Wié se Afrikaans?
2012-02-03 22:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Danny Titus bestel ’n salmslaai en rooibostee. As diabeteslyer prik hy die afgelope 15 jaar daagliks ’n vinger om sy bloedsuikervlakke te toets, en hy let streng op sy dieet. Net soms gun hy homself ’n soet poeding.
Ons ontmoet sommer by die Mugg & Bean in ’n winkelsentrum – daar’s nie op ’n weeksdag tyd vir uitspan met drie gange en gestyfde tafeldoeke nie.
Hy dra ’n langbroek en gestreepte kortmouhemp. Bo ’n kortgeknipte sout-en-peper-snor vonkel laggende oë agter ’n raamlose bril.
Vanoggend sou hy, soos elke oggend, geskryf het in sy morning pages, soos Julia Cameron dit in haar boek The Artist’s Way noem – daardie blaaie waar ’n mens jou gedagtes, idees en worstelinge kreatief verwoord om jou op koers te hou.
Danny, die ATKV se uitvoerende direkteur van kultuur en ’n deeltydse kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, is die laaste ruk in die briewekolomme van koerante daarvan beskuldig dat hy die “kleurstorie” kort-kort “soos ’n martelaarsmantel” dra. Hy “probeer wit Afrikaanssprekendes op hul plek sit”, “vervreem vele Afrikaners wat kleurblind is” en “berokken Afrikaans groot skade”, meen dié kritici wanneer hy ras telkens betrek by debatte oor taal, kultuur en identiteit.
Dit is nie die eerste keer dat hy oor sy menings in ’n relletjie beland nie, maar die tongloesings tref nie waar dit seermaak nie. Twis is goed, kritiek ook, meen hy. Ten minste beteken dit daar’s gesprek.
“Ons praat hopeloos te min met mekaar in Suid-Afrika, en ons ken mekaar nie eintlik nie,” sê hy, min gesteur oor die gif wat in sy rigting geslinger word.
Hy was nog nooit bang om met ander te verskil nie – selfs wanneer sy stem teen ’n koor moet opklink. Terwyl kampvegters vir die beskerming van Afrikaans en ander inheemse tale hul stem die afgelope twee weke dik gemaak het oor die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale en gesê het dié wetgewing sal tot die verengelsing van die regering lei, het Danny om die aanvaarding van dié omstrede wet gepleit.
Waar belangegroepe besorg is die wetsontwerp sal veeltaligheid ondermyn en Afrikaans se status as amptelike taal in die gedrang bring, meen Danny die “verdagmaking” van die wetsontwerp en ’n verdere gesloer is teenproduktief, en daar moet eerder gesoek word na ’n “kompromie om die proses aan te help” om ’n taalbeleid te finaliseer.
Anders as die taalbulle wat vrees die (graf)skrif is vir Afrikaans aan die muur, meen Danny daar is eerder ander uitdagings wat voorlê. “Ek is nie krampagtig oor die toekoms van Afrikaans nie,” erken hy.
Hy wil die debat eerder verskuif na ’n ander vraag: Hoe kan ons die taal meer inklusief maak?
“Die vrees (dat die taal sal uitsterf) is – miskien geregverdig – nog sterk in wit mense se koppe, maar dis tyd om die verskeidenheid in die taal te laat gedy. Mense weet nie van die Afrikaans wat in bruin en swart gebiede gepraat word nie, dis iets wat gemarginaliseer en geïgnoreer word.”
Daarom vra hy op sy Facebook-blad: “Wie se Afrikaans?”
Die taal behoort tog nie net aan een groep nie, en sy toekoms sal nie net bepaal word deur die uiteinde van die taaldebat aan die Universiteit Stellenbosch nie.
Die vraag, sê Danny, moet eerder wees: “Hoe kan ons Afrikaans verder uitbou in bruin gemeenskappe?”
Hy vertel van ’n swart onderwyser en sy vrou wat op kollege tussen Afrikaans en Suid-Sotho moes kies.
Net enkele studente het Afrikaans gekies, maar omdat dié dosent die taal so lewendig aangebied het, het al die studente ná die eerste kwartaal na Afrikaans oorgeskakel.
Die taal moet lewendig gemaak en gehou word, maar dit kan nooit net een ding wees nie, glo hy – daarvoor het dit te veel dimensies. Sy missie by die ATKV is juis deels “om ruimte te gee aan ander variasies van die taal, soos die Afrikaans waar ek vandaan kom – om dit ook in die hoofstroom in te bring en te laat erken”.
Hy neem ’n slukkie tee. “Apartheid is afgebreek, en hier waar ons mekaar nou om die tafel ontmoet, is ’n nuwe geleentheid. Daar is duisende bruin mense, Khoi-Khoi en Moslems, wat Afrikaans praat, maar daar word nie met hulle gepraat nie.”
Hoekom, vra hy, word die taaldebat so dikwels deur wit stemme en wit behoeftes oorheers? Wat van die bruin stem; bruin behoeftes?
“Ons sal harder moet werk om die verskillende Afrikaanssprekende gemeenskappe, die swart Afrikaanssprekendes en die Indiër-Afrikaanssprekendes inkluis, by mekaar uit te bring.”
Die “kleurstorie” waarvan hy beskuldig word, is nie nuut nie. Nadat Danny koerantredakteurs twee jaar gelede op Aardklop daarvan beskuldig het dat bruin mense nie genoeg dekking in die Afrikaanse media kry nie, is hy ’n maandelikse rubriek in Beeld aangebied waarin hy dié kwessie sou aanroer.
