Middel teen pessimisme
2009-11-04 21:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Jaap Steyn
Armoede ken geen kleur-of taalgrense nie. Waarom moet Solidariteit dan op Afrikaners fokus met sy aksieplan teen armoede?
Dié vraag is gevra ná Solidariteit Helpende Hand se Reddingsdaad-kongres. Talle deelnemers aan die kongres het dit beklemtoon dat alle gemeenskappe moet saamwerk om armoede te beveg.
Maar daar is ’n goeie rede waarom Solidariteit veral en vir eers na Afrikaners moet omsien. Hulle is die groep wat die afgelope 15 jaar die swaarste gely het onder die gesamentlike uitwerking van drie nuwe soorte diskriminasie: rassediskriminasie met regstellende aksie (die Nederlanders, net so polities korrek as ons, noem dit positieve discriminatie!), taaldiskri- minasie en maatskaplike diskriminasie met byvoorbeeld staatstoelaes. So het die Tshwane-metroraad sedert 2000 van die 90?100 beskikbare Hop-huise net twee aan wit behoeftige gesinne gegee.
Helpende Hand het onlangs navorsing bekend gestel wat toon dat ongeveer 131?000 wit huishoudings nie voldoende huise het nie. Hulle woon in ou hoenderhokke, wit plakkerskampe, stukkende woonwaens, tente of informele sinkstrukture. Sowat 46% van wit gesinne kan nie meer ’n huis van meer as R200 000 bekostig nie.
Die aantal wit gesinne wat minder as R68 400 per jaar verdien, neem jaarliks met ongeveer 37000 toe. “Om die huidige agterstand van behuising onder arm wit mense oor die volgende tien jaar uit te wis, moet daar ’n gemiddelde van 14000 Hop-huise per jaar vir arm wit mense gebou word,” sê dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.
Die Afrikaners is een van die gemeenskappe wat buite die fokus van die regering se hulpprogramme val en hulle moet, soos Langner dit stel, “self verantwoordelikheid vir hul welstand aanvaar en hierdie verantwoordelikheid word nou weer aangegryp”.
In die groot Afrikaner-aksies van die 20ste eeu het die klem sterk op onderwys en opleiding in Afrikaans geval. Dit is goed dat dit ook nou op die voorgrond staan.
Een van die “Reddingsdaad-doenplanne” is die uitbou van die huidige Afrikaanse tegniese kollege, Sol-Tech, om opleiding in meer ambagte aan te bied. Iemand wat professor aan twee universiteite was, skryf aan my: “Ek was onlangs by Sol-Tech. Jy moet sien hoe netjies die plek lyk. En die studente lyk soos mense wat ernstig is oor die verwerf van vaardighede en kennis, nie asof hulle daar op die kampus kom boemel nie!”
Nog ’n plan is ’n ondersoek na die moontlikheid van ’n sentrale buro wat Afrikaanse private en openbare skole kan ondersteun, asook ’n “multimiljoenrandse Afrikaanse beursplatform”. Hopelik luister die kerke na Helpende Hand se oproep om dit aktief te steun.
Solidariteit se ander planne sluit in die vestiging van ’n Afrikaanse beroepsleidingsinstituut wat jongmense in staat sal stel om in die regte rigtings te studeer; die vestiging van ’n Afrikaanse afstandsonderrig-akademie; steun aan bestaande Christelik-Afrikaanse onderwyserskolleges; ’n ondersoek na die moontlikheid van ’n netwerk van Afrikaanse kleuterskole en nasorgsentrums; ’n ondersoek na die moontlikheid van ’n private Afrikaanse universiteit; en druk op die regering vir ’n skikking oor Afrikaanse onderwys op alle vlakke.
Dit is, samevattend, die soort aksies wat alle lewenskragtige gemeenskappe aanpak wat deur onsimpatieke regerings gedwing word om hulself te help. Dit is die oprigting van eie onderwys- en ander instellings, aangevul deur taalaktivisme soos druk op regerings wat hul plig versuim. As belastingbetalers is Afrikaanssprekendes op onderwys in hul taal geregtig.
Ons geskiedenis, maar ook dié van ander taalgemeenskappe, leer dat ’n mens ’n taal op sy beste kan bevorder as jy saam met die onderwys ook loopbane kan skep waarin daardie taal bruikbaar is.
Die beste middel teen die heersende pessimisme is konstruktiewe aksies, die soort dinge wat Solidariteit beoog en in sommige gevalle reeds uitgevoer het.
- Beeld