Wittes, pas aan in SA, of pas op
2009-09-11 04:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Nico Smit
Die rubriek van Tim du Plessis (Beeld, 4 September), “ ’n Land van ons en hulle”, is ontstellende leesstof.
Is dit werklik waar Suid-Afrika hom tans bevind – dat ons teruggesleep word “tot die rand van die afgrond?”
Ek sou graag met Du Plessis wou verskil, maar ek is bevrees dat sy diagnose korrek is.
Dit word in besonder bevestig deur die briewe van lesers wat direk onder Du Plessis se rubriek gepubliseer is en waaruit diepgaande bitterheid by sommige Afrikaners na vore tree.
Omtrent geen gesprek tussen wit Suid-Afrikaners vind dan ook deesdae plaas sonder dat die haglike situasie waarin die land hom bevind, nie aan die orde kom nie. En altyd is dit dan weer die swart regering en sommer alle swart mense wat blameer word.
As ons na die rand van die afgrond gesleep word, is die kwelvraag wat sal gebeur as ons wél die afgrond af gestoot word?
Dit is soos mnr. B.J. Vorster, eertydse premier, destyds gesê het: “It’s too ghastly to contemplate.”
Daarom is dit so noodsaaklik dat ons hierdie moontlike uitkoms van die Suid-Afrikaanse geskiedenis baie goed sal deurdink. Ek wil allermins wolf-wolf roep, maar as ons in hierdie verband volstruispolitiek wil toepas, gaan ons die uiteindelike afstorting in die afgrond net nog verder moontlik maak en ook verhaas.
Koloniste in Algerië
Ek wil in dié verband spesifiek verwys na wat met die wit Franse koloniste in Algerië gebeur het. Soos in Suid-Afrika, het groot getalle Franse koloniste hulle ná die kolonialisering van Algerië deur Frankryk in Algerië gevestig.
Uiteindelik was ’n derde van Algerië se bevolking wit Franse. Vanweë die Franse koloniale beheer, is hulle grootliks bevoorreg en onder die koloniale regering gefloreer.
In 1954 het die Front de Libération Nationale (FLN) egter hul eerste verwoede aanval op die koloniale owerheid gedoen deur regeringsgeboue, winkels, restaurante, ens. te bombardeer en in vlamme laat opgaan terwyl talle in die strate gedood is.
Die Franse koloniste het die aanslag eenvoudig afgemaak as die insluiping van kommunisme in Algerië en het dit as hul plig beskou om Algerië onder Franse beheer te hou ter wille van die behoud van Westerse waardes.
Namate die aanslae van die FLN toegeneem het, het genl. Charles de Gaulle, toe president van Frankryk, in Februarie 1961 besluit om vredesamesprekings met die FLN te begin.
’n Aantal afgetrede generaals in die Franse leër, onder leiding van genl. Salon, die vorige hoof van die leër in Algerië, het egter besluit dat hulle Algerië ten alle koste vir die wit Franse koloniste moes behou.
Hulle het gevolglik ’n eie weerstandsbeweging op die been gebring en begin om die inheemse bevolking te beheer en te beskerm teen die FNL-vryheidsleër. Duisende Algeryne is in die proses gemartel en gedood en beheer oor hul lewens verskerp.
Inheemse bevolking neem wraak
Aan die begin van 1962 het die inheemse bevolking van Algerië egter verwoed op die Franse koloniste begin wraak neem in verset teen die Franse generaals se veiligheidsleër wat beheer oor Algerië oorgeneem het.
Dit het op so ’n groot skaal gebeur deurdat massas Algeryne in die hoofstad Algiers eenvoudig die strate en die wit Franse se woonbuurte binnegestorm het, geboue aan die brand gesteek het en wit mense in die strate gedood het. ’n Massa-uittog van Franse koloniste het feitlik oornag gevolg.
