Baas sê oor ENB-beurse
2010-01-07 20:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Dis ’n verdraaide boodskap wat oor Eerste Nasionale Bank (ENB) se beursskema uitgestuur word, skryf
dr. Michael Jordaan, uitvoerende hoof van die bank, nadat ENB die laaste tyd erg oor dié beurse gestriem is.
Eerste Nasionale Bank (ENB) het die laaste week of twee onder kwaai kritiek deurgeloop oor ’n beursskema wat vanjaar vir die eerste keer beurse gaan uitbetaal aan die kinders van die bank se swart werknemers wat ingevolge die voorwaardes van die skema vir die beurse in aanmerking kom.
Die bank is wyd beskuldig van rassisme en diskriminasie in sommige media en deur sommige vakbonde, werknemers en lede van die algemene publiek omdat slegs swart mense deur die spesifieke beurs bevoordeel gaan word.
So groot was die ontsteltenis dat selfs ’n Facebook-groep, No to FNB Racism!, in die lewe geroep is en Twitter aan die brand gepraat is deur ontsteldes.
Dit is egter so dat die kritiek grootliks kom van mense wat nie al die feite tot hul beskikking het nie.
As uitvoerende hoof van ENB kan ek die versekering gee dat dit geensins die bedoeling was om aanstoot te gee of om ’n sekere groep mense te bevoordeel ten koste van ’n ander nie.
Ons begryp die emosie wat ontketen is. Swart ekonomiese bemagtiging is, ’n goeie 16 jaar in die nuwe Suid-Afrika in, ’n teer punt in Suid-Afrika.
Swart mense meen dikwels dat die ongeregtighede van die verlede nog nie reggestel is nie, terwyl sommige wit mense voel hulle is nou die nuwe benadeeldes.
Boonop is die kwessie in die media aangebied asof ons nie regