Chinese vrou by lughawe ‘opgetel en gedra’
2009-11-24 02:25
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Jeanne-Marié Versluis
’n Chinese vrou wat Vrydag met ’n tussentydse hofbevel gekeer het dat sy uit Suid-Afrika gedeporteer word, is glo eers deur sewe immigrasiebeamptes opgetel en na die vertreksaal gedra terwyl sy geskop, geskree en “histeries gehuil het”.
Waarnemende regter Roelof du Plessis het gister in die hooggeregshof in Pretoria gelas dat die aansoek van me. Lin Gui Lan, ’n kredietkontroleur van Bedfordview, om nie gedeporteer te word nie Vrydag aangehoor word. Intussen kan sy in die land bly.
Sy bring haar aansoek teen die departement van binnelandse sake se immigrasietoelatings by die O.R. Tambo-lughawe en teen die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL).
Haar aansoek dat beamptes van immigrasietoelatings aan minagting van die hof skuldig bevind word, word ook Vrydag aangehoor.
’n Briesende Du Plessis het verlede Vrydagaand in die dringende hof gelas dat ’n beampte wat sy hofbevel as oneg afgemaak en die telefoon in sy oor neergesit het, voor hom moet verskyn.
Luidens Lan se hofstukke is sy ’n kredietkontroleur by Dragon City in Fordsburg, Johannesburg. Sy sê sy het ’n tydelike verblyfpermit vir Suid-Afrika tot 15 Desember.
Sy het verlede jaar China toe gegaan en Vrydagoggend teruggekeer na Suid-Afrika om verder hier te werk.
Toe sy deur “immigrasie” beweeg het, het ’n immigrasiebeampte “aggressief” opgetree en gesê dit is “onmoontlik” dat sy kan terugkeer werk toe “omdat ek te oud is om te werk”, lui haar verklaring.
Volgens haar het die beampte gesê sy moes 30 dae voor die verstryking van haar werkpermit op 15 Desember om die hernuwing daarvan aansoek gedoen het.
Sy is Vrydag in ’n sel aangehou en ’n SAL-verteenwoordiger het vir haar ’n vliegkaartjie na Hongkong probeer gee. Sy het dit geweier. Sewe mense van immigrasie, asook SAL-werknemers, het haar probeer oorreed om terug te vlieg, sê sy.
“Die sewe mense het my fisiek aan my arms opgetel en my na die vertreksaal begin dra.?.?.”
’n Chinese ooggetuie het toe vir die sewe gesê hulle moet haar na die sel terugneem totdat haar prokureur opdaag.
Volgens haar is sy in die internasionale gebied van die lughawe onder polisiebewaking gelaat “sonder kos, water of warm klere” tot die volgende dag om 14:00.
Volgens Lan het die beamptes Vrydagaand se hofbevel “blatant” geïgnoreer en wou haar nie vrylaat nie.
Du Plessis het Saterdag ’n tweede hofbevel vir haar vrylating uitgereik.
Hy het toe ook gelas dat mnre. T.P. Kgoale, direkteur van immigrasie by die lughawe, Mogale Mangena, immigrasiebeampte, en Jackie Mackay, adjunk-direkteur-generaal van immigrasie, gister om 14:00 voor hom verskyn en redes gee hoekom hulle nie aan minagting van die hof skuldig bevind moet word nie.
Volgens Lan is sy Saterdag uiteindelik om 19:30 vrygelaat.
Die partye in die twee aansoeke is gister gelas om hofstukke in albei sake in te dien voordat dit aangehoor word.
- Beeld