Vry om Afrikaner te wees
2009-11-27 22:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
In ’n onlangse toespraak by die Goethe-instituut het Antjie Krog gesê: “It is essential for Afrikaners to invest everything in redefining themselves in a positive and honourable way. It is even more essential that the attempts of Afrikaners are respected and accepted.”
Hierdie ruimte vir ’n eie herdefiniëring, waarvoor Krog pleit, word nie so maklik vir die Afrikaner gegun nie.
Tydens die Roots-konferensie in September het die reëlingskomitee (waarvan Krog ’n lid was) doelbewus tradisionele Afrikaanse organisasies van die reëlings uitgesluit.
Dít ondanks die feit dat Afrikaners ná 1994 (en daarvoor) ’n fenomenale bydrae tot taalontwikkeling, die uitbou van verhoudinge met Nederland en België, die bewaring van sy kulturele erfenis en die aanbied van moedertaalonderwys gelewer het.
By Roots is Afrikaners egter as onderdrukkers van Afrikaans uitgebeeld.
Die regering het ook sy eie pogings om die ná-1994-Afrikaner te probeer definieer.
Binne die konteks van sy eie ideologiese en politieke raamwerk praat die regering van “kolonialiste van ’n spesiale soort” (Mbeki-era) of “die enigste wit stam van Afrika” (die Zuma-era). Ondanks verskillende definiëring is die twee-nasies-ideologie nog die basiese aanname vir hul verhouding met die Afrikaner: een deel van die nasie is wit en ryk, en die ander deel swart en arm.
Die praktiese toepassing van dié ideologie is duidelik. Dit is die snelle verryking van die swart elite, swart bemagtigingsprogramme, die ontplooiing van die kaderbeleid, regstellende aksie en ideologies gedrewe transformasie.
Die Afrikaner word as minderheidsgroep gemarginaliseer en verneder, verdag gemaak, as politieke slaansak gebruik en na willekeur as sondebokke uitgesnuffel.
Sommige mense is so oorweldig deur ’n aanhoudende skuldgevoel oor die verlede dat hulle na allerlei maniere soek om nog ’n bietjie verder politiek korrek agteroor te buig.
Hoewel die Afrikaner maar min ruimte gegun word, kan minstens drie groepe Afrikaners onderskei word wat besig is met ’n proses van herdefiniëring.
(Hiermee word nie alle Afrikaners geklassifiseer nie.
Dit wil bloot wys op die realiteit van herdefiniëring wat op minstens drie vlakke aan die gang is.)
1. VERARMDE AFRIKANERS
In 1998 was slegs 2% van die wit gemeenskap arm.
Die jongste navorsing toon 46% van die Afrikaanse gemeenskap kan nie ’n huis van meer as R200 000 bekostig nie.
Onafhanklike navorsing toon 131 000 arm wit gesinne benodig ’n HOP-huis.
Hulle woon in tente, sinkhuise, Wendyhuise en woonwaens.
Die Tshwane-metroraad het sedert 2000 net twee HOP-huise aan arm wit gesinne gegee.
Weens regstellende aksie het werkloosheid onder wittes met 150% toegeneem.
In Pretoria alleen het wit plakkerskampe in ses maande van 38 tot 77 toegeneem.
’n Nuwe geslag arm Afrikaner-kinders word in sulke kampe groot.
Die meeste is ongeletterd, voltooi nie hul skoolopleiding nie en is aan die ergste vorme van morele verval, seksuele misbruik en misdaad blootgestel.
Hierdie groep Afrikaners definieer hulself op verskillende maniere.
Hulle sal maklik sê “soort soek soort”.
Dit het niks met rassisme te make nie, maar eerder met die feit dat taal- en kultuurverskille selfs in armoede nie so maklik verdwyn nie.
Tog is dié groep meer pragmaties in die hantering van hul oorlewingsprobleme.
Verarmde Afrikanervroue wat ’n sopkombuis bedryf, sal ook van hul kos met verarmde swart mense in die gemeenskap deel.
By dié groep is daar minder bitterheid as wat ’n mens verwag, maar wel ’n gevoel van totale isolasie.
Hulle sê maklik dit voel asof hulle “vergeet is”.
Dit is ook die groep wat soek na aanvaarding deur hulself te probeer bewys.
Baie het ’n duidelike drang om te kommunikeer: “Armoede bepaal nie ons menswees nie” en “Ons is nie sleg omdat ons arm is nie”.
2. GELOUTERDE MIDDELKLAS
Dit is die Afrikaner-gesinne waar Pa en Ma voldag moet werk om kop bo water te hou, terwyl hulle deur misdaad geteiken word, want “wit mense is ryk”.
Dit is die eensame ouers wie se kinders en kleinkinders die land verlaat.
Die pa beleef die frustrasie van ’n glasplafon van transformasie by die werk.
Die pa verloor sy werk weens regstellende aksie en werp alles in die stryd om die huis te behou.
Die gesin versorg vir Ouma en Oupa, want dié kan nie ’n ander heenkome bekostig nie.
Hul mediese en pensioenvoorsiening is onder druk.
Hulle oorleef op skuld en probeer om binne die realiteite van die onderste twee vlakke van Maslow se piramide (fisiologiese en veiligheidsbehoeftes) te oorleef.
3. NUWE GESLAG AFRIKANERS
Dit gaan hier oor die kinders van die gelouterde middelklas.
Vir hulle is gister ’n vreemde land.
Hulle is wêreldburgers deur die internet en globalisering.
Aan die ander kant wil hulle behoort (die derde vlak van die Maslow-piramide).
Hulle sing “De la Rey” en skree vir Bafana Bafana.
Hulle besef geld kom nie maklik nie, Pa en Ma moet hard werk, maar die jong mens moet nóg harder werk en nóg beter presteer om net werk te kry.
Vir 84% jong Afrikaners is opleiding ná matriek nie vanselfsprekend nie.
Hulle is ná 1994 gebore, maar is slagoffers van diskriminerende transformasie-beleide.
Hierdie geslag voel hulle word van hul toekoms beroof.
HERDENKING SE BYDRAE
Dit is maklik om dié groepe se louteringsproses te ontken, te rasionaliseer, weg te redeneer, te maak asof dit nie so erg is nie.
Die feit bly: Iewers in die proses soek gelouterde Afrikaners antwoorde vir hul pyn, frustrasies, woede en bekommernisse.
Sonder die ou magsvertoon en -aansprake is gelouterde Afrikaners besig om hul identiteit binne ’n Christelike demokratiese raamwerk te herdefinieer.
Dit gebeur op twee maniere: Hulle gryp op nuwe maniere terug na hul geloofsbasis (geen wonder Angus Buchan het al een uit elke vier Afrikanermans toegespreek nie), en daar is ook ’n nuwe identifisering met die Afrikaner se kultuur en geskiedenis.
Die proses van Afrikaners se herdefiniëring word veral gesien in drie herdenkingsgebeurtenisse, almal verlede maand:
Tydens die 110-jarige herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog kom 600 mense die Sondag om 05:30 stil-stil by die Irene-konsentrasiekamp bymekaar om hulde te bring aan die 1?300 Afrikanervroue en -kinders wat in dié kamp dood is.
Vir die 70ste herdenking van die 1939-Reddingsdaadkongres het kerkleiers, kultuurleiers, sakeleiers en lede van 66 organisasies landwyd byeengekom om saam te dink oor Afrikanerarmoede.
Dit was nie ’n volksromantiese terugkyk na die verlede of ’n idealistiese vooruitkyk na die toekoms nie.
Dit was ’n realistiese rondom-ons-kyk na die nuwe, stille Afrikanerarmoede, met oplossings wat dit as deel van die Suid-Afrikaanse armoedevraagstuk wil aanpak.
Die opening van die SAW-gedenkmuur was nie ’n Afrikanerbyeenkoms nie, maar ’n geleentheid waar Afrikaners saam met ander bevolkingsgroepe hulde gebring het aan soldate wat tussen 1961 en 1994 die hoogste offer gebring het.
Op ’n dieper vlak is die boodskap duidelik: Dié tydperk is dalk vir sommige ’n ongewilde stuk geskiedenis, maar dit word nie vergeet of geïgnoreer nie. Daar is ook baie waarop ons trots kan wees.
LUTHER SE LES
Goethe se volksgenoot, Martin Luther, help Afrikaners om die proses van herdefiniëring beter te verstaan.
Die jong Luther het as Duitser ’n identiteitskrisis beleef vanweë die magtige Rooms-Katolieke kerk wat reg oor Europa ’n eie volksidentiteit onderdruk het.
Luther het nie net teen die Roomse leer in opstand gekom nie, maar ook teen die Roomse identiteitsonderdrukking.
Dit word veral gesien in Luther se strewe om die Latynse Bybel in Duits te vertaal.
Deur die Bybel vir Duitsers in hul eie taal te gee, het hy ’n ruimte geskep waarin die gewone Duitse werker in ’n taal wat hy verstaan sy identiteit aan die hand van Bybelse beginsels kon ontdek.
Geloof maak ’n mens vry om jou identiteit sonder skuldgevoelens en etikettering uit te leef, maar selfs volksidentiteit is ondergeskik aan die Bybel en moet volgens Bybelse beginsels kan hervorm.
Goethe het die taal-en-identiteitsruimte wat Luther geskep het, jare later as skrywer en digter aangegryp om Duitsers se kultuurhistoriese erfenis te herdefinieer.
Daarmee het Goethe ook ’n nuwe momentum gegee aan die ontwikkeling van die Duitse volks- en taalidentiteit.
ONS HET ’N ROEPING HIER
Treetjie vir treetjie is die Afrikaner besig met selfdefiniëring vanuit ’n interne lokus.
Gelouterde Afrikaners sê toenemend met groter selfvertroue: Ons is steeds hier!
Ons het ’n roeping hier.
Ons kinders moet ’n toekoms hier hê.
Ons het ’n hart vir mense se nood.
Ons is vry om nie net ons Suid-Afrika-identiteit of taalidentiteit uit te leef nie, maar ook vry om Afrikaner in Afrika te wees.
’n Suksesvolle Suid-Afrika is vir die oorlewing van die Afrikaner in Afrika nodig.
Dit is histories bewys dit is juis gelouterde Afrikaners wat hard sal werk om Suid-Afrika te láát werk.
Of daar hiervoor ruimte, aanvaarding en respek gaan wees, bly ’n ope vraag.
Dr. Danie Langner is uitvoerende direkteur van Solidariteit se Helpende Hand-fonds.