Die taal: 'n Blik van buite
2010-01-26 23:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Aan die vooraand van die F.W. de Klerk-stigting se beraad oor die behoud van Afrikaans as akademiese taal het twee vooraanstaande swart kommentators húl stemme laat hoor in dié debat, wat tans grootliks in wit Afrikaanse geledere gevoer word. Mondli Makhanya, redakteur van die Sunday Times, het Sondag in sy rubriek geskryf die ander taalgroepe kan gerus op dieselfde wyse as die Afrikaners vir hul tale in die bresse tree. Gister het Phylicia Oppelt, redakteur van Business Times, in The Times geskryf sy is Afrikaans, maar sy is moeg vir wit ou Afrikaanse mans wat "op en af spring" vir die taal. Hieronder is albei rubrieke, wat met toestemming geplaas is.
Afrikaners stel 'n puik voorbeeld met hul taaltrots
Mondli Makhanya
Die Verenigde Nasies se organisasie vir onderwys, kultuur en wetenskap (Unesco) bedryf ’n geruime tyd al ’n program wat bedreigde tale monitor.
Die program is getiteld: “Atlas of the World’s Languages in Danger of Disappearing” en word jaarliks op internasionale Moedertaaldag bygewerk. Dit is kommerwekkende leesstof.
Luidens verlede jaar se verslag word sowat die helfte van die wêreld se sowat 6 700 tale voor die einde van die eeu deur uitsterwing in die gesig gestaar.
Die tempo van uitsterwing wissel van streek tot streek en word ook beïnvloed deur die geskiedenis en regeringsbeleid. In die Amerikas is inheemse tale byvoorbeeld ’n knou toegedien deur wat Unesco noem die “uitwissing van hele volke” tydens die koloniale tydperk sowel as die verbete opmars van Engels en Frans.
Indië, waar Hindoe die amptelike taal is en Engels die vernaamste handelstaal, het ’n sterk beleid oor diversiteit. Gevolglik is die land se meer as 400 tale en meer as 1 000 dialekte lewenskragtig.
As dit by Afrika kom, raam Unesco dat sowat 600 van die 1 400 tale wat op die vasteland gepraat word, aan die kwyn is – met ongeveer 250 van hulle reeds in die waaksaal.
Sommige mense sal argumenteer dat dit ’n logiese ontwikkeling is waardeur die dominante handelstale die kleineres sal verdring. Dit is kortsigtig, want taal is meer as net ’n kommunikasiemiddel.
Soos Unesco dit stel: “Tale is die mensdom se vernaamste werktuig vir interaksie en die uitdrukking van idees, emosies, kennis, herinneringe en waardes.
“Tale is ook primêre draers van kulturele uitdrukking en ontasbare kulturele erfenis, wat noodsaaklik is vir die identiteit van individue en groepe.
“Alle domeine van ontasbare kulturele erfenis – van kennis oor die heelal tot by rituele, die uitvoerende kunste tot by kunsvlyt – maak op taal staat vir hul daaglikse beoefening en die oordrag daarvan tussen geslagte. In die domein van mondelinge tradisies en uitdrukking is taal nie bloot ’n draer van ontasbare erfenis nie, dit is die essensie daarvan.”
As ’n taal sterf, sterf baie dinge daarmee saam. Die mensdom verloor die kultuur, kennisstelsels, oorvertellings en mondelinge geskiedenis van die sprekers.
Dit is waarom ek dié week my hoed afhaal vir F.W. de Klerk en die uiteenlopende bende Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies wat later vandeesmaand ’n konferensie gaan aanbied oor die toekoms van dié taal aan universiteite.
Die byeenkoms word gereël deur die F.W. de Klerk-stigting en is ’n reaksie op wat hulle sien as die demovering van die taal by die vyf histories Afrikaanse universiteite waar Engels voorkeur begin geniet.
