’n Rocker in die raadsaal
2012-02-18 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Daar’s ’n verskil tussen die mites oor musiek maak en die werklikheid. Waar tequila, gewillige blondines en laat nagte in eersgenoemde kamp val, is laasgenoemde dikwels die plek vir Excel, rekenmeesters en vergaderings. Vra maar vir Pierre Greeff, voorsanger van die groep Die Heuwels Fantasties, skryf ILZA ROGGEBAND.
Om ’n rock-ster te wees, is nie aldag rock ’n roll nie. Die boeke moet klop, Jan Taks moet op ’n veilige afstand gehou word, en soms kom oggendvergaderings kort nadat die laaste note van die vorige aand se optrede weggesterf het.
As jy jou eie platemaatskappy het, is daar altyd ’n morning after the night before – wat help dit jy kuier tot ounag met aanhangers wat jou verafgod en groupies wat hul flikkers gooi as jy ligdag vir die rekenmeester moet verduidelik jy’t die wins vir Jägermeisters en tequila gebruik? ’n Babelas hoort nie in die boardroom nie.
Tog is dit nie elke man wat sy eie onderneming besit wat oor die middaguur op ’n weeksdag ’n Castle Lite – nee, drie – en ’n Savanna kan bestel nie.
Wanneer die voorsanger van die gewilde musiekgroep Die Heuwels Fantasties instap by die deur van Van Hunks in Kaapstad, lyk hy meer soos ’n musikant as ’n sakeman aan die stuur van sy eie maatskappy. Sy lang, lenige lyf het iets van ’n swagger, en hy dra ’n T-hemp, kortbroek en tekkies.
Sy liggroen Vespa – ek hoor later die kleur is eintlik baccarat – is “old school”, sê hy. “Ek wou nie ’n nuwe een gehad het nie. Ek hou van die handratte.”
Wanneer hy die valhelm van sy kop haal, vervang hy dit dadelik met ’n swart pet.
Meer as 30 000 eksemplare van die groep se jongste CD, Wilder as die wildtuin, is al verkoop (dit het sogenaamde goue status gehaal), en hul nuwe album sal teen Oktober uitgereik word.
Teen April tref hul akoestiese album van VanFokKingTasties ook die rak. Dié is ’n samewerking tussen die groepe Van Coke Kartel, Fokofpolisiekar, aKing en Die Heuwels Fantasties (DHF), Bellville se beste musiekuitvoerprodukte. Daar is soveel oorvleueling tussen dié groepe, ’n mens moet byna ’n organogram opstel om kop te hou van wie in watter groep speel.
“Mense praat graag oor iets wat in die water was toe ons grootgeword het, maar musiek is maar net wat ons gedoen het,” sê Pierre, wat voorheen ook gesing het vir die groep Lukraaketaar. “Johnny de Ridder (van Fokofpolisiekar en aKing) het my leer kitaar speel toe ek vyftien was. Frannie (Francois van Coke van Fokof-polisiekar en Van Coke Kartel) en ek is kleinneefs.”
Pierre het geen formele musiekopleiding nie en die naaste wat hy aan koorsing gekom het, was toe hy deel van die Hoërskool D.F. Malan se opvoering van The Little Shop of Horrors was. “Ek was die stem van die plant Audrey en Kobus van Heerden (van die groep Jax Panic) was die tandarts. Ek en Kobus ken mekaar al vandat ons drie jaar oud is.”
Jare later is die verstrengeling tussen die kinders van Bellville steeds daar. “Ons hits mekaar aan,” sê Pierre. “Ons het vriendskappe daardie tyd gesmee wat ’n leeftyd gaan hou. Almal van ons wil iets met ons musiek bereik. Ons lê nie rond en wag vir goed om te gebeur nie.”
Dis juis dié ambisie wat gesorg het dat die gedrewe Pierre homself op die ouderdom van 28 reeds ’n platebaas kan noem. Hy en die kitaarspeler en liriekskrywer Hunter Kennedy (van die groepe DHF, Fokofpolisiekar en aKing) het die platemaatskappy Supra Familias in 2008 begin, en sedertdien saam verskeie albums uitgereik.
Benewens die CD’s van Die Heuwels Fantasties was hulle ook verantwoordelik vir Jack Parow se eerste album (dié het platinum, oftewel verkope van 40 000 eksemplare, gehaal), en Van Coke Kartel se splinternuwe CD Wie’s bang.
Tussendeur het hulle groepe soos Ashtray Electric en Thieve se CD’s uitgereik, die temalied vir Nasionale Braaidag geskryf, tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Nieu-Seeland gaan optree, geopen vir die internasionale groep Kings of Leon en die byna ongekende vir ’n alternatiewe musiekgroep reggekry: by Skouspel opgetree. Hier het die groep se vierstuks ewe sedig in wit klere hul treffer “Klein Tambotieboom” gesing, en ook “Wonder bo wonder”, hul duet saam met Coenie de Villiers.
Wanneer musikante uit die meer alternatiewe genre hul pad na kommersiële sukses vind, word hulle dikwels uitgekryt as sell-outs – pla dit Pierre?
