Resep om te steel: Plaas goud in ’n gaar hoender
2009-11-18 22:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
André Damons
Jy kan hoender met suurlemoen, broodkrummels en kruie stop. Maar goud?
’n Werknemer van Browns – The Diamond Store het Maandag uitgevind die resep is ’n flop toe hy probeer het om goud in ’n gaar hoender uit die onderneming se werkwinkel in Dunkeld, Johannesburg, te smokkel.
Hy is aangekeer toe hy met dié kosbare maaltyd deur ’n veiligheidspunt wou gaan, lui ’n verklaring van Browns. Dit is onbekend hoeveel goud in die hoender was.
Die man is omstreeks 09:00 in hegtenis geneem, het sers. Bongi Mdletshe, woordvoerder van die Rosebank-polisiekantoor, gesê.
Hy het eergister in die Hillbrow-landdroshof op aanklagte van poging tot diefstal en die besit van vermoedelik gesteelde goedere verskyn. Hy is borgtog geweier en moet weer op 8 Desember in die hof wees.
Mdletshe wou nie die man se naam bekend maak nie omdat die polisie nog soek na mense aan wie die man glo die goud sou verkoop.
Veiligheidsbeamptes van Browns het die man se huis ook deurgesoek.
Die maatskappy het onlangs sy interne veiligheidsmaatreëls verskerp en metaalverklikkers verbeter, het me. Belinda Phillips, hoofbestuurder, in ’n verklaring gesê.
“Personeel is vooraf daarvan ingelig en gevra om geen metaal te dra nie weens die uiterste sensitiwiteit van die nuwe metaalverklikkers.”
Browns wou by navraag niks meer oor die voorval sê nie.