Rowers skop, slaan man dood
2009-08-26 00:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Pretoriase vrou moes met haar vier dae oue babaseuntjie in haar arms toekyk hoe rowers haar skoonpa doodskop en -slaan.
Dit het gebeur sowat ’n uur nadat die rowers eergisteraand vermoedelik eers ’n veld oorkant mnr. Wilhelm Lotterie (65) se kleinhoewe in Doornfontein, noord van Pretoria, aan die brand gesteek het. Dit is skynbaar gedoen om onder meer Lotterie se seuns, Piet en Neels, uit hul huise te lok.
Vyf rowers het toe vir Lotterie, wat op sy stoep gesit het, oorval, aangerand en beroof.
Mev. Jessica Lotterie (23), Lotterie se skoondogter, en haar seuntjie, Danté, wat verlede Donderdag gebore is, was ook in die huis.
Kapt.?Jan Sepato,?polisiewoord- voerder, het gesê die rowers het Lotterie, wat ’n hartprobleem gehad het en sowat nege jaar gelede ’n hartoperasie ondergaan het, gedwing om in die sitkamer op die vloer te lê, waarna hulle sy hande en voete agter sy rug vasgebind het.
Lotterie se broek is ook tot op sy knieë afgetrek.
Weens Lotterie se hartprobleem mag hy nie gelê het nie, het Sepato gesê.
Die rowers het mev. Lotterie glo gevra of daar nog iemand in die huis is. Sy het gesê haar man en swaer blus die vuur.
Terwyl die rowers die Lotterie-broers ingewag het, het hulle mnr. Lotterie met onder meer ’n vuurwapen se kolf geslaan en hom geskop terwyl hy op die vloer gelê het.
Toe die broers by die huis kom, het die rowers hulle onderskeidelik in die toilet en die badkamer vasgebind.
Volgens Sepato het die rowers gevlug met geld, elektriese ware, selfone, ’n Ford Fiesta (met registrasienommer WHF?052?GP) en vleis wat hulle uit die yskas geneem het.
Paramedici het Lotterie dood op die toneel gevind. Sepato het gesê hy het versmoor.
Mnr. Jan Vermaak, wat sowat ’n?kilometer van die Lotteries af woon, het gesê hy het net by die huis gekom en in die bad geklim nadat hy gehelp het om die vuur te blus toe hy ’n geskreeu buite hoor.
“Ek het my seuns met flitse gestuur om te gaan kyk.”
“Hulle het teruggekom en gesê dit is ’n vrou wat skreeu.
“Ek het toe vir Jessica, Piet en die baba gekry waar hulle in die pad staan.
“Sy het my vertel hulle is aangeval en dat haar skoonpa doodgeskop en -geslaan is.
“Hulle was erg geskok.”
Vermaak het mev. Lotterie na sy huis geneem en toe saam met nog inwoners van die omgewing patrollie in die omgewing gedoen in ’n poging om die rowers te vang. Hulle was onsuksesvol.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
- Beeld