Afrika nou reguit oor sy SA gevoel
2012-02-01 22:50
Ná die problematiese verkiesing van die nuwe voorsitter van die Afrika-unie (AU) sal die kontinentale organisasie nooit weer dieselfde wees nie, skryf Mandy Rossouw.
Sommer by die instap by die AU nuwe se hoofkantoor in Addis Abeba Maandag kon ’n mens die spanning aanvoel.
Die span wat die veldtog vir me. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake, gelei het om die nuwe voorsitter van die AU-kommissie te word, het almal rondom een van die plastiekpalmbome in die hoofkantoor – ’n geskenk van die Chinese regering – gesit en wag op nuus oor die verkiesing.
Geen finansiële of menslike hulpbron is gespaar in die veldtog nie.
Ministers, presidensiële raadgewers en topamptenare is aangesê om elke geleentheid te gebruik om Dlamini-Zuma se lof te besing en hoe Suid-Afrika van die AU ’n organisasie sal maak om mee rekening te hou.
By die AU het amptenare rondgeloop met swart gelamineerde brosjures in Engels en Frans met Dlamini-Zuma se gesig en ’n lys van haar prestasies in goud.
Daar is koorsagtig laatnag-vergaderings gereël om haar steun te toets en elke aand het die Suid-Afrikaanse regering een of ander verskoning uitgedink vir ’n partytjie in die vyfster Sheraton-hotel.
Wie ook al opdaag, kan jy dan op ’n lysie afmerk as soliede ondersteuners, dié wat nie daar was nie, moet nog aan gewerk word.
Dlamini-Zuma het te staan gekom teen mnr. Jean Ping, voorsitter. Nog nooit voorheen was daar mededinging om die posisie nie.
Die ongeskrewe reël in die AU was dat die groot vyf lande – Suid-Afrika, Nigerië, Libië, Algerië en Egipte – nie die posisie betwis nie sodat kleiner lande dit kan beklee.
Tot verlede jaar is die reël gerespekteer, maar die gemors rondom Libië en die Navo-invalle het dinge verander.
Suid-Afrika meen dit is tyd dat die AU meer respek afdwing by die Verenigde Nasies. En vandaar die besluit om Dlamini-Zuma se naam in die hoed te gooi.
Terug by span Suid-Afrika: onder die palmbome knaag die senuwees.
Me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van korrektiewe dienste minister, kyk pleitend na enigiemand in die nabyheid in die hoop vir goeie nuus.
Ping wen die eerste rondte naelskraap met drie stemme. Dis nie genoeg nie, hy moet ’n tweederdemeerderheid kry. Die tweede rondte wen Dlamini-Zuma met twee stemme.
Die derde rondte is weer deur Ping gewen, maar hy is nie outomaties die wenner nie. Hy moet self eers tweederdes van die 53 lande se steun kry om in die pos aan te te bly.
Toe hy dit nie kon doen nie, het die Suid-Afrikaners in die gange begin dans.
Hoewel Dlamini-Zuma nie gewen het nie, was Ping en dit wat hy volgens hulle verteenwoordig – Franse belange – ook nou iets van die verlede. Die dans was egter voortydig.
In ’n laatnag-vergadering besluit die AU Ping mag in sy posisie aanbly tot daar weer ’n verkiesing gehou kan word, hierdie keer by die AU-beraad in Lilongwe, in Julie.
Met Libiese leier kol. Moeammar Ghaddafi uit die prentjie, is die spilpunt van mag binne die AU rondom Suid-Afrika en Nigerië.
Histories het hierdie twee lande nie ’n baie goeie verhouding nie omdat Nigerië homself sien as die volgende supermoondheid in Afrika en meen Suid-Afrika staan in die pad daarvan.
Suid-Afrika, op sy beurt, voel Nigerië het nie die morele basis om Afrika te lei nie.
“Hul land is ’n gemors – terrorisme, korrupsie en geen plan om dit te verander nie. Hoe dink hulle gaan hulle beter wees as Suid-Afrika,” het een amptenaar van die departement van buitelandse sake gesê.
Pres. Jacob Zuma het sedert verlede jaar elke moontlike geleentheid gebruik om pres. Goodluck Jonathan van Nigerië te oorreed om Dlamini-Zuma te ondersteun.
Toe Jonathan Sondagaand met sy cowboyhoed by die laaste partytjie van Suid-Afrika in die Sheraton inwals, is hy soos ’n held ontvang. Span Suid-Afrika het heimlik gehoop dit beteken hy is nou aan hul kant.
Maar hulle was verkeerd. Suid-Afrika se oorheersing op die vasteland is vir lande soos Nigerië ’n groot bron van kommer.
Suid-Afrika se besluit om die VN se resolusie oor Libië te steun, en Suid-Afrika se vreemde standpunt oor die Ivoorkus – dat die verloorder in die verkiesing, Laurent Gbagbo, in sy pos moet bly – het die gety teen Suid-Afrika laat draai.
Op sy beurt voel Suid-Afrika te veel Afrika-lande het nog bande met voormalige koloniseerders, spesifiek Frankryk, en dit beteken dat Afrika nooit op sy eie voete sal kan staan nie.
Maar dit is nie asof enigiemand dink die AU is ’n modelorganisasie nie. AU-amptenare vertel hoe die organisasie sukkel om sy geld te bestee omdat te min mense weet hoe die prosesse werk.
Korrupsie kom ook voor. Soos een senior amptenaar verduidelik: “Elke land sien ’n posisie by die AU as ’n geleentheid om geld te maak vir sy politici.
Veral klein lande stuur hul amptenare hierheen want hulle weet nie wat om met hulle te doen by die huis nie. So ons kry die slegste amptenare wat net een ding op die brein het: Geld.”
En almal het geweet hierdie praktyke sou waarskynlik nie Dlamini-Zuma se goedkeuring weggedra het nie.
Afrika-politici was ook bang Suid-Afrika gebruik die AU om sy eie belange te bevorder.
Suid-Afrika was van al hierdie vrese bewus, maar het steeds gemeen hy kan die verkiesing wen. Nou is dinge vir altyd anders by die AU.
Probleme wat lande met Suid-Afrika het, is nou in die ope. Die verkiesing het ook aan Suid-Afrika se ondersteuners gewys hoe sterk die anti-Suid-Afrika sentiment is.
En wanneer Suid-Afrika probeer om by die Verenigde Nasies ’n permanent setel in die Veiligheidsraad te kry, sal minder Afrika-lande gretig wees om in die openbaar Suid-Afrika te steun.
Die verkiesing het die onderliggende swere wat in die AU bestaan, laat oopbars. Die AU sal hierna nooit weer dieselfde wees nie.