‘Staat moet help met dié tale’
2010-02-08 20:48
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Alet Rademeyer
Afrikaans as universiteitstaal is opnuut in die kollig ná die FW de Klerk-stigting se taalberaad in Stellenbosch. Intense debatte het tydens en ná die beraad oor die huidige stand van die taal in onderwys gewoed. Wat gaan nou gebeur?
Tydens die beraad is besluit om ’n werkkomitee saam te stel om te bepaal watter sake met die minister van hoër onderwys, dié van basiese onderwys en enige tersaaklike departement opgeneem moet word.
Dié komitee sal blitsig op dreef moet kom in die lig van die jongste aanduidings uit regeringsgeledere dat daar nie geld is om die landstale behalwe Engels te help bevorder nie.
Luidens ’n beëdigde verklaring wat mnr. Philemon Wakashe, direkteur-generaal van kuns en kultuur, Vrydag by die hooggeregshof in Pretoria ingedien het, is daar geen moontlikheid dat die regering Afrikaans só kan ontwikkel dat dit soos Engels “ten volle kan deelneem en die vrugte kan geniet van wêreldwye ontwikkelinge nie”.
Mnr. Cerneels Lourens, ’n prokureur van Brits, vra ’n bevel wat die parlement, pres. Jacob Zuma en me. Lulu Xingwana en mnr. Jeff Radebe, onderskeidelik minister van kuns en kultuur en justisie, dwing om hul grondwetlike plig na te kom deur ’n nasionale taalwet te aanvaar.
Dringende ingryping en strategiese planne kort vir die bestendiging van Afrikaans as onderrigtaal en die uitbou van die ander inheemse tale, was verteenwoordigers uit Afrikaanse geledere by die beraad dit eens.
Van die akademici meen die regering se “gemoedelike verwaarlosing” van al die landstale behalwe Engels kan nie langer voortduur nie.
Dr. Theuns Eloff, rektor van die Noordwes-Universiteit (NWU), meen die geld wat nodig is vir die bevordering van meertaligheid “is ’n druppel aan die emmer” as instellings se begrotings van miljarde rande in ag geneem word.
Volgens hom is dit in die land en ál sy mense se belang dat met die regering ooreengekom word rondom taal.
Verteenwoordigers van vier historiese Afrikaanse universiteite - Stellenbosch, Pretoria, Vrystaat en Noordwes - het in hul voorleggings aangetoon hoewel meertaligheid geensins onbekostigbaar is nie, kan instellings nie langer álleen die taalverantwoordelikhede en uitgawes daarvoor dra nie.
’n Politieke oplossing moet gevind word wat geld wat opsy gesit is vir die finansiering van meertaligheid en ’n ooreenkoms met die staat oor die omvang van ’n meertalige aanbod insluit, meen prof. Niek Grové, registrateur van die Universiteit van Pretoria (UP).
Uit navrae blyk dit nog daar is ’n groot gebrek aan kommunikasie oor dié kwessies tussen die departement van hoër onderwys en universiteite.
Me. Mary Metcalfe, direkteur-generaal van hoër onderwys, het erken hoër onderwys bevorder tans nie meertaligheid nie.
Maar, volgens haar, moet “universiteitsrade daaroor besluit en dit vorentoe vat”. Sy sê instellings moet voorleggings met hul planne en behoeftes aan die departement doen.
Instellings, soos die UP, sê egter hy het al sulke versoeke gerig.
Terwyl universiteite angstig wag op geldelike hulp én leiding van die staat, moes hulle die laaste paar jaar hul eie taalbeleid en -model ontwikkel en verfyn.
Maar dié planne, wat eerder individu- as stelselgedrewe is, kan tot onmin en verdeeldheid tussen belangegroepe in hoër onderwys lei.
Hiervan is die Universiteit van Stellenbosch (US) ’n sprekende voorbeeld.
Volgens prof. Leon de Stadler, direkteur van die taalsentrum aan die US, is “taalbeplanning in hoër onderwys ’n komplekse saak wat noodwendig moet lei tot die instelling en instandhouding van komplekse stelsels”.
Dié komplekse stelsels het al gelei tot tweespalt en ’n vertrouensbreuk in die raad en tussen sommige raadslede en die US-bestuur.
Die algemene siening onder individue soos prof. Hermann Giliomee, historikus, en mnr. Jacko Maree, raadslid wie se termyn oor twee maande verstryk, is dat die US op ’n verengelsingspad voortsnel en al hoe meer leë beloftes oor Afrikaans maak.
Die studenteprofiel by die US is tans 61% Afrikaans, 31% Engels, 3% Afrikaans én Engels, terwyl 5% ander voorkeurtale het.
Ondanks die meerderheid Afrikaanssprekendes het die getal modules wat in Afrikaans aangebied word van 60,7% verlede jaar tot 55,4% vanjaar gedaal. Modules wat in Engels aangebied word, het van 39,2% verlede jaar tot 44,5% vanjaar gestyg.
