermobiliseer het en mense weer oor hierdie sake praat.
“Dis nou vir my duidelik dat dit ’n voortdurende en ’n baie lang – waarskynlik eindelose – stryd gaan wees. Maar dis ’n gesonde een, want dit kan mense laat besef hoe belangrik en waardevol openbare debat is. Ek dink die ANC gaan spyt wees dat hy dit op hierdie manier aan- gehits het.”
As hy nie werk nie, ontspan Harber graag by sy strandhuis in Mosambiek. Of hy luister jazz en speel skaak, dikwels aanlyn teen sy seun, Jesse (21), wat filosofie, politiek en ekonomie aan Oxford studeer.
“Dis ’n ongewone manier om in verbinding te bly,” sê Harber, “Maar die snaakse ding is dat ek dikwels kan agterkom hoe dit met hom gaan in die manier wat hy speel.”
Harber het ook ’n dogter, Georgia (12), met wie hy ’n liefde vir boeke deel. Hy is reeds gretig om aan ’n volgende boek te begin skryf. “Ek is besig om ’n paar idees op te weeg, maar dis te vroeg om daaroor te praat.”
Ons eindig die maal met koffie uit Ethiopië, die land waar hierdie drankie vandaan kom. Swart en soet, in klein ronde koppies sonder ore.
En ek dink aan die aanhaling: “Good communication is as stimulating as black coffee, and just as hard to sleep after.”
- Resensies van Diepsloot deur Sam Mathe, redakteur van The Afropolitan Magazine, en Willem Möller, lid van die destydse Voëlvrybeweging en hoof-subredakteur van die tydskrif YOU, verskyn Maandag op die boekeblad in Beeld.
SPYSKAART Abyssinia, Kensington
Mahbrawi-bord met vleis en groenteR100
Spier Chardonnay x 1 bottelR100
Koffie x 2R20
FooitjieR30
Totaal: R250