‘Los Mugabe, hy’s oud,’ - Motlanthe
2009-09-10 01:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Liezl Steenkamp
Om pres. Robert Mugabe vas te vat is ’n mors van tyd, want hy is reeds stokoud.
Met dié uitlating het adj.pres. Kgalema Motlanthe dit gister in die nasionale vergadering onomwonde gestel dat die Suid-Afrikaanse regering nie ’n vinger gaan verroer om teen dié Zimbabwiese leier op te tree nie.
“Mugabe is reeds op ’n gevorderde ouderdom. Dit sal nie help om al ons energie daarop toe te spits om met hom as ’n individu te handel nie.”
Voorts glo die regering onwrikbaar in sy beleid dat daar met Mugabe en die ander drie partye in die Zimbabwiese eenheidsregering gepraat moet word, eerder as om “oorlog te maak”. En, nes die Afrika-Unie en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), wil die regering hê dat sanksies opgehef moet word.
Motlanthe was in die Huis om mondelings vrae te beantwoord.
Volgens hom het die Britse regering reeds $100 miljoen vir onderwys, gesondheid, watervoorsiening en sanitasie bewillig. Die Internasionale Monetêre Fonds het ’n lening van $510 miljoen aan Zimbabwe beskikbaar gestel.
Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het emosioneel gevra hoe die regering met ’n skoon gewete kan instem tot die opheffing van sanksies terwyl Mugabe aanhou om menseregtevergrype te pleeg.
Hierop het Motlanthe geantwoord dat kragdadige optrede niks bereik nie.
“Probleme word nooit opgelos deur oorlog te maak nie. Die SAOG se standpunt bly dat dialoog die enigste uitweg is.”
- Beeld