Net in Kanada: Wit SA man kry vlugtelingstatus
2009-09-01 00:40
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Retha Grobelaar
Die bewerings van ’n wit Suid-Afrikaner wat vlugtelingstatus in Kanada gekry het oor hy verdrukking hier vrees, is “belaglik”.
Dit was gisteraand mnr. Ronnie Mamoepa, woordvoerder van die minister van binnelandse sake, se reaksie oor die Suid-Afrikaner mnr. Brandon Huntley (31), wat vlugtelingstatus in Kanada gekry het.
Huntley het beweer hy sal in sy tuisland verdruk word oor sy velkleur.
“Sy bewerings sou lagwekkend en verregaande gewees het as dit nie so ernstig was nie. Ons moet hierdie bewerings verwerp,” het Mamoepa gesê.
Volgens hom moes die Kanadese beamptes vir insette van die Suid-Afrikaanse regering gevra het.
Mnr. William Davis, tribunaal-paneelvoorsitter, het in sy beslissing gesê Huntley was ’n slagoffer van misdaad weens sy ras en nie bloot weens misdadigheid nie.
“Hy sal uitstaan soos ’n seer duim. Ek bevind sy vrees weens verdrukking deur Afrikane (swart mense) is geregverdig as na die objektiewe bewyse gekyk word,” het Davis gesê.
“Elke saak soos hierdie moet beoordeel word volgens sy feite en omstandighede. Nadat al die bewyse oorweeg is, bepaal ek hy het aan die las voldoen om die ernstige moontlikheid van verdrukking op die gronde van die (Geneefse) konvensie vas te stel.”
Mnr. Russell Kaplan, Huntley se regsverteenwoordiger, het gisteraand aan Beeld gesê berigte uit Suid-Afrikaanse koerante oor die misdaadprobleem is onder meer as bewyse gebruik.
“Hy (Huntley) het tydens sy getuienis drie of vier keer verwys na die idee ‘payback from wayback’. Dis basies die idee dat dit nou hul (swart mense se) beurt is. Voorheen was dit die wit mense se beurt,” het Kaplan gisteraand gesê.
Volgens Kaplan is Huntley baie gelukkig met die beslissing. “Hy voel wonderlik. Hy was regtig bang om na Suid-Afrika terug te keer.”
- Beeld