’n Volksplakkerskamp
2010-01-18 21:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Een van die groot oorsake van die opflikkering in die debat oor ’n volkstaat lyk na onvergenoegdheid met hoe ons land bestuur word, met swak dienslewering en ’n weerstand teen diskriminasie teenoor wittes wat ’n gevolg is van hoe regstelling gedoen word.
Dit lyk soms vir my of baie van hierdie onvergenoegdheid dan uiting vind in ’n versugting na ’n volkstaat. In ander gevalle is die versugting na ’n volkstaat natuurlik presies wat dit sê – mense wat deur mense soos hulle regeer wil word, maak nie saak hoe goed of sleg nie.
Die Grondwet maak in art. 235 voorsiening vir groepe in eie gebiede – onderhewig aan die beginsels vervat in die Grondwet en op voorwaarde dat die regering instem.
’n Volkstaat is nie kinderspeletjies nie. Aangesien dit wel deesdae op die Afrikaner-agenda is, moet sekerlik daaroor gedink word en moet kernaspekte deurdink en in die oë gekyk word.
Heel eerste is die kwessie van waar.
Dit kan nie die hele Suid-Afrika wees nie. Dit sal waarskynlik min of meer in verhouding tot bevolkingsdemografie moet wees en die oomblik as op ’n gebied ooreengekom word deur voorstanders of op besluit word deur ’n regering, word daar natuurlik ook ooreengekom of besluit om die res van die land uit te sluit.
Die feit dat wit Afrikaners oor die land versprei is en dat hulle goed verteenwoordig is in al die stedelike gebiede, beteken daar gaan uitsluiting wees.
’n Voorstel wat verlede week gemaak is, stel voor ’n strook van Pretoria deur die Vrystaat tot by die Suid-Kaap. Dit beteken natuurlik al die volkstaters in byvoorbeeld die Wes-Kaap sal moet pak, toesluit en trek.
Tot dusver was daar bitter min bereidwilligheid onder Afrikaners om hul werk te bedank, te pak, die huis weg te gee (as mense weet wat jy doen, gaan jy nie ’n goeie prys kry nie) en te trek.
Daar was – sover ek kan onthou – nog nie eens iemand wat ’n volk-staat voorgestel het wat nié sy eie eiendom of sakeonderneming omsluit nie.
Dan is daar die kwessie van hoe so ’n volkstaat tot stand kom.
’n Mens aanvaar voorstanders van ’n volkstaat wil ’n onafhanklike eie staat hê en nie bloot iets soos ’n gedeelte van ’n bestaande provinsie waarheen enige ander Suid-Afrikaner ook kan trek nie – byvoorbeeld agter werk aan of as ’n daad van politieke manipulasie.
Dit lyk of volkstate in geweld en vernietiging gebore word. Hulle kom tot stand wanneer mense so bang en desperaat is dat hulle in groot getalle vlug na waar hulle reken hulle dalk veilig kan wees. Sover my geheue strek, was die volkstate wat in ons tyd afgestig het (en nie van buite deur groot moondhede ondersteun en gefinansier is nie, soos byvoorbeeld Israel), dele van Joego-Slawië nadat daardie land in die 1990’s verbrokkel het. Dit het met meer as ’n dekade van geweld en met volksmoorde gepaard gegaan wat nou nog in die Wêreldhof weerklank vind.
Dit was dié wat geslaag het.
Die ander voorbeeld is in Sri Lanka, waar die Tamil Tiers 50 jaar baklei, bomme geplant, doodgemaak het en self doodgemaak is, maar nêrens gekom het nie wat hul volkstaat betref. Hul bakleiery het verlede jaar uitgeloop op ’n neerlaag en reuse-vlugtelingkampe. Dis die een wat nie geslaag het nie.
Dus, as ’n mens na die voorbeelde kyk, lyk dit nie maklik nie.
En as dit slaag en mense kom op ’n gekose gebied uit waar veiligheid wink, gaan hulle sonder geld sit. Die huidige banke sal nie daar werk nie. Rande sal nie veel beteken nie en hulle sal nie huise hê nie. Ook nie werk nie. En daar gaan te veel mense vir die gebied se kosproduksie wees.
’n Mens dink hier aan ’n reuse-plakkerskamp en ’n situasie wat eers ná meer as ’n geslag beter gaan word?…
- Beeld