“Ons sou nooit Skouspel gedoen het as ons nie geweet het dit gaan ons musiek na ’n wyer gehoor bring nie,” sê hy reguit. “Om ’n kans te kry om ’n liedjie soos ‘Klein Tambotieboom’ saam met ’n volle simfonieorkes te doen, kom nie aldag verby nie.”
Pierre se lewe het eers ’n draai geloop voordat hy agter die mikrofoon beland het, maar dit verduidelik waarskynlik waar die sakebrein agter die baard en wilde hare vandaan kom.
Hy het ná matriek, wat hy met ’n A-simbool geslaag het (“akademiese erekleure en al daai s**t”), bestuursrekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer. Ná sy graad is hy na The Red & Yellow School in Kaapstad vir ’n kursus in bemarking. “Ek het in my hele lewe nog nooit ’n vak gedruip nie,” sê hy. “Ek het nooit huiswerk by die huis gedoen nie, altyd in skooltyd. Dit was vir my logies. As jy twee-uur klaarmaak met skool, kan jy die hele middag doen wat jý wil.”
Op skool het hy WP-kleure in gholf verwerf, maar op 19 het hy ophou speel. Verlede jaar het hy weer die stokke opgetel. “Ek probeer twee keer per week speel en my voorgee is nou ses.”
Ná sy studies het hy vir Red Bull gewerk, maar drie en ’n half jaar gelede het hy musiek sy lewe gemaak en Supra Familias begin. “Dis natuurlik ’n groot voordeel dat ons Heuwels se eie platemaatskappy is – niemand kan vir ons voorskryf wat ons moet doen nie. Ons kan byvoorbeeld meer video’s maak, meer geld bestee aan ons CD-verpakking en ander bemarking.”
Die graad in bemarking het gehelp. “Die musiekwêreld het baie verander. Jy moet jou aanhangers heeltyd iets nuuts gee, en hoe meer hoe beter. Mense wat sukses in musiek behaal, is mense wat uniek is – jy verwar byvoorbeeld nie vir Theuns Jordaan met iemand anders nie.”
(Sy eie gunsteling- Afrikaanse CD is Lucas Maree se Kiekieskonsert. “Ek het al soveel daarvan gekoop, want ek gee dit altyd weg vir ander mense om ook te hoor.”)
Dis nie waar dat minder kommersiële musikante noodwendig ’n sukkelbestaan voer nie. “Ja,” sê Pierre, “ons maak genoeg geld sodat almal in die band ’n lewe maak. Ons is vier musikante en het ons eie klankingenieur, en as mense kla oor die (optree-)tarief, sê ek: ‘Dude, kry dan vir jou iemand anders wat die musiek maak wat ons maak...’”
Maar om die pot aan die kook te hou moet dit soos enige ander onderneming werk. “Ons het ouditeure en ons betaal belasting en ons hou vergaderings. My studies is ’n goeie basis en ek is nogal handig met Excel.”
En sy samewerking met Hunter? “Ons deel die verantwoordelikhede in die platemaatskappy, en ook in die band het elke ou sy eie verantwoordelikhede.”
Dis nie ’n geval van rondsit in ateljees en eindelose sigarette rook terwyl jy wag vir die muse om te kom aanmeld nie. “Hierdie is ons beroep. Ons blok tyd uit wanneer ons net aan DHF werk. Ek dink nie mense besef hoe hard ons werk nie. Jy hou nie naweek wanneer ander mense naweek hou nie. Hulle dink jy is net 40 minute op die verhoog, maar om daar te kom, moet baie dinge gebeur. Daar is reis en onderhoude en oefen. Dis relentless ure. Jy klok nie in en uit nie – jy werk die hele tyd.”
Hoewel jong musikante dikwels aangeraai word om hul heil in Johannesburg te gaan soek, sê Pierre hy sal die Kaap nooit vir die Goudstad verruil nie.
“Ek sien die 50 of 60 vlugte wat ons elke jaar neem as mountain tax. Ek bly in ’n deel van Tamboerskloof waar die wind amper nooit waai nie en die kinders speel nog in die strate. Wanneer ons in die stad kuier, kos ’n taxi nooit meer as R40 nie. Hoekom sal ek trek?”
In Januarie het Pierre verloof geraak aan Jani Coetzee, assistent-redakteur van die tydskrif National Geographic Kids, nadat hulle vroeër opgebreek en eers daardie aand weer bymekaar gekom het. Die twee het mekaar ontmoet toe hulle 20 was.
Hoekom trou die jong rockers skielik op ’n streep? Eers Wynand Myburgh en Francois van Coke van Van Coke Kartel, en nou Pierre. Raak hulle rustig, word hulle oud? “Ek weet nie van die timing nie. Ek weet net as jy iemand kry wat goed is, maak dit sin om te trou.”
En vorentoe? Wat sal die rocker doen as iemand soos Kurt Darren vir hom vra om vir hom ’n liedjie te skryf? Iemand van die ander kant van die musiekspektrum?
“Ek hou van Kurt. Maar totdat dit gebeur, kan ek seker nie sê of ek dit sal doen nie. Dalk sien ek dit as ’n uitdaging. Dit hang natuurlik ook af van wat die brief is. Dalk soek hy iets anders. Ja, hoekom dan nie?”