Nyanda kry vet kontrak
2009-12-18 01:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Pieter du Toit
Kaapstad. – ’n Veiligheidsfirma waarin genl. Siphiwe Nyanda, minister van kommunikasie, ’n 50%-aandeelhouding het, het ’n kontrak van R55 miljoen by ’n Transnet-filiaal gekry.
Die kontrak aan General Nyanda Security Risk Advisory Services is in Desember 2007 deur mnr. Siyabonga Gama, bestuurshoof van Transnet se vragafdeling, toegeken.
Hy is intussen geskors hangende ’n ondersoek na onreëlmatighede met dié tender en ’n ander een van nagenoeg R900 miljoen om lokomotiewe te verbeter.
Dít word vervat in ’n geskrewe antwoord deur me. Barbara Hogan, minister van openbare ondernemings, op ’n parlementêre vraag van mnr. Leonard Ramatlakane, Cope-LP.
Sy sê daarin die besonderhede rondom die aanvaarding van die tenders is die onderwerp van die tugprosedure teen Gama en is sy nie by magte om verdere inligting te verskaf nie.
Haar antwoord bevestig egter Gama het sy bevoegdheid om tenders te aanvaar in albei gevalle oorskry en dit is ’n oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA). Gama mag nie tenders van meer as R10 miljoen aanvaar nie.
Nyanda, wat sterk vir Gama in die bres getree het toe hy geskors is, het sy aandeelhouding in die veiligheidsfirma in die parlementêre bateregister aangeteken. Sy direkteurskap word ook in die maatskappyeregister bevestig.
Sy woordvoerder was gister onbereikbaar en ’n amptenaar in sy kantoor het gesê almal wat by magte is om kommentaar te lewer, is met verlof.
Die tender is aanvanklik vir R18 933 120 aanvaar en het eers drie maande ná Nyanda se aanstelling as minister tot ’n einde gekom.
Dit is onduidelik hoekom die uiteindelike bedrag tot R55 miljoen gestyg het.
Nyanda het met Gama se skorsing drie maande gelede gesê Gama word soos pres. Jacob Zuma vervolg en dat hy die slagoffer van ’n veldtog teen hom is. Gama is in politieke kringe beskou as die logiese opvolger vir me. Maria Ramos, wat as Transnet-hoofbeampte uitgetree het.
Gerugte oor die tender aan Nyanda doen al ’n geruime tyd die ronde, maar Hogan se antwoord is die eerste bevestiging dat Nyanda wel uit Gama se ampstyd voordeel getrek het. Ramatlakane het by navraag gesê selfs al het Nyanda sy aandeelhouding verklaar, is dit ’n “ernstige botsing van belange”.
“Nyanda het geskree dat Gama in sy pos by Transnet heraangestel moet word. Geen wonder hy het dit gedoen nie, hy het geweet hy gaan ryk word as dit gebeur,” het hy gesê.
Dit blyk uit Hogan se antwoord die kontrak tussen Transnet en Nyanda se maatskappy het uitgeloop.
Transnet kon nie gister bevestig of die maatskappy steeds met dié staatsonderneming sake doen nie.
- Beeld