Regstel: Die trane loop in hof
2009-11-18 22:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Daniëlla du Plooy
Sy het haar lewe aan die polisie gewy, het ’n polisievrou wat glo twee keer weens haar velkleur vir bevordering oorgesien is, gister huilend in die arbeidshof in Johannesburg vertel.
“Ek het aangesluit vir ’n loopbaan in die SAPD. Ek wou nog nooit iets anders doen nie,” het kapt. Renate Barnard gesê en kort-kort gestop om die trane te keer.
“Ek is trots daarop om ’n lid van die polisie te wees en is mal oor my werk. Ek het tyd saam met my gesin vir my werk opgeoffer en is ’n toppresteerder. Wat meer moet ek doen om bevorder te word?”
Barnard, bygestaan deur Solidariteit, eis in die arbeidshof dat sy tot superintendent bevorder word.
Sy voer aan sy is twee keer dié bevordering geweier op grond van haar velkleur, al het ’n keuringspaneel haar as die beste kandidaat aangewys.
Die pos is telkens vakant gelaat omdat geen ander geskikte kandidaat gevind kon word nie.
Barnard het tydens kruisondervraging deur adv. William Mokhare, vir die SAPD, getuig dit is frustrerend om 13 jaar lank in dieselfde posisie te wees en nie bevorder te word nie.
“In die eerste sewe jaar van my diens het ek hard gewerk en is bevorder. Maar van die polisielede wat by die mag aangesluit het toe ek kaptein geword het, is nou al superintendente en senior superintendente en ek en talle ander – wit én swart – is steeds kapteins.”
Barnard het getuig daar is heelwat frustrasie onder polisielede omdat dit nie altyd duidelik is hoekom sommige so vinnig bevorder word nie.
Sy het gesê sy kom uit ’n “polisiegesin”.
“Ek kon universiteit toe gaan, maar ek wou niks anders doen nie. Daarom is ek in 1989 op die ouderdom van 18 reguit polisiekollege toe.”
Adv. John Grogan, vir Barnard, wou by haar weet of haar verhouding met haar swart kollegas negatief beïnvloed sal word as sy die saak wen.
“Glad nie,” het Barnard beslis geantwoord. “Nadat ek die aansoek ingedien het, het ek net soveel ondersteuning van my swart kollegas en vriende as wittes gekry. Daar was hordes boodskappe en SMS’e van bemoediging. Dit is van my ondergeskiktes én mense met dieselfde rang.”
Volgens haar was haar lewe al in die gedrang weens haar werk.
“Ek was al betrokke by ’n ondersoek na ’n bedrogsindikaat en ek en my gesin het doodsdreigemente ontvang. Lede van die intervensie-eenheid het ons pal opgepas.”
Mokhare het haar gevra of sy bewus is van die polisie se diensbillikheidsvereistes en dat ’n swart persoon soms in sekeer poste aangestel moet word.
Barnard het geantwoord sy was self deel van ’n komitee wat na die diensbillikheidsvereistes gekyk het en besef die implikasies daarvan.
“As iemand anders wat bekwaam is – maak nie saak van die velkleur nie – in die betrokke pos aangestel is, was ek nie vandag hier nie.
“Maar niemand is aangestel nie. En ek weet ek is bekwaam en het die vaardighede om baie te kan beteken vir die SAPD in dié pos.
“Soos enige mens wil ek vorder in my werk en beter vaar. Elke keer dat ek ’n pos nie gekry het nie, het ek teruggegaan en net nóg harder gewerk.”
Albei partye lewer vandag hul slotbetoë.