‘Julle bliksems!’ toe word pa van 2 doodgeskiet
2010-02-01 00:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Buks Viljoen
“Dankie, liewe Jesus, vir ons mooi nuwe huis en dat ons so gelukkig is.”
Minute nadat die vyfjarige Lauren Bezuidenhout van Nelspruit die afgelope naweek dié gebedjie opgesê het, is haar pa, Bossie (45), doodgeskiet.
Kort voor die moord het mnr. Bezuidenhout, sy vrou, Karen (39), en hul kinders, Lauren en Jarrod (11), saam in die kombuis melkskommel gedrink. Mnr. Bezuidenhout se ma, Tina (65), was elders in die huis doenig.
Die gesin het Saterdag in hul nuwe dubbelverdiepinghuis in die gesogte Shandon Estates in Nelspruit ingetrek.
Mnr. Bezuidenhout is omstreeks 20:30 na die onderste verdieping van die huis om Jarrod in die bed te gaan sit.
In ’n stadium het mev. Bezuidenhout gehoor hoe haar man skree: “Julle bliksems!” het mev. Karin Visagie, ’n vriendin van die gesin, gister aan Beeld vertel.
Hy het hom vermoedelik teen inbrekers vasgeloop. Toe het ’n skoot geklap. Hy is in die nek getref en is op slag dood.
“Skaars ses uur voor sy sinnelose moord het ons nog op die huis se stoep gestaan en het hy vir my gesê hoe gelukkig hy nou is,” het Visagie gesê.
Mev. Bezuidenhout word oormôre 40. “Bossie sou haar as verrassing vir ’n romantiese naweek wegneem. Pleks van partytjie hou beplan ons nou sy begrafnis.”
Visagie se man, Ronnie, was Bezuidenhout se boesemvriend. Die twee het mekaar 35 jaar geken. Bezuidenhout, wat in 1984 ’n matrikulant aan die Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier was, het ’n jaar gelede ’n onderneming in Nelspruit by mnr. Visagie gekoop.
“Dit was sy lewensdroom om terug te kom Nelspruit toe,” het mev. Visagie gesê .
Bezuidenhout het in Mei 2009 van Pretoria, waar hy in Silver Lakes gebly het, Nelspruit toe getrek. Sy gesin het in November, nadat die skole gesluit het, ook daarheen verhuis. Hulle het Saterdag uit hul huurhuis na hul nuwe droomwoning getrek.
Supt. Gerrie Agenbag, speurtakbevelvoerder van die polisie op Nelspruit, het gesê hulle vermoed Bezuidenhout is met ’n rewolwer doodgeskiet. ’n Koeëlpunt is in die moordkamer gekry, maar geen doppie nie.
Volgens Agenbag is dit nie seker hoeveel aanvallers daar was nie. “Spore wat ons buite die huis gekry het, wys dit kan moontlik twee of drie wees.”
Enigiemand met inligting kan Agenbag by 013 759 1108 bel.
Shandon Estates, wat bemark word as ’n hoë-sekuriteitskompleks, het die afgelope twee maande onder ’n vlaag van misdaad deurgeloop.
Mnr. Charles Venter, ’n oud-burgemeester van Nelspruit en buurman van die Bezuidenhouts, is laat verlede jaar self in sy huis hier aangeval en erg aangerand.
- Beeld