Walvisse is hul kos, sê Deense gesant
2009-11-20 22:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Elise Tempelhoff
Dis hul kos. Respekteer asseblief ander se kulture en koskeuse.
Dit was die antwoord van mnr. Vibeke Sandholm Pedersen van die Deense ambassade in Pretoria ná ’n vlaag van wêreldwye kritiek oor walvisjag by die Faroe-eilande.
Diereliefhebbers het die afgelope drie maande skokkende foto’s van ’n walvisjag per e-pos aan mekaar gestuur, ook aan Beeld.
Die meeste was verbaas dat ’n “beskaafde land” soos Denemarke sulke “barbaarsheid” toelaat.
In die e-pos word foto’s gewys van honderde dooie loodswalvisse (Globicephala melaena) wat op die strand lê, terwyl die see in die baai bloedrooi gekleur is.
Pedersen het gesê die doel van dié walvisjag is hoofsaaklik om kos aan die mense van die eiland te voorsien. Mans in bote jaag die skool walvisse tot in die baai, so naby as moontlik aan die strand, waar hulle dan doodgesteek word.
“Ons neem kennis daarvan dat die foto’s mense ontstel, maar voordat enigiemand (die jag) veroordeel, moet ’n mens die ware feite en kwessies wat vir die mense van waarde is in ag neem.”
Volgens Pedersen word die jag deur die owerheid van die Faroe-eilande gereguleer.
Die diereliefhebbers vra dat mense ’n petisie onderteken en dit aan die Deense owerheid stuur.
Volgens Pedersen is die Faroe-eilande ’n outonome gebied binne die Deense koninkryk.
Die inwoners van die Faroe- eilande beheer hul eie nywerhede, visserye en walvisjag.
Volgens Pedersen verstaan die Deense owerheid dat dié walvisjag mense ontstel, maar hy vra hoeveel Suid-Afrikaners en mense in ander wêrelddele al slagplase besoek het.
“Hoe vergelyk dié walvisjag byvoorbeeld met die jag van wilde diere op land?”
Hy het gesê mense moet ook besef die Faroe-eilande is in ’n afgesonderde deel van die wêreld geleë en dat hulle nie veel ander kosbronne het nie.
Pedersen het gevra dat mense verdraagsaam moet wees teenoor ander kulture en veral dié se voorkeur van verskillende kos.