Ouers moet vir ál meer onnies hoes
2009-11-17 22:39
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Alet Rademeyer
Die getal onderwysers in beheerliggaamposte waarvoor leerlinge se ouers uit hul sakke betaal, het die laaste tien jaar na raming met byna 515% toegeneem.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) het in sy 2008-’09-peiling oor onderwys bevind dat waar daar in 1997 altesame 5 n943 onderwysers in sulke poste was, dit verlede jaar tot 36 559 gestyg het.
Mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), meen egter dié getal kan tot so hoog as 50 000 wees.
Volgens Colditz is dit baie moeilik om werklike data te kry oor presies hoeveel mense in die sowat 24 000 openbare skole deur beheerliggame vergoed word.
Hy meen bo en behalwe die sowat 50 000 mense in onderwysposte betaal beheerliggame die salarisse van ’n verdere 100 000 administratiewe en terreinpersoneel.
Dit beteken ouers “dok miljarde rande” per jaar op om tot beter gehalte onderrig vir hul kinders by te dra.
Colditz het gesê in ’n peiling wat Fedsas onder 419 van sy lede-skole gedoen het, is bevind ’n gemiddelde van 27% van onderwysers en 51,4% van nie-opvoederpersoneel is in beheerliggaamposte.
Wat die kwalifikasies van onderwysers betref, wys die SAIRR-verslag daarop dat 132 873 (38%) van die 353?345 onderwysers in openbare skole in 2005 matriek plus drie jaar opleiding gehad het.
Altesame 186 832 onderwysers het matriek plus vier jaar opleiding. Van hulle is 47% swart, 55% bruin, 89% Indiër- en 88% wit onderwysers.
Luidens die verslag was 15,5% van die 424 871 poste vir onderwysers in 2006 vakant.
Dit verteenwoordig 66 040 poste.
Verlede jaar was 62 616 van die sowat 433 280 onderwysposte vakant.
Die meeste vakante poste is in Mpumalanga (19%), Limpopo (18,9%), die Noord-Kaap (16,1%) en die Wes-Kaap (16,2%).
Verlede jaar was daar na raming 31 949 onderwysers in tydelike poste, van wie 27 323, die meerderheid, korter as ’n jaar skoolhou en 568 al langer as 20 jaar in diens is.
Die provinsies met die meeste tydelike onderwysers is KwaZulu-Natal (36,5%) en die Oos-Kaap (15,9%).