’n Virtuele vastrapplek

2010-02-12 23:39

Grafika: Jaco Grobbelaar

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Wat van ’n Afrikaner-provinsie? vra MARINUS WIECHERS na aanleiding van die huidige debat oor ’n volkstaat vir die Afrikaner. 

Artikel 235 van die Grondwet bepaal oor selfbeskikking: “Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ’n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ’n territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse nie, soos deur nasionale wetgewing bepaal.”

Hierdie artikel is aanvaar om erkenning te gee aan aansprake op territoriale selfbeskikking van sekere Afrikanerpartye.

Om praktiese uitvoering aan hierdie reg op selfbeskikking te gee, is ’n Volkstaatraad bestaande uit lede van dié Afrikanerpartye destyds in die lewe geroep.

Ingevolge Art. 20(5)(a) van Bylae 6 van die huidige Grondwet is die voortbestaan van die Volkstaatraad gemagtig. Van al die beraadslagings van dié raad het daar egter niks gekom nie.

Ná vyf jaar se vrugtelose debatte is die Volkstaatraad in 1999 ontbind.

Dit lyk of die berg nie eens ’n muis gebaar het nie. Is daarmee die hoop op “selfbeskikking binne ’n territoriale entiteit” vir die Afrikaner eens en vir altyd vernietig?

Op die oog af lyk die uitsig op Afrikaner-selfbeskikking binne ’n bepaalde territoriale entiteit bra droewig.

Want in Afrikaner- politieke geledere is daar nog te veel mense wat glo daar moet gekyk word waar woon die grootste konsentrasie van wit Afrikaners en om dan bloot op dié statistiese gegewens ’n Afrikanertuisland of ’n boel sulke tuislandjies te proklameer.

Met ander woorde, ’n wit Afrikaner-ghetto of ghetto’tjies soos in die apartheidsdae vir die verskillende etniese groepe.

En dít terwyl die meeste van ons Afrikaners tog deel van die groter Suid-Afrika wil wees en as mens en burger nie in verset teen die nuwe oorhoofse staatkundige bedeling is nie.

Maar, aan die ander kant, is ons Afrikaners in al ons bont verskeidenheid tog diep bekommerd.

Ondanks al die gerusstellings en salwende uitsprake dat die Afrikaner onmisbaar is en ’n groot bydrae kan lewer, weet ons die Afrikaanse taal en kultuur is amptelik op die afdraandepad.

Ondanks al die wonderlike taal- en kultuurfeeste weet ons daar is te veel maghebbers wat geen gevoel het vir die Afrikaanse taal en kultuur nie, of erger nog, ’n diepgewortelde antagonisme daarteen het.

Ongelukkig is daar hier ook te veel bewindvoerders wat, soos in die res van Afrika gebeur het, dink ’n ontwikkelende moderne staat moet sy eie, bestaande taal- en kultuurbesit oorboord gooi.

Te midde van hierdie kulturele barbarisme voel Afrikaners al hoe meer dat hulle in ’n Suid-Afrikaanse diaspora woon, sonder ’n stukkie aarde waar die Afrikaanse taal en kultuur – sonder totale uitsluiting van ander tale en kulture – die dominante een is.

Kortom, is dit moontlik dat die Afrikaner met sy taal en kultuur nog ’n territoriale vastrapplek binne ons Suid-Afrikaanse demokrasie kan verkry?

Myns insiens is dit wel moontlik, indien daar aan twee basiese voorwaardes voldoen word:

Eerstens moet die droom van ’n Afrikaner-volkstaat en veral die gedagte van ’n wit volkstaat met wapperende Vierkleure en smeulende voorlaaiers finaal afgesweer word.

Ook moet die lawwe gedagte van ’n Afrikaner-volkstaat wat uit die algehele Suid-Afrikaanse staatsbestel kan losbreek, die nek ingeslaan word.

Pleks van sulke verouderde waan- en drogdrome moet daar realisties, binne die huidige Suid-Afrikaanse staatsordening, gedink word aan ’n bepaalde provinsie met ’n eie grondwetlik geldige konstitusie waarin die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur onomwonde – maar sonder diskriminasie – as daadwerklike doelstelling verklaar word.

[’n Opmerking in dié verband: Die huidige provinsiale grense soos in die Grondwet bepaal, is sekerlik nie in graniet gegiet nie. In hierdie stadium is daar juis sprake van die verandering van provinsiale grense, blykbaar sonder raadpleging van die inwoners van die betrokke provinsie.

’n Wet wat die bestaande grense van een of meer provinsies verander, moet bo en behalwe die grondwetlike wysiging ook deur die wetgewer of wetgewers van die betrokke provinsies goedgekeur word.

Sou die oorgrote meerderheid van inwoners van ’n bepaalde gebied in ’n referendum aandring op die oprigting van hul eie provinsie, is dit ondenkbaar dat die nasionale wetgewer of provinsiale regering so ’n versoek sou kon teenstaan.

By die oorspronklike vasstelling van provinsiale grense in die 1994-Grondwet is daar uitdruklik vir sulke referendums voorsiening gemaak.]

Tweedens moet daar nugter en realisties op ’n moontlike toekomstige provinsiale gebied besluit word wat vanweë ’n natuurlike demografie reeds oorwegend Afrikaans is.

So ’n moontlike gebied hoef nie vreeslik groot of welvarend of met ’n groot ekonomiese potensiaal bedeeld te wees nie. Ook hoef dit nie noodwendig ’n toekomstige toeristeparadys te wees nie (daar is niks so erg as ’n florerende toerismebedryf om ’n inheemse taal en kultuur te verkrag nie).

Die grense van so ’n gebied hoef in die beginstadium ook nie in absolute detail uitgestippel te wees nie. Al wat nodig is, is ’n gebied wat histories, kultureel en demografies geoormerk kan word om eendag die territoriale basis vir ’n Afrikaner-provinsie te wees.

Die brandende vraag is natuurlik: Hoe kom dinge aan die gang vir die vestiging van so ’n toekomstige Afrikaner-provinsie?

Dit is vergesog om te verwag ons sentrale regering sal oornag ’n Afrikaner-provinsie met eie grondwet en regering proklameer.
 
Trouens, die regering sal waarskynlik baie bitsig op so ’n gedagte reageer, ondanks die Grondwet se duidelike erkenning van die beginsel van territoriale selfbeskikking.

Vir ’n toekomstige Afrikaner-provinsie sal Afrikaners en Afrikaansgesindes self die inisiatief moet neem. Hoe?

Die eerste en belangrikste stap is om Afrikaner-leiers van alle kante by ’n konstitusionele beraad te betrek waar die min-of-meer grense van die Afrikaner-provinsie, sy toekomstige grondwet en regering bespreek en onderhandel word.

Natuurlik gaan ons klomp dwarstrekkerige Afrikaner-leiers nie al te gemaklik eenstemmigheid in so ’n beraad bereik nie.

Daarom sal dit noodsaaklik wees om eers ’n verklaring van voorneme te onderhandel en te aanvaar waarmee al die leiers hulle verbind tot die waardes van nie-rassigheid en nie-diskriminasie soos in ons Grondwet vervat.

In die verklaring van voorneme sal die doelstellings en aard van die toekomstige provinsie ook algehele konsensus moet verkry.

Daarna kan oorgegaan word om die voorlopige grense van die toekomstige provinsie te bepaal en ’n grondwet op te stel wat aan die vereistes van die nasionale Grondwet voldoen.

Waarskynlik van die belangrikste bepalings van die provinsiale grondwet gaan sy “burgerskap”-bepalings wees.

Die ideaal sal wees dat elke Suid-Afrikaanse burger, hier te lande of oorsee, vrywillig “burger”, oftewel stemgeregtigde deelnemer, kan word.

By die aanvaarding van die provinsiale konstitusie kan ’n tussentydse liggaam onmiddellik oorgaan tot die reëling van verkiesings en die instelling van ’n regering, naamlik die instelling van ’n virtuele regering vir ’n virtuele toekomstige Afrikaner-provinsie.

Die verkiesing en instelling van die virtuele regering kan groot pret wees. Politieke partye, kultuurgroepe en organisasies (die grondwet vir die virtuele regering sal waarskynlik voorsiening moet maak vir verteenwoordiging van meer as net politieke partye) sal wyd moet werf en organiseer om hul ondersteuners as “burgers” van die beoogde provinsie te regis­treer en mense vir hulle te laat stem.

Met vandag se tegnologie is dit glad nie meer nodig dat “burgers” op bepaalde plekke fisiek moet registreer en stem nie. Dit word gewoon op die internet gedoen.

Ná die verkiesing word die virtuele regering ingestel met verteenwoordigers van die breë Afrikanerdom en Afrikaansgesindes, verlig en verkramp, liberaal en konserwatief, soos dit in ’n goeie demokrasie hoort. Kiesersteun bepaal die regering se samestelling.

Daardie regering begin om die toekomstige provinsie virtueel te “regeer” deur die grense van die toekomstige provinsie te onderhandel, maar nog belangriker, om maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling binne die provinsie te bevorder.

En nog belangriker, om Afrikaanse taal- en kultuurbelange binne sowel as buite die provinsie te bevorder. (Dit kan op verskeie terreine geskied en moontlik kan die virtuele provinsiale regering ’n ontwikkelingsbank stig.)

Natuurlik gaan die onmiddellike vraag wees: Waar op aarde gaan die geld vandaan kom om die regering van hierdie toekomstige provinsie te bekostig?

Die wetgewer van die provinsie gaan, net soos enige demokraties verkose wetgewer, een of twee keer per jaar byeenkom om ’n begroting en belasting vir sy “burgers”, waar ook al ter wêreld, te aanvaar.

[Met 50 000 “burgers” en ’n jaarlikse “belasting” van R200 (veel minder as ’n jaar se inskrywing op ’n gewilde Afrikaanse tydskrif), verkry die provinsiale regering al ’n inkomste van R10 miljoen per jaar.]

Uitgawes en besteding geskied volgens die begroting en word in die wetgewer gedebatteer en gemagtig.

Die belangrike is dat Afrikaanse taal- en kultuurbelange en behoeftes gedurende hierdie openbare begrotingsdebatte bespreek en bepaal word.

’n Baie belangrike taak van die provinsiale regering sal wees om die beoogde gebied maatskaplik en ekonomies te bevorder sodat wanneer daar eendag gevra word vir ’n referendum om die provinsie daadwerklik op te rig, die meerderheid van die inwoners met graagte daarvoor sal stem.

Wat word dan van al die ander “burgers” buite hierdie nuwe provinsie (of te wel die “territoriale entiteit” van Art. 235 van die Grondwet)?

Daar is grondwetlik niks daarteen nie om hierdie soort uitgebreide, assosiatiewe provinsiale “burgerskap” te behou wanneer die Afrikaner-provinsie uiteindelik deur nasionale wetgewing afgebaken en opgerig word.

Wat wel sal moet gebeur, is dat die huidige Kieswet verander sal moet word om voorsiening te maak vir stemgeregtigde “burgers” oftewel provinsiale deelnemers wat buite die provinsie woonagtig is.

Ten slotte: Die uiteindelike vestiging van ’n Afrikaner-provinsie deur nasionale wetgewing, soos in ons Grondwet voorsien, gaan nie uit die lug val nie.

As Afrikaners en Afrikaansgesindes, ondanks hul uiteenlopende en selfs botsende sienings oor baie sake, nie hulself met die ideaal van ’n Afrikaner-provinsie kan vereenselwig nie, sal die moontlikheid van ’n territoriale selfbeskikkingsentiteit, soos in die Grondwet gemagtig, vir ewig verlore wees.

Sy selfbeskikking sal die Afrikaner dan maar op ander maniere moet verwesenlik.

Slaag die Afrikaner, die erkende baanbreker in Afrika, wel daarin om ’n territoriale selfbeskikkingsentiteit te verwesenlik, kan hy die voorbeeld stel vir ander taal- en kultuurgemeenskappe om ook ’n vaste territoriale staanplek in die groter Suid-Afrikaanse bestel te verkry.

Marinus Wiechers was voorheen professor in die staats- en volkereg aan Unisa.
 

Binne Beeld

Weather
Lottery
Cpt: 20-26°C More sun than clouds. Mild. Pta: 18-28°C Widely scattered tstorms. Broken clouds. Mild.
Jhb: 17-26°C Widely scattered tstorms. Clearing skies. Mild. Bloem: 19-31°C Mostly sunny. Pleasantly warm.
Dbn: 20-29°C Mostly sunny. Warm. PE: 22-26°C More sun than clouds. Mild.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

Passat 1.9 TDi Comfortline Dsl MY06
2006
R 199,595.00

RENAULT

Scenic 2.0 Dynamique AT MPV
2003
R 85,995.00

ISUZU

KB300 TDi D-Cab LX Dsl MY04
2005
R 149,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chill out in Knysna

Spend 2 nights at the Turbine Boutique Hotel & Spa in Knysna's gorgeous Thesen Island for R3058 per person sharing. Includes return flights, taxes, car hire and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii eReader nou beskikbaar

Koop die gobii eReader en gobii-omhulsel vir iemand spesiaal vir Valentynsdag. Gratis aflewering binne 24-uur. Koop dit nou.

Koop Friends with Benefits en wen

Koop die DVD of Blu-ray en staan ’n kans om 1 van 5 "Love You"-blikke met koekies te wen. Die wedstryd sluit 9 Februarie. Koop dit nou.

Koop 4 romans vir R79,96

Koop enige 4 romantiese verhale vir slegs R79,96 terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Geskenke vir hom

Koop ’n klassieke skuimskeerborsel vir R279 vir die man in jou lewe en kry 15% afslag op ’n uitgesoekte reeks naskeermiddels. Koop dit nou.

Dit is al weer ’n fleurige Valentynsdag!

Daar is fleurige spesiale aanbiedinge by kalahari.com met die gobii eReader, Friends with Benefits, parfuums en rose wat nou beskikbaar is. Koop dit nou.

2 DVDs vir slegs R129

Winskopie van die week

Sit snoesig teenaan jou geliefdes hierdie Valentynsdag met ons aanbod van 2 DVD's vir slegs R129. Aanbod geldig solank vooraad hou. Koop dit nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Please Upgrade
Your Version of Flash
Get Adobe Flash player
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.