De Klerk het dié week aan Rapport gesê hy voel ’n “persoonlike verantwoordelikheid vir die Grondwet wat ek help onderhandel het en wat ek Afrikaners help oortuig het om te steun, insluitend die reg van alle Suid-Afrikaners om onderrig te word in die taal van hul keuse”.
Baie van ons sal hewig verskil van die idee dat Afrikaans onder bedreiging is. Dit is trouens ’n netto begunstigde van post-apartheid-Suid-Afrika omdat dit ontslae is van die etiket as “taal van die onderdrukker”.
Afrikaanse letterkunde floreer. Afrikaanse koerante is gesond. Televisie kook. In staats- en semi-staatsorganisasies het Afrikaans ’n hoër status as die ander inheemse tale.
Belangrikste van alles vir Afrikaans is dat die taal nou ook aanvaarding geniet en gevier word as ’n taal wat op eie bodem ontstaan het. Tog bly die persepsie voortbestaan onder Afrikaners dat hul taal onder beleg is, vandaar die terugveg teen enige vermeende aantasting van die taal.
Sommige van die verdedigers van Afrikaans is werklike liefhebbers van die taal, met hul bona fides in plek.
Daar is egter ook ’n groot deel van hulle wat gemotiveer word deur eng nasionalisme en, durf ’n mens sê, rassisme. Hulle hunker terug na die Suid-Afrika wat in 1994 gesterf het, ’n Suid-Afrika waarin die Afrikaner die opperwese was.
Insoverre ’n mens sommige van die houdings van Afrikaans se verdedigers verwerplik vind, moet jy hul verbetenheid bewonder. As die sprekers van die ander Suid-Afrikaanse tale maar net soveel aandag wou gee aan die beskerming van hul taal as wat Afrikaanssprekendes doen, sou daar min kommer wees oor die ondergang van plaaslike tale.
Ongelukkig is dit nie die geval nie. Suid-Afrika se Afrika-taal-sprekers het besluit dat hul tale nie die moeite werd is om te bewaar nie. In die middelklas word ’n geslag jong Suid-Afrikaners groot sonder die vermoë om hul moedertaal te verstaan, want hul ouers het besluit dis nie belangrik nie.
Daar word teen ’n hewige tempo aan tale weggekalwe. Ons is op pad na ’n situasie waar inheemse tale slegs deur die werkersklas gepraat word – en hul aspirasies veroorsaak dat ook hulle die middelklas begin napraat.
Dit is nie buite die kwessie nie dat Unesco binne die volgende 50 jaar sou kon verslag doen dat verskeie Suid-Afrikaanse tale op die gevaarlys is.
Hiervoor moet die regering heelwat van die blaam dra omdat hy slegs lippediens bewys aan taalgelykheid.
Terwyl elke politikus graag grootbek is oor die viering van ons diversiteit, word min gedoen om een van die kernaspekte van daardie diversiteit te bewaar – ons tale.
Pleks daarvan dat ons Afrikaners veroordeel daarvoor dat hulle trots op hul taal is en daarvoor baklei, behoort die res van Suid-Afrika ’n les daaruit te leer.
Afrikaans behoort net soveel aan my as aan ou wit mans
Phylicia Oppelt
Die ander aand beland ek in een van daai taaierige Suid-Afrikaanse gesprekke waarin ek vertel is dis tyd om ontslae te raak van die swart chip op my skouer.
Sekerlik, is ek vertel, is dit 15 jaar ná die einde van apartheid nie nodig om simplistiese frases soos “julle wit mense” in gesprekke te gebruik nie, veral sedert ek tot die middelklas uitgestyg het en niks het om oor te kla nie.
Dalk is dit trouens tyd om my beitel uit te haal en aan daardie chip te begin werk.
Dit is in dié gesindheid van verantwoordelikheid vir my toekoms neem eerder as om in die verlede te leef dat ek Afrikaanse taalstryders kan vra om dieselfde te doen.
Ek het genoeg gehad van hoofsaaklik wit mans wat op en af spring oor “hul” taal wat in die nuwe Suid-Afrika uitgerangeer word – want die meeste Afrikaanssprekendes is en was nog nooit wit nie.
Ek is moeg van die tirades wat aan koerante gestuur word en die patetiese gekerm oor “hul” taal wat in dreigende gevaar is om permanent uitgedoof te word, asof die regering ’n beleid van taal-volkslagting verklaar het.
As dít die geval was, waarom sien ons dan steeds rye Afrikaanse boeke op die rakke van Exclusive Books, Afrikaanse verjaardagkaartjies by die CNA en die voortgesette groei van Afrikaanse koerante?
Waarom bied Johan Stemmet, uitgerus in sy klopse-monderings, steeds Noot vir noot aan – die SAUK se oudste vermaaklikheidsprogram? En waarom saai die openbare uitsaaier elke weekdag ’n sepie genaamd 7de Laan uit as daar dan geen plek vir Afrikaans in die land is nie?
Toe ek hoor dat die F.W. de Klerk-stigting ’n debat oor Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch reël sonder om die universiteit se visekanselier te nooi, het ek dit skouerophalend afgemaak.
Toe gaan kyk ek op die internet en lees koerante soos Die Burger en webwerwe soos www.litnet.co.za om uit te vind hoe die taaldebat verander het. Geen verrassing nie – die debat van tien jaar gelede is die debat van 2010. Hier gaan ons al weer, het ek gedink.
Maar ek is ’n eerstetaal-Afrikaanssprekende – my pa se reël was dat ons tuis Afrikaans gepraat het en Engels by die skool geleer het. En ná meer as 20 jaar in ’n Engelse wêreld bestaande uit ’n Engelse universiteit en Engelse werkplekke praat ek steeds Afrikaans.
As ek en my 70-jarige ma buite in die son sit met ons oggendkoffie, haal ons in Afrikaans in. As ek een van my Afrikaanssprekende kollegas in die gang raakloop, stop ons om gou in Afrikaans te skinder. Dis ’n natuurlike ding om te doen.
En ek vind dat daar in my 40 jaar oue hart steeds ’n passie vir Afrikaans is. Daardie passie ontwaak wanneer ek hoor hoe my vyf jaar oue dogtertjie moeiteloos van “Nkosi Sikelel’ iAfrika” na “Die Stem” oorslaan.
My dogters praat Afrikaans. Hulle gaan na Engelse skole. Hulle is tweetalige kinders wat nog ’n Afrika-taal ook sal aanleer.
Maar hoewel Afrikaans oral om my is, kan ek nie dieselfde hittigheid en geesdrif as die taalpatriotte optower nie.
Wanneer gaan hulle aanvaar dat, vir baie van ons, hul taalstryd nie gesien kan word sonder ’n politieke konteks uit die verlede nie – ’n konteks wat ons nie deel nie?
As die stryders geweet het wat goed is vir hulle, sou hulle hul visier rig op mense soos ek en die baie swart sprekers van “hul” taal, veral in die Wes-Kaap.
Moet ons nie deel maak van ’n magstryd oor ’n taal nie; maak ons deel van ’n sirkel van passievolle mense wat nodig het om Afrikaans te praat omdat dit deel is van wie ons is.
Vir my dogters het Afrikaans geen magiese kragte nie; dit dra nie ’n geskiedenis wat Voortrekker- en Afrikaner-dapperheid huldig nie.
Afrikaans se redding sal kom deur mense soos my dogter en haar kleinsussie, en die talle ander kinders soos hulle. Omdat hulle geen politieke verbintenis het met ’n taal wat so intiem verweef is met die mag van ons voormalige onderdrukkers nie.
Vir hulle is dit net nog ’n taal wat hul lewe sal verryk deur die skoon en krag wat gevind kan word in die werk van Hein Willemse, Adam Small, Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker.
Nie deur rûe styf te maak of deur groot gebare nie en beslis nie deur die geblêr van ou wit mans wat terughunker na vervloë tye nie.
- Beeld