Maar steeds meen Danny bruin mense word nie genoeg gehoor en gesien nie, en dié marginalisering is te lank deur die groep geïnternaliseer.
“Die Afrikaner laat hom nie van stryk bring nie; hy gaan voort om sy kulturele identiteit uit te bou. Die Indiërs het Indiërs gebly. Die swart persepsie is: black in general and African in particular. Almal gaan aan met hul eie unieke kulturele praktyke, behalwe die bruin mense.”
Tog glo hy bruin identiteit begin sigself uiteindelik meer, en met meer selfvertroue, vestig. “Bruin mense begin toenemend opkom vir hul identiteit, hul herkoms en hul deelname aan die nasionale bestel. Hulle begin met trots verwys na hul gemengde identiteit, of na hul Khoi-, San- of slawe-herkoms, hul Europese en Afrika-herkoms.”
Dié selfvertroue sal help dat dié groep “in die hoofstroom inkom”, sê hy. “Bruin mense hoort nie meer op die kantlyn nie.”
Maar waarom verskille eerder as ooreenkomste beklemtoon?
“Mense vra my: ‘Is jy nie besig met ’n nuwe AWB-soort afstigting nie?’ Nee, ek soek nie ’n eksklusiewe groepie nie. Bruin mense is bloedfamilie van wit, swart en Indiër, en dit maak hulle uniek. Dit skep ’n nuwe soort toekoms vir hierdie land as ons mekaar aanvaar as bloed- familie. Die Hollanders het ’n gesegde: ‘Sing ’n deuntjie laer, nie daar bo nie.’ Vind mekaar op ’n heelwat laer vlak as daar bo in die hogere gestoeltes; op die vlak van gewone mense.”
Daarom bekommer dit hom wanneer in die Afrikaanse media en deur Afrikaanse belangegroepe soveel klem gelê word op die worstelinge van spesifiek die Afrikaner. “Ons is bekommerd oor die fokus wat uitsluitlik op die Afrikaner is. Ja, ons moet hoor dat daar wit Afrikaners is wat nie werk kry nie. Dis nie ideologie nie, Afrikaner-armoede en -plakkerskampe is werklikhede.”
Maar, sê hy, daar word soms vergeet dat die kwessies wat Afrikaners herhaaldelik oprakel, vir ander problematies is.
“Ek kan nie saamstem dat die bosoorlog, dienspligjare en die era van die totale aanslag my era was nie. Vir my was dit die toppunt van rassisme toe die weermag ingespan is om mense te onderdruk.”
Ook dié geskiedenis is immers deel van die Afrikaanse verhaal.
Danny se ouers, albei onderwysers, het destyds geglo hul kinders moet “beter doen” as hulle.
Lees was belangrik en godsdiens prioriteit nommer een. Op Sondagmiddae het die gesin met Ma se klavierbegeleiding samesang gehou, en in die week het Pa elke aand ná aandete ’n Bybelvasvra gelei.
Danny het sy LLB-graad in die regte in die vroeë tagtigerjare aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal en is in 1983 as advokaat in die hooggeregshof van Suid-Afrika toegelaat.
“Ek het regte gaan studeer omdat dit my die geleentheid sou bied om die onregte van apartheid en die omstandighede van my gemeenskap te kon aanspreek,” onthou hy.
Van 1983 tot 1987 is hy egter in Tembisa se howe in Kempton Park “weggesteek”, sê hy.
“Dit was ’n sonde om bruin mense in wit howe te laat werk of om wit mense aan te kla.”
In 1987 is hy landuit saam met sy vrou, Lynda, en die oudste van hul twee dogters, toe ses maande, om in Nederland te gaan studeer. Dit was waar hy “die eerste keer kennis gemaak het met menseregte” en waar hy die ideaal van ’n inklusiewe samelewing teëgekom het. “Om in ’n vry land te kon woon; om in ’n kerk in te gaan en niemand stap uit die kerk nie en jy kan die bediening saam met almal geniet ...”
Hy het sy doktorsgraad in die regte in 1993 aan die Universiteit van Leiden behaal – sy proefskrif het gegaan oor die toepaslikheid van internasionale menseregtenorme in die Suid-Afrikaanse regstelsel.
Vandag glo hy juis die toekoms van ons land sal bepaal word deur of ons menseregte respekteer al dan nie – nie slegs daardie regte van een groep nie, maar die regte van álmal.
“Ons moet verskeidenheid respekteer en aanvaar dat ons verskille het en dit nie onder die tafel wegsteek nie. Die uitdaging is om daardie verskille te bestuur en om dit te doen soos Mandela dit gedoen het.”
Eendag, miskien oor vyf jaar, wil hy oorsee gaan werk. Die diplomatieke diens is ’n trekpleister, miskien in Nederland of Switserland. Want selfs al sukkel soveel Suid-Afrikaners nog om hul plek in die land te vind – of die plek van ander te erken – kan geen taal of groep meer vir ons grense trek nie. “Daar’s ’n nuwe benadering by die ATKV wat sê ons is wêreldburgers. As Afrikaanssprekendes is ons ook deel van die wêreld – en die wêreld is deel van ons.”
SPYSKAART
Mugg & Bean, Clearwater-sentrum
Salmslaai x 1R74,90
Bieflasagna x 1R65,90
Rooibostee x 1R25,00
Filterkoffie x 1R27,50
Stil water x 1R25,00
Totaal: R218,30