Volgens Maree het die getal Afrikaanssprekende studente sedert 2003 konstant gebly. Engelssprekende studente het vinnig gestyg en teen die huidige groeitendens kan hulle in 2017 die meerderheid wees.
Maree wys op Engelse studente se rasseprofiel. “In die nuwe demokratiese bestel is die US vir alle rasse oop en dit is gemeensaak dat transformasie aangehelp moet word sodat die studentekorps se bruin en swart komponent vinniger kan groei.
Die US het Afrikaans met Engels vervang, maar Engels was nie die verwagte magneet wat swart studente moes trek nie.” Die US het nog net sowat 2% swart studente.
Om Afrikaans in stand te hou en meertaligheid te bevorder, het die US verlede jaar aangedui hy benodig sowat R42 miljoen.
By die UP was daar die laaste 15 jaar ’n drastiese styging in aansoeke van nuwe studente. Dit het van 8 500 in 1994 gestyg tot 34 000 vanjaar.
Volgens Grové is die UP onder enorme druk om in studente se taalbehoeftes te voorsien. Waar daar in 1994 77,1% Afrikaanssprekende studente was, het dit gedaal tot 39% verlede jaar. Engelssprekende en ander studente het gestyg van 22,9% tot 61%.
Van die sowat 41?000 studente is 15 450 Afrikaanssprekend.
Wat die onderrigmedium betref, is daar verlede jaar 38 modules (2,2%) net in Afrikaans aangebied, 817 (46,4%) in parallelmedium, 373 (21,2%) in dubbelmedium en 533 (30,3%) slegs in Engels.
Volgens Grové speel verskeie faktore ’n rol in die bepaling van die taalbeleid. Daar is byvoorbeeld ’n toename in voorgraadse Afrikaanssprekende studente wat in Engels onderrig wil word, terwyl dosente aangestel word wat nie Afrikaans en Engels magtig is nie.
Daarbenewens kos ’n taalbeleid geld. Afhangend van watter finale model die UP kies, kan dit enigiets tussen R45 miljoen en R100 miljoen kos.
Volgens Grové is die UP daartoe verbind dat kernmodules ten minste in Afrikaans aangebied moet word.
By die NWU is daar sowat 21 000 studente op die Potchefstroom-, Vaaldriehoek-, en Mafikeng-kampus. ’n Taalbeleid word tans ontwikkel wat elke kampus se taalwerklikheid in ag neem en wat daarop gemik is om die taalongelykhede van die verlede reg te stel.
In 2004 is met ’n aanvoorprojek in gelyktydige tolking in die eerstejaarsprogram in ingenieurswese begin. Dit is stelselmatig uitgebrei en tans word 337 modules (18%) getolk.
Volgens prof. Marlene Verhoef, direkteur van taalsake aan die NWU, beloop die hele meertaligheidsprojek sowat R10?miljoen (sowat 0,56% van die institusionele begroting). Hiervan is R3 miljoen verlede jaar aan tolking bestee.
Volgens Verhoef is tolking se voordele dat taalgroepe saam in een klas is en die taalverdeling nie lei tot verdeling langs raslyne nie. Dit is voorts goedkoper as parallelmedium-onderrig en gee dosente meer tyd vir navorsing en administrasie.
In die Universiteit van die Vrystaat (UV) se geval is sowat 40% van die nagenoeg 27 000 studente Afrikaanssprekend. Die oorblywende 60% bestaan uit ’n verskeidenheid van ander huistaalsprekers en dié wat Afrikaans en Engels magtig is, migreer tussen die verskillende taalaanbiedings.
Die UV bied onderrig in Afrikaans en Engels aan op ’n parallelmedium-grondslag. Op die Qwa-Qwa-kampus met sowat 3 500 studente is die taalmedium Engels.
Die UV het gesê tolking word gebruik waar daar ’n behoefte daarvoor bestaan. Dié universiteit se direkte uitgawes om uitvoering aan sy taalbeleid te gee, beloop sowat R3,6 miljoen.
Die beraadgangers het saamgestem dat daar ’n politieke wil én genoeg studente moet wees om die onderrigme-dium te regverdig vir Afrikaans om nie nog te verswak as universiteitstaal nie.
Die afname in enkelmedium- Afrikaanse skole van 1 396 in 1993 tot die huidige 667, tesame met wit en bruin Afrikaanssprekende ouers wat toenemend verkies om hul kinders in Engels te laat onderrig, hou groot bedreiging in.
Maar, soos oudpres. FW de Klerk dit gestel het: Dit kan nie meer net oor Afrikaans gaan nie. “Afrikaans moet saam met al die ander inheemse tale én Engels ’n regmatige plek in die samelewing, stelsels én onderwys kry.”
- Beeld