’n Roerende chaos

2011-05-14 06:01

Geen romansier sou Sinclair Beiles en sy (verifieerbaar!) merkwaardige lewensverhaal kon versin nie. Foto: LYDIA HERBST

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Indien jy wil weet hoe jy in die laaste dekade verander het, hoef jy net ’n boek of ’n gedig te lees waarvan jy tien jaar gelede gehou het. Só het ek agtergekom vele literêre helde het intussen saam met my jeugdige romantiek en boheemse versugtinge gesneuwel.

Onder hierdie dooie ikone tel die meeste skrywers van die Beat-generasie wat die wêreld- letterkunde in die 1950’s onherroeplik verander en die deure afgeskop het vir die kontra- kulturele revolusie van die 1960’s.

Die onverkwiklike mengsel van selfverheerliking en selfbejammering in Allen Ginsberg gril my deesdae. Met die “angelheaded hipsters burning for the ancient heavenly connection to the starry dynamo in the machinery of night” van sy beroemde epiese gedig “Howl” (1956) kan jy my jaag. Dit klink nou vir my na ’n oorskatte, mistifiserende voetnoot tot Walt Whitman en ’n idealiserende beskrywing van pretensieuse daggarokers wat vrot verse skryf terwyl hulle op ander se nekke lê.

Jack Kerouac se On the Road (1957) het my ook met die herlees irriteer. En ek is nie alleen nie. In hul maandelikse “Best and Worst of”-rubriek het die Britse musiek-en-popkultuurtydskrif Word Dean Moriarty onlangs as een van die mees oncharismatiese antihelde ooit aangewys met dié kommentaar: “Very ‘of its time.’ While the contemporary reader would take Sal Paradise’s bad-influence mate as a star-crossed visionary who was too beautiful for this world, today we’d see him as a bit of a dick, really.”
William Burroughs vind ek steeds formidabel, maar ek het geen behoefte om weer tyd met die pratende anusse of kannibalistiese tikmasjiene in sy grensverskuiwende roman Naked Lunch (1959) deur te bring nie.

Dit is hierdie wegkeer van die Beats en my vroeëre romantiese self wat my daarvan weerhou het om ondersoek in te stel na Sinclair Beiles, wat volgens sy aanhangers die groot miskende Suid-Afrikaanse Beat-digter was.

Who is Sinclair Beiles? (2009), saamgestel deur Gary Cummiskey en Eve Kowalska, het my egter laat besef dit was ’n fout. In Beiles se onderhoude met Cummiskey, Dawie Malan en Earle Holmes maak ’n mens kennis met ’n karakter wat g’n romansier kon versin nie. Daaruit blyk ook dat Beiles ’n geil verbeelding en ’n los greep op die werklikheid gehad het.

Of hy werklik in Ma- rokko genader is om ene Pearson in die Malabata-tronk te ondervra oor juwele wat dié vermeende bedrieër by die Oppenheimers gesteel het, is vraaglik. Ek wonder ook of sy oupa regtig in Kiëf daarvan beskuldig is dat hy ’n baba vermoor het om die suigeling se bloed met die ongesuurde brode vir Paasfees te meng. En sou die “vermoënde” Uys Krige, met wie hy glo dik bevriend in Londen was, hom werklik in 1950 ’n klomp geld gegee het om Spanje toe te gaan?

Beiles was immers ook sielsiek. Grenstipe-persoonlikheid is in die 70’s by hom gediagnoseer, asook bipolêre versteuring, en hy is in psigiatriese inrigtings in verskeie lande opgeneem. In ’n gesprek met Cummiskey beweer hy egter hy het bloot in sulke inrigtings tyd deurgebring om te ontspan, en hy is nou moeg vir mense wat ’n bohaai oor sy kastige geestesversteurings maak.

Hoe dit ook al sy, uit die portrette van hom, deur onder andere Fred de Vries, Alan Finlay, George Dillon Slater, Cummiskey en Malan, blyk duidelik dat Beiles ’n verifieerbaar merkwaardige lewe gelei het. Hy is werklik in Kampala, Uganda, gebore op 17 September 1930. Nadat hy aan Wits in Johannesburg letterkunde en antropologie gestudeer het, het hy ook regtig die wêreld platgereis.

Tydens sy verblyf in plekke soos Parys, Athene, Londen en Marokko het hy inderdaad in die dampkring van groot kreatiewe geeste beweeg – op die Griekse eiland Hydra het hy skouers geskuur met Leonard Cohen, in Londen het hy blykbaar gereeld skaak gespeel met die latere Nobelpryswenner vir letterkunde Elias Canetti en in Tangiers het hy vir Burroughs ontmoet.

Beiles het ook werklik in 1958 uitgespoel in die smerige Parys-hotel by Rue Gît-le-Coeur 9, die berugte Beat Hotel. In Parys het hy onder die skuilnaam Wu Wu Ming ’n pornografiese roman, Houses of Joy (1958), by Olympia Press uitgegee en is hy saam met Burroughs, Brion Gysin en Gregory Corso opgeneem in die legendariese boekie Minutes to Go (1960) – ’n bloemlesing wat bestaan het uit cut up-gedigte (verse wat aanmekaar gelas is uit die versnipperde tekste van verskillende ander digters).

Olympia het hom in dié tyd as uitgewersredakteur aangestel en hy het ’n sleutelrol in die redigering, of liewer krisisbestuur en ontwarring, van Burroughs se Naked Lunch gespeel. Beiles het uiteindelik met ’n eenvoudige oplossing vorendag gekom vir die warboel van skryfwerk wat na die drukker gestuur is. Die lukrake volgorde waarin die bladproewe gelê het, was die regte een, het Beiles verklaar.

Burroughs moes net ’n nawoord skryf waarin hy verduidelik die boek kan in enige volgorde gelees word. Nie lank daarna nie was Burroughs ’n kultusfiguur.

Maar wat van Beiles se poësie?

Burroughs het sy digkuns geprys: “The poetry of Sinclair Beiles is distinguished and long-distilled; its unexpected, striking images bring a flash of surprised recognition. These poems open slowly in your mind, like Japanese paper flowers in water.”
Beiles het in 1969 vir Ashes of Experience die Ingrid Jonker-prys gewen, maar ek is nie so seker of ek met Burroughs saamstem nie. Hoe gedistilleerd kan die verse wees van ’n man wat, soos Dawie Malan verduidelik, selde weer getorring het aan enigiets wat uit sy tikmasjien gekom het?

Die enigste taamlik prominente keur van Beiles se moeilik bekombare poësie is deur Nanos Valaoritis versamel in A South African Abroad (1991), ’n slanke bundel wat my met gemengde gevoelens laat.

Daar is weliswaar aangrypende gedigte in, soos “Terrible Dreams”, maar ook vreemde, onbeholpe rymelarye soos “Paris”, ’n vers wat eindig met “old man in office all aplomb / in your heart an atom bomb.”

Beiles, wat ook verskeie toneelstukke geskryf het en massas ongepubliseerde verse nagelaat het, meen egter Valaoritis het hoegenaamd nie sy beste werk versamel nie.

Ek het gaan kers opsteek by die Nederlandse skrywer en joernalis Fred de Vries wat werk aan ’n Beiles-biografie en sy voetspore reg oor die wêreld nageloop het. Is Beiles werklik skandalig misken deur die Suid-Afrikaanse letterkunde, of is hy eerder ’n mindere digter met ’n ongeloof- like lewensverhaal?

“Miskien ’n bietjie van albei,” antwoord De Vries. “Daar is wel uitstekende poësie in Ashes of Experience, Deliria (1971), Tales (1972) en Sacred Fix (1975), maar Beiles was ook iemand wat geen selfsensuur toegepas het nie en nie geweet het wanneer om op te hou nie. Hy was ’n slegte beoordelaar van sy eie werk en wou nie na ander se raad luister nie.”

Hoekom het hy, ondanks sy beroemde kennisse, so obskuur gebly?

“Aanvanklik (in Parys en Griekeland) was hy die regte man op die regte plek, maar in Londen het hy in die 70’s tred met die tydsgees begin verloor. Terug in die Johannesburg van die laat 70’s was almal ingestel op struggle-kuns en niemand, behalwe ’n paar inwoners van Yeoville, was geïnteresseerd in die ‘mal ou man’ wat surrealistiese, apolitiese poësie en dramas skryf nie.

Hy het ook nooit lank genoeg êrens gebly om sy merk te maak nie. Hy was die tipiese wandelende Jood, wat buitendien nie vreeslik daarin belang gestel het om dit ‘te maak’ nie. Hy was ook een van die laaste ware vrygeeste wat geleef het van sy kuns (en die gunste en gawes van sy ma en vrygewige minnaresse); ’n groot laterale denker met ’n wonderlik sardoniese sin vir humor.”

En Beiles se humorsin ís ’n plesier. As Cummiskey hom in 1994 in Yeoville vra of hy bly is oor die erkenning wat hy met die publikasie A South African Abroad gekry het, antwoord hy: “Ek skryf gedigte wat my vriende bewonder en diegene wat daarvan hou. Maar erkenning is nie iets wat ek verstaan nie – miskien kan jy my ’n definisie gee? Erkenning is dalk waarna ’n gholfspeler streef, maar ek is nie ’n gholfspeler nie.”

Die Amerikaanse skrywer van die magistrale roman The Recognitions (1955), William Gaddis, het gesê hy staan nie onderhoude toe nie, want: “What’s any artist but the dregs of his work, the human shambles that follows it around?”

By Beiles was daar geen grense tussen sy kuns en die warboel van sy lewe nie. Maar watter roerende, verbysterende chaos was dit nie.

Hy is in 2000 brandarm in die Johannesburgse Algemene Hospitaal oorlede.

  • Who was Sinclair Beiles? kan by Dye Hard Press bestel word by dyehardpress@iafrica.com. Fred de Vries se Beiles-biografie sal hopelik in 2012 op die rak wees.
 

Binne Beeld

Weer
Lotto
Ksd: 14-20°C Scattered clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bfn: 3-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Internal Recruitment Consultant

Sandton, South Africa
CEB Maintenance Africa (Pty) Ltd
Market Related

Debtors Clerk

Johannesburg, South Africa
Profile Placement cc
Market Related

Life Insurance Personal Assistant

Fourways, Sandton, South Africa
Omega HR Solutions
R120000 - R156000

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

OPEL

Corsa 1.4 Sport Utility MY04 PU
2008
R 99,900.00

TOYOTA

Corolla 140i MY05
2006
R 104,990.00

AUDI

A3 2.0 FSi Attraction Tiptronic 3-dr
2007
R 207,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.