Afrika se kennis kwyn
2011-12-01 22:58
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Afrika se bydrae tot wêreldwetenskap neem af en al hoe meer studente kies om hul onderrig oorsee voort te sit. Afrika se vermoë om kennis te produseer móét uitgebou word, skryf
Johann Mouton.
Die belangrike rol van moderne navorsingsuniversiteite in die kennisekonomie word allerweë hoog aangeslaan.
Namate die ekonomie en die samelewing toenemend op kennis staatmaak om vooruitgang te bewerkstellig, aanvaar universiteite al hoe meer die verantwoordelikheid om daardie wetenskaplike kennis te produseer en te versprei.
Tog, hoewel hierdie tendens dalk vir ontwikkelde lande in die Noorde geld, is dit selde van toepassing op universiteite in arm en ontwikkelende lande – veral in Afrika suid van die Sahara, waar universiteite waarskynlik die hoofterrein (indien nie die enigste terrein nie) van aktiewe kennisproduksie is.
In teenstelling met hul noordelike bure gaan hierdie lande dikwels gebuk onder ’n gebrek aan navorsingslaboratoriums en staatsinstitute met volop hulpbronne.
In die afgelope 30 jaar het hierdie stand van sake dermate vererger dat ’n mens sou kon sê dat die wetenskap in menige Afrika-land stelselmatig gedeïnstitusionaliseer is.
’n Reeks gebeure in die tweede helfte van die vorige eeu – van burgeroorloë tot die globalisering van handel deur internasionale magte – het talle Afrika-ekonomieë ernstig geknou.
Afgesien van die skuldwolk wat bo Afrika bly hang, het dit die vasteland al hoe afhankliker van ontwikkelde lande se steun gemaak.
Die einste internasionale magte (veral die Wêreldbank) wat in die 1980’s en 1990’s vir die afname in uitvoervolumes en die daling in die pryse van primêre produkte verantwoordelik was, het ’n besliste besluit geneem om basiese eerder as hoër onderwys te ondersteun en te ontwikkel.
Dié besluit is op twee redes gegrond.
Eerstens is aanvaar dat die opbrengs op belegging in laer- en hoërskoolonderrig veel groter sou wees as met hoër onderwys.
Die tweede rede hou verband met die erkenning van basiese onderwys as ’n fundamentele mensereg.
Dít het uiteraard die klem na laer onderwys laat verskuif, wat op sy beurt menige universiteit plotseling in ’n finansiële verknorsing gedompel het en die voorste akademici in skares na ontwikkelde lande of die winsgewende private sektor laat stroom het.
In hierdie jare het navorsing en vakkundigheid die swaarste daaronder gely, en is Afrika se bydrae tot wêreldwetenskap op ’n konstante afdraande pad.
Volgens die Universiteit van Leiden se Sentrum vir Wetenskap- en Tegnologiestudie was Afrika suid van die Sahara se aandeel aan wêreldwetenskap (aan die hand van die getal referate wat in die sitaatindekse van die Instituut van Wetenskaplike Inligting gepubliseer is) in 1996 maar sowat 0,7%.
Sedert Afrika se hoogtepunt in 1987 het die vasteland meer as 11% van sy aandeel aan wêreldwetenskap verloor; suid van die Sahara het dit met 31% gekwyn.
Paul Zeleza, een van Afrika se mees gevierde vakkundiges in die laaste paar jaar, reken dat interne omstandighede aan Afrika-universiteite die skuld vir hierdie toenemende agteruitgang moet kry.
Staatstrukture weerspieël dikwels die stand van die staat, sê Zeleza, deels omdat senior universiteitsadministrateurs (in baie gevalle) staatsaanstellings is wat op hul beurt eenheidshoofde laer af in die administratiewe hiërargie aanstel. Dít het ’n domino- uitwerking op verskeie besluitnemingsprosesse met betrekking tot kurrikula, keuring, bevordering, werktoewysing, personeelgradering en navorsing.
Buiten die ernstige verlies aan menslike kapitaal (wetenskaplikes en akademici) moet ’n mens nie die sogenaamde sekondêre intellek-trek uit die oog verloor nie: nagraadse studente wat hul studie eerder aan instellings buite hul geboorteland voortsit.
’n Gebrek aan hulpbronne, geriewe en kundigheid word as die hoofredes daarvoor aangevoer, asook dat Afrika-universiteite nie voldoende magister- of doktorale programme bied om voor in te skryf nie.
Dít word gestaaf deur die “uitwaartse beweeglikheidskoers”, ’n maatstaf wat Unesco gebruik om in enige bepaalde stadium aan te dui watter persentasie van ’n land se studentebevolking oorsee studeer. In Afrika suid van die Sahara het Botswana met 87% die hoogste uitwaartse beweeglikheidskoers. Namibië, Lesotho, Swaziland, Mauritius en Zimbabwe lê bo 30%.
Daarenteen het Suid-Afrika ’n hoë “inwaartse beweeglikheidskoers” omdat baie van dié studente hul akademiese bevryding hier kom najaag. Tog is die VSA en Brittanje nog die gewildste bestemmings vir nagraadse studie.
Al die kwessies wat tot dusver genoem is, noodsaak kennelik die vestiging van ’n toegewyde vermoëbou- sentrum wat Afrika-vakkundigheid sal ondersteun, versterk en vernuwe.
Aan die Universiteit van Stellenbosch, mý instelling, het ons die Afrika Doktorale Akademie (ADA) tesame met die nagraadse skool in die lettere en sosiale wetenskappe in die lewe geroep om hierdie uitdagings die hoof te bied en Afrika opnuut as ’n dinamiese rolspeler in die kennisekonomie te vestig.
Die ADA wil aan huidige en voornemende doktorale studente navorsingsopleiding en -steun van gehalte bied, en senior akademici boonop beter toerus om nagraadse studente te bestuur en te lei.
’n Afrika-wye kennisnetwerk sal bestaan uit onder meer somer- en winternavorsingskole, sertifikaatkursusse vir doktorale studieleiers, ’n lesingreeks oor navorsingsmetodologieë en sosiale teorie, en ’n seminaarreeks oor die bestuur van doktorale studie (veral vir dekane, direkteurs en navorsingsentra wat doktorale studie ondersteun). Kollokwiums sal ook oor die vasteland heen aangebied word om senior akademici belas met nagraadse studieleiding in te lig oor en op te lei in verskeie onderwerpe met betrekking tot studieleiding en doktorale onderrig.
Buiten bogenoemde is die ADA se navorsingsintensiewe program, wat voorlopig as die Afrika-doktoraat bekend sal staan, bedoel om in vennootskap met navorsingsentra en -organisasies van oor die hele vasteland heen uitgevoer te word.
Een van die doelwitte is byvoorbeeld die ontwikkeling van ’n kundigheidsnetwerk in hoëronderwysstudie, veral aangesien vakkundiges van die hele Afrika genooi sal word om deel te neem. Dit staan by my buite twyfel dat Afrika dringend ’n nuwe generasie akademici nodig het – nie net om intellektuele kapitaal uit te brei nie, maar om Afrikane aan te moedig om daadwerklik aan die kennisekonomie deel te neem. Dít is veel makliker om te bereik indien universiteite nagraadse onderrig van die hoogste gehalte in ’n bevorderlike omgewing vir leer en innovasie bied – juis die omstandighede wat die ADA wil skep.
- Prof. Mouton is die direkteur van die ADA in die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch.
