Visser vra hulp van Dirk se ‘seksslaaf’
2010-02-08 00:39
Sonja Carstens
Cézanne Visser wil ’n eedsverklaring van die bankrower Dirk Prinsloo se voormalige “seksslaaf” in Belo-Rusland by die hooggeregshof in Pretoria indien om as versagtende omstandighede in haar guns oorweeg te word.
Adv. Johann Engelbrecht SC, regsverteenwoordiger van Visser, het gister aan Beeld bevestig dat hy reeds die versoek in ’n e-pos aan Anastasia, Prinsloo se 23-jarige voormalige minnares, gerig het.
“Ek het haar gevra of sy bereid sal wees om ’n beëdigde verklaring af te lê.
“Ek wil aansoek doen om die verklaring as bewysstuk in die hof in te dien. Ek wag om van haar te hoor,” het Engelbrecht gister gesê.
Volgens hom staaf Anastasia se verhaal Visser se getuienis in verskeie opsigte.
Anastasia het verlede week met Beeld gepraat op voorwaarde dat haar naam nie gepubliseer word nie.
Sy verwys na hul verhouding as “hel” en beskryf Prinsloo as ’n “monster wat in ’n hok toegesluit moet word”.
Prinsloo is verlede week vir 13 jaar in Belo-Rusland tronk toe gestuur nadat hy probeer het om ’n bank met ’n speelgoedpistool te beroof.
“Anastasia se verhaal kan nie weggeredeneer word nie. Dit wys hoe Prinsloo vroue manipuleer en watter mag hy oor hulle uitoefen, ook in Belo-Rusland nadat hy midde-in sy verhoor in Suid-Afrika landuit gevlug het,” het Engelbrecht gesê.
Hy begin vandag om getuienis ter versagting van Visser se omstandighede in die hooggeregshof in Pretoria te lei nadat sy vroeër skuldig bevind is weens onder meer onsedelike aanranding van kinders.
Volgens Engelbrecht sal hy drie deskundiges roep om vir Visser te getuig en hoop hy dat die saak teen die einde van die week afgehandel kan word.
“Dit gaan goed met Visser in die omstandighede. Sy is gespanne oor die hofverrigtings wat voorlê en wil die saak so gou moontlik agter die rug kry,” het Engelbrecht gesê.