Hieroor skryf Martin Meredith, die Britse joernalis en historikus, in The state of Africa: A history of fifty years of independence (2004), sy magistrale boek, soos volg: “In the mass exodus that followed, more than a million pied noirs (koloniste van Franse oorsprong), fled to France, many leaving with no more than what they could carry in suitcases. Farms, homes and livelihoods were abandoned en masse?.?.?.Thus the French departed, in chaos and confusion, after eight years of war which had cost half a million lives. On 5 July 1962 Algeria attained its independence under the control of a revolutionary government.”
Les vir wit Suid-Afrikaners
Hieruit is ’n les te leer vir alle wit Suid-Afrikaners wat nog glo dat die Suid-Afrikaanse Weermag eenvoudig kontrole oor die land moes oorneem ná oudpres. F.W. de Klerk se aankondiging om met die ANC te onderhandel.
Algerië het getoon wat dan in Suid-Afrika beslis ook sou gebeur het.
Dit is ag genome van wat met die wit Franse koloniste in Algerië gebeur het dat wit Suid-Afrikaners hul teenwoordigheid in Afrika goed sal moet bedink.
As hulle sou voortgaan in hul verset teen swart Suid-Afrikaners en die swart regering, kan die dag aanbreek dat die swart bevolking eenvoudig sal sê: “Genoeg is genoeg. Ons is moeg daarvan om voortdurend deur wit mense gekritiseer en gekleineer te word.”
Sou dit tot ’n massa-aanval op al wat wit is, oorgaan, sit die wit mense vasgekeer soos rotte in ’n val. Hulle het geen moederland wat skepe sal stuur om hulle te verwyder nie. Hulle sal ’n massaslagting moet verduur.
Maar wat dan van die leër en die polisie? Waarom sou hulle vir die wit mense ter beskerming intree as hulle 15 jaar lank nog net kritiek vanuit die wit oord moes verduur? En wat van die VSA en die Verenigde Nasies?
Of hulle ter wille van vier miljoen wit “rassiste” hulle aansien by die hele Afrika op die spel sal wil plaas, is hoogs te betwyfel.
Wat moet wit mense doen?
Wat staan die wit mense dan te doen? Meer as ooit tevore het oudpres. P.W. Botha se woorde profetiese woorde geword: “Adapt or die.”
Hierdie keuse word vir die wit mense ’n al hoe groter werklikheid.
En “adapt” sal in die eerste plek vereis dat die klaagliedere oor die swart regering, asook oor swart mense in die algemeen sal moet ophou.
Ons het geen keuse nie as om lojale Suid-Afrikaners te word en te vergeet van ons minderheidsregte, ons taal en kultuur, ons aansprake op die beëindiging van regstellende aksie en die herinstelling van die doodstraf.
Gaan ons hiermee voort, verhaas ons tien teen een die afgrond waarin ons kan afstort.
Of ons vir ’n tweede keer van die rand van ’n afgrond, soos Du Plessis dit noem, gered sal word, is ’n te groot risiko om op te hoop. Wit Suid-Afrikaners moet aan die werk spring voordat hulle, soos die wit Franse koloniste in Algerië, die afgrond afgestoot word.
Nuwe Groot Trek
Wit mense se toekoms is slegs húl keuse en is in hulle eie hande. Niemand anders kan vir hulle ’n beter toekoms verseker of uitwerk nie – allermins ’n swart regering.
Die tyd vir ’n keuse is besig om uit te loop. Dit het tyd geword vir ’n tweede Groot Trek – nie na Orania toe nie, maar ’n groot trek van Die Gees om Suid-Afrika nie meer as óns land of húl land te beskou nie, maar ’n land waarin rasionele denke seëvier omdat die wit mense tot die insig gekom het dat daar vir hulle geen bestaan in die land moontlik is sonder ’n vreedsame saambestaan van al die land se bewoners nie.
Die hele Afrika benodig so ’n voorbeeld.
* Mnr. Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, reageer Dinsdag in ’n artikel hierop.
- Beeld