Onthóú jy hoe dit was?
2009-10-15 02:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Ons hou nie juis van onthou in hierdie land van ons nie.
Kyk nou maar net wat Eugene Terre’Blanche, leier van die AWB, nou (weer) kwytgeraak het: “Straf ons met apartheid – asseblief!”
Dit is duidelik dat Terre’Blanche onder “apartheid” ’n land vir elke “volk” verstaan. Een waarin melk, heuning en eerlike politici volop is en handelsbetrekkinge met die hele wêreld niks vreemds is nie.
Maar miljoene Suid-Afrikaners sal hom kan vertel dat apartheidalles behalwe ’n utopiese staatjie êrens is. Vir sommige was dit baie anders.
Onder apartheid is jou menswaardigheid van jou weggeneem. Jou geskiedenis is misken en jou kultuur dikwels ook.
Jy het jou eie spesiale skeldnaam gekry. Mense is in ’n koerant se hoofartikel daarop gewys dat dit darem te dik vir ’n daalder was om jou “meneer” te noem.
Jy is soos ’n kind behandel en moes vir snotkop-kinders “baas” sê.
Jy kon nie stap waar jy wou wanneer jy wou nie. Jy kon nie sit waar jy wou nie.
Jy kon nie swem waar jy wou nie. Jy kon nie gaan vakansie hou waar jy wou nie.
Jy kon nie werk waar jy wou nie en jy kon nie bly waar jy wou nie. (Die blyplek moes verkieslik nie sommer meer as twee vertrekke beslaan het nie en lopende water en elektrisiteit had dit beslis nie.)
Dikwels mag jou vrou en kinders ook nie saam met jou gebly het nie.
Jy kon nie speel waar jy wou nie. Jy kon nie speel met wie jy wou nie. Jy kon nie speel teen wie jy wou nie. (En as jy wou gaan kyk hoe ander mense teen mekaar speel, moes jy sit waar jy aangesê is om te sit.)
Jy kon nie vry met wie jy wou nie. Jy kon nie trou met wie jy wou nie.
Jy kon nie eens drink wat jy wou nie. (Coke was toelaatbaar, maar brandewyn beslis nie.)
Jy kon ook nie eet waar jy wou nie.
Jy kon nie skryf wat jy wou nie. Jy kon nie lees wat jy wou nie. Jy kon nie die TV-programme en rolprente kyk wat jy wou nie. Jy kon nie bid waar jy wou nie.
Jy kon nie leer wat jy wou, waar jy wou nie. (Wat wou jy dan nou in elk geval met wiskunde en wetenskap gemaak het as jy net vir swak betaalde hande-arbeid bestem was?) Jy kon nie eens altyd skoolonderrig kry in jou eie taal nie.
In ’t kort, jy kon nie eintlik dink wat jy wou nie.
Dit was in elk geval nie nodig nie, want jy kon nie juis stem nie. En as jy toegelaat is om te stem kon jy nie stem vir wie jy wou nie. Selfs nie eens in ’n “vrye” tuisland nie.
Want die politici wat hul sakke volgeprop het met geld wat eintlik vir jou ontwikkeling moes gaan en hul sakevriende en gesekondeerde amptenare het geweet jy gaan vir iemand anders as hulle stem.
Jy het later ook nie veel van ’n keuse gehad of jy in ’n tuisland wou bly of nie.
As jy dalk beswaar gemaak het teen ’n standplaas aan die gatkant van die aarde waar jy basies net met stof kon boer en net ’n sinktoilet gekry het as jy gelukkig was, is jy met traanrook, rubberkoeëls en sambokke tot ’n ander oortuiging gebring.
Jy het wel jou eie skole en hospitale en tronkselle en kantore en sportgronde gehad, maar dit het nie gelyk soos dié van die mense wat nie in ’n tuisland hoef te gebly het nie: hulle wat vry was om te doen wat hulle wou en vry was om aan ander te doen wat hulle wou.
Hulle wat nou so vinnig vergeet het presies hoe dit in die verlede hier gegaan het. (Wie weet, dalk stel hulle nie eens daarin belang om te onthou nie.)
Hulle wat ontken dat dit waaraan hulle in die verlede aandagtig was, gehelp het om talle van die probleme te skep waarmee die land nou nog opgeskeep sit.
Hulle wat nie gaan help om ons probleme op te los nie.
Hulle wat mense soos Eugene Terre’Blanche in hul geledere tel.
- Beeld