Aanvaarding se prys
2009-09-17 02:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Pieter Mulder
Is daar ’n plek in Suid-Afrika vir wit mense en/of Afrikaners?
Twee standpunte is die afgelope dekade uit regeringsgeledere hieroor gehoor. Dr. Nico Smith se standpunt in die artikel “Wittes, pas aan in SA, of pas op” stem grootliks ooreen met dié van oudpres. Thabo Mbeki en sy groep intellektuele.
Hierdie standpunt is opsommend die volgende: Wit mense het van Europa gekom om Afrika te koloniseer.
Toe hulle begin weerstand kry van die plaaslike bevolking, gaan die Franse, die Belge, die Portugese en die Engelse terug na Europa.
Die dom Afrikaners besef nie die krisis nie, mis die trein en is nou vasgevang in Suid-Afrika. Daarom moet hulle verduur word as “settlers of a special kind”. Hulle moet egter net nie golwe maak of enige eise stel nie.
“Be reasonable, see it our way,” het ’n slim ANC-onderhandelaar my probeer wysmaak.
Hierdie standpunt is vir my totaal onaanvaarbaar; dit is histories verkeerd en skep meer probleme as wat dit oplos.
Wit stam van Afrika
Die ander regeringstandpunt is die Jacob Zuma- en Mathews Phosa-standpunt. In gesprekke het Zuma Afrikaners die enigste wit stam van Afrika genoem, ware Suid-Afrikaners wie se taal nêrens anders gepraat word nie en wat geen ander paspoort het nie en wat hier tot hul reg moet kom.
Natuurlik het hierdie standpunt ook reaksie ontlok. Die toekoms sal wys in watter mate die standpunt slegs verkiesingspraatjies was en hoe dit in die praktyk toegepas word.
Dié standpunt is egter baie meer realisties en aanvaarbaar.
Anders as die Franse in Algerië het Afrikaners nie ’n moederland wat na hulle sal omsien of waarheen hulle kan vlug nie. Ons is nie kolonialiste nie, maar burgers met regte. Ons eise oor regstellende aksie, minderheidsregte, ons taal, selfbeskikking, ensovoorts is billik en in ooreenstemming met die jongste wêreldtendense.
Daar is wit mense wat as individue goed leef in Afrika-state soos Kenia en die Ivoorkus. Hulle plaas egter hul geld in ’n Switserse bank, hou vakansie in Spanje en stuur hul kinders na skole in Brittanje.
Dit is kolonialisme en voldoen aan Smith se kritiek.
Afrikaners se posisie is anders. Ons het ’n reuse-bydrae gelewer om Suid-Afrika die sterkste staat in Afrika te help maak. As gevolg daarvan word Zuma genooi om die G8-beraad by te woon. Die meerderheid wit mense lewer steeds ’n bydrae omdat hulle weet as die Suid-Afrikaanse skip sink, sink ons almal saam. Maar ons eis ook meer as die individue in Kenia en die Ivoorkus. Ons wil as ’n gemeenskap in Afrika oorleef. ’n Gemeenskap het ’n eie gemeenskapslewe; het skole en universiteite waar hul taal en kultuur aan die volgende geslag oorgedra word sonder enige diskriminasie.
Is dit te veel gevra om jouself in Afrika te mag wees?
As jy jouself moet opoffer om aanvaar te word en te mag oorleef in Afrika, dan is die prys te hoog.
Onthou, om ná ’n ramp aan ’n stomp in die see te hang is ook ’n baie primitiewe vorm van oorlewing.
Alles hierbo gesê beteken egter nie dat ons soos altyd kan voortgaan nie.
’n Debat oor hoe ons moet aanpas, is ’n meer sinvolle debat as ’n eis dat ons alles moet prysgee vir oorlewing.
Vier riglyne vir debat
* In die soeke na antwoorde moet ons ons verwagtinge afskaal en realistiese eise stel.
Sommige Afrikaners hoop vir ’n kitsoplossing waar byvoorbeeld die ANC skeur of in die volgende verkiesing verslaan word. Diep onderliggend is dit ’n poging om op ’n maklike manier iets van die ou orde te herstel.
Dit gaan nie só werk nie.
Ander Afrikaners hoop weer op die ineenstorting van die land – hoe gouer hoe beter. Die fout in hul denke is om te glo dat ná so ’n ineenstorting die ou orde herstel sal word. Die teendeel sal gebeur. Ná so ’n ineenstorting sit Suid-Afrika waarskynlik met ’n militêre diktatuur deur een van die nuwe generaals en geen grondwet of ander beskerming nie.
Die les wat die meeste Afrikaners nog moet leer, is dat die Afrikaner ná die gebeure van 1994 sy verwagtinge en eise in ooreenstemming moet bring met sy getalle, met sy werklike ekonomiese krag en met sy vermoë om dit wat hy het te kan behou.
* In die soeke na oplossings vir voortbestaan in Afrika moet die oplossing modern en regverdig teenoor ander, maar ook regverdig teenoor die Afrikaner wees.
Ons situasie is nie so uniek soos baie wil maak nie. Internasionaal is daar talle moderne voorbeelde van hoe minderheidsgroepe se taal, kultuur en ander behoeftes sinvol in ag geneem kan word.
Politieke korrektheid maak dat ons tans debatte daaroor vermy.
* Die Afrikaner moet vrede maak met Afrika en die feit dat hy van Afrika is.
Die toekoms van Afrikaans en die Afrikaner sal nie in Europa, Kanada of Australië beslis word nie, maar in Afrika.
Die Afrikaner is gou om te sê dat hy van Afrika is, maar sy optrede dui dikwels op die teenoorgestelde.
Daar is geen manier hoe die Afrikaner van die werklikhede van Afrika, ook dit waarvan hy nie hou nie, kan wegvlug nie. Deur Afrika te verlaat is ’n oplossing vir individue, maar nie vir die hele gemeenskap nie. Om met Afrika vrede te maak beteken nie om afstand te doen van ons Westerse kultuurwortels nie. Dit beteken wel dat die Afrikaner met Afrika se probleme identifiseer en met sy kundigheid ’n unieke rol in Afrika kan speel.
* Die Afrikaner sal sy eie toekoms moet skep en nie sy hoop op die regering of ander groepe plaas om hom te red nie.
is dit onverantwoordelik om passief te wag dat die regering die probleme moet oplos.
Andersyds hoef ’n regering nie ’n struikelblok te wees nie.
’n Wyse regering kan deur samewerking en onderhandeling dit mak-liker maak vir homself en vir so ’n minderheidsgroep om sinvol te leef en ’n bydrae in almal se belang te kan lewer.
Soos baie Afrikaners nog moet aanpas, moet baie van Zuma se volgelinge ook aanpas. Te veel kabinetslede en ANC-volgelinge verkies nog die Mbeki-standpunt.
Dit is ’n lekkerder standpunt in toesprake en kan makliker gebruik word om probleme te verduidelik en wit mense as sondebokke uit te wys.
Dr. Mulder is leier van die VF+ en adjunkminister van Landbou
- Beeld