Boef ’n Christen en gee toe sy buit terug
2009-10-20 01:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Dries Liebenberg
’n 73-jarige boervrou het eers een rower op grond van sy Christenskap oorreed om sy buit terug te gee en toe ’n tweede booswig so hard met ’n kierie geslaan dat hy die hasepad gekies het.
“In my hart is ek nog nie klaar met hom nie. Ek wil hom nog slaan,” het mev. Sina Boshoff van die plaas Catherine in die Besters-omgewing buite Ladysmith in KwaZulu-Natal gister gesê.
Die inbreker wat sy vier keer oor die kop geslaan het dat die bloed loop, het sy toegetakel omdat hy haar 76-jarige man, Willie, op die grond vasgepen en met die vuis in die gesig geslaan het. Mnr. Boshoff se gesig was al vol bloed toe sy vrou op hulle afgekom het.
“Sy het my lewe gered,” het mnr. Boshoff gesê.
“Ek wou hom eers met ’n klip gooi, maar toe dink ek dalk tref ek my man. Ek wil nie dit op my gewete hê nie,” het mev. Boshoff gesê. “Daar’s nie tyd vir laat slap lê nie, nou nog te meer dat ons boere aangeval word. Veg moet ’n mens veg.”
By hul tuiskoms eergister om 11:30 van die kerkdiens in Ladysmith het die egpaar dadelik opgemerk ’n klomp vensters is gebreek en die mure met bloed besmeer. Die bloed was dié van die boewe wat hulself by die inbreekslag gesny het.
Net toe het twee mans by ’n venster uitgekruip.
Een van hulle het mev. Boshoff gekonfronteer en die ander haar man. Die rower het haar selfoon gevat en beveel om haar horlosie af te haal. “Dit het my baie hartseer gemaak omdat my oorlede seun dit nog vir my gekoop het,” het sy vertel.
Dis tóé dat sy aan die man sê wat help dit jy gaan kerk toe as jy op so ’n spul afkom.
“Hy staan toe terug en sê vir my hy is ook ’n Christen. Toe vra ek hom: ‘Nou vir wat val jy oumense soos ons aan en nie jongmense soos jyself nie?’ ”
Dit het die inbreker oortuig om sy buit terug te gee.
Mev. Boshoff het haar man daarna gaan soek en die ander booswig met haar eggenoot se kierie bygedam.
Hulle het later ontdek die inbrekers het die meeste van hul besittings binne die huis klaar in sakke gepak om mee te vlug.
Boere van die omgewing het blitsvinnig gereageer en die aanvaller aangekeer wat met die kierie bygedam is.
Dit was die derde inbraak by die egpaar se huis binne tien jaar.
Volgens mnr. Koos Marais, bestuurder van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie se veiligheidslessenaar, kon sake heeltemal anders afgeloop het as die Boshoffs niksvermoedend by die huis in is.
- Beeld