Glasoog: 'Dominee' Jonathan
2009-08-23 20:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Johann RossouwAs ’n mens in die 1980’s ’n Afrikaanse hoërskoolseun was, is die kans goed dat jy vroeër of later deur ’n onderwyser uitgetrap sou word oor jou “houding” as jy met jou hande in jou broeksakke rondgestaan het.
As ’n mens in die 1980’s ’n Afrikaanse hoërskoolseun was, is die kans goed dat jy vroeër of later deur ’n onderwyser uitgetrap sou word oor jou “houding” as jy met jou hande in jou broeksakke rondgestaan het.
As jou hare te lank was, jy te veel kritiese vrae gevra het of te veel van rock-musiek gehou het, was dit ook alles deel van die verkeerde “houding”.
Wat hier in die spel was, was ’n orde wat nie daarvan gehou het om uitgedaag te word nie. Die gepaste “houding” wat die orde van sy onderdane verwag het was een van, wel, onderdanigheid. As jy die “verkeerde houding” gehad het, het jy dit baie gou baie letterlik aan jou bas gevoel.
Daar was destyds ook ’n goeie kans dat jy as uitdagende hoërskoolseun met ’n ander vorm van die latswaaiende onderwyser te doene gekry het, naamlik die sagte dominee.
Anders as die befoeterde onderwyser, wat daarop uit was om jou met vrees op jou plek te hou, was die dominee se strategie om jou sag toe te spreek oor wat God van jou verwag – ’n verwagting wat sonder uitsondering geklop het met wat die orde van jou verwag het. Die dominee wou jou met skuld op jou plek hou.
Altwee dié benaderings is niks anders nie as patriargale strategieë van magshandhawing. Maar waar dit redelik maklik was om die brute onderwyser te ondergrawe, was die dominee ’n perd van ’n ander kleur: hy was immers aan God se kant, en jy moes baie dapper wees om by implikasie vir God self uit te daag.
Wat die dominee ook so ’n moeilike opponent gemaak het, is dat hy twee baie doeltreffende truuks gebruik het. Die eerste was om jou en jou gewete individueel verantwoordelik te maak vir die situasie waarin jy jou bevind het. Dat die orde van die dag ook ’n aandeel daaraan kon hê, was nooit eens ’n moontlikheid nie.
As jy ’n jong skoolseun met min lewenservaring is, uit ’n kultuur wat skuld met moedersmelk inkry, kan so ’n strategie dodelik wees.
Die tweede doeltreffende truuk wat die dominee gebruik het, was om in die naam van gesprek, versoening en vergifnis die voorwaardes vir dié dinge van meet af te vernietig.
Omdat die dominee “God se man” was, en aangesien die volle verantwoordelikheid vir die situasie joune as skoolseun was, was daar geen sprake van ’n gesprek tussen twee gelyke gespreksgenote nie.
Die dominee was in wese net so patriargaal soos die onderwyser, maar baie meer doeltreffend. Ons sou hom kan beskryf as die sagte bewaker van ’n keiharde dogma, ’n vroom dogmatikus.
Slegs ’n naïewe hoërskoolseun sou dink dat die koms van die nuwe bedeling die figure van die onderwyser en die dominee ook aan die verlede toevertrou het.
Die waarheid is dat hulle steeds springlewendig is, doodgewoon omdat ’n nuwe orde met sy eie keiharde dogma hom kom vestig het. Net soos die ou orde, onderskei die nuwe orde hom ook met ’n genadelose moralisme te midde van obsene geweld en bloedvergieting.
In die hedendaagse Afrikaanse gesprek is een van die vrome dogmatici die oud-onderwyser en nou rektor van die Universiteit van die Vrystaat, prof. Jonathan Jansen. Soos die dominee hierbo beskryf, voer Jansen graag gesprekke oor versoening, vergifnis en, les bes, houding – soos in sy rubriek in Beeld van 13 Augustus, “?’n Probleem met houding”.
Wat dit so moeilik maak om Jansen krities teen te gaan, is dat hy, soos ’n sagte ou vaderfiguur, sy eie verhaal van lyding en vergifnis so sentraal in sy skryfwerk stel. Kritiseer jy hom, dan kritiseer jy per implikasie nie net sy mooi verhaal nie, maar ook, ja, sy houding.
Maar laat ek nou maar soos ’n rammetjie-uitnek-hoërskoolseun sak vir my pak slae en probeer aantoon hoe Jansen in hierdie rubriek al die truuks uithaal van die dominee uit my jeug om ’n immorele orde met mooi morele taal te verdedig.
Jansen begin sy rubriek deur te verklaar: “Op geïsoleerde plekke in ons uitgestrekte land woed die debat oor Afrikaans steeds voort.” Met ander woorde: die debat oor Afrikaans is per definisie die gevolg van doelbewuste self-isolasie, en per definisie woedend – geen redelikheid en uitreiking na ander hier nie. Só lê Jansen self die terme van die gesprek neer.
As voorbeeld van die vermeende isolasie meld hy dat die gesprek “beperk” is tot “Afrikaanse koerante, feeste en akademiese kringe”.
Dat ’n gesprek oor ’n taal se verswakkende openbare posisie in die eerste plek in daardie taal self gevoer sal word, oorweeg Jansen nie. Ook nie dat die huidige Engelsgesinde elite nie belangstel om dié gesprek te voer nie.
Ek noem ’n voorbeeld wat ek self beleef het. Toe ek ’n paar jaar gelede vir die destydse minister van onderwys sê die stryd om moedertaalonderrig gaan daaroor dat die vooruitgang wat Afrikaners vanweë hul moedertaal kon maak, vir al Suid-Afrika se kinders moontlik moet wees, was haar reaksie: “Just remember there is a painful history around Afrikaans.”
Jansen meen omdat die taalstryd polities is, en nie bloot oor kommunikasie gaan nie, is dit per definisie, soos alle taalstryde wêreldwyd, “onoplosbaar”. Soos ’n goeie dominee beroep hy hom hier op ’n universele waarheid wat alles behalwe empiries bewys kan word.
Amper elke moderne “taalstryd” het ontstaan en is tot ’n politieke saak gemaak deur ’n owerheid wat geweier het om die taal te erken. Afrikaans is geen uitsondering nie, en alles behalwe ’n geïsoleerde geval in “ons uitgestrekte land” (of wêreld).
Jansen beskuldig Afrikaanse taalstryders dat hulle aan die verlede vasklou omdat dit “vir baie kampvegters” gaan oor die behoud van mag en die handhawing van kultuur, maar sonder om te blik of te bloos herinner hy ons daaraan hoeveel nie-moedertaalsprekers nog onthou hoe Afrikaans in die verlede op hulle afgedwing is. Wie klou nou eintlik aan die verlede vas?
Hy kla oor ’n professor wat sou weier om ’n openbare dokument in Engels te lees, maar meld nie dat dit die staat se grondwetlike verpligting is om met burgers in hul moedertaal te kommunikeer nie. En die taalchauvinisme waaronder ’n wit kelnerin in Pretoria deurloop, eien hy toe as ’n voorbeeld van Afrikaanse taalstryders se houding.
As ons dan nou ten ene male oor houding moet praat: Watter houding het ’n staat wat al sy sake in Engels doen in ’n land waar naastenby 70% van swart mense volgens die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (2001) nie “sufficiently proficient” in Engels is nie?
En as ons nou, soos Jansen graag wil, oor die verlede moet praat, is dit miskien ook goed om te onthou hoe oplaas van die vorige patriargale orde ontslae geraak is: met verset en die weiering dat onderwysers en dominees vir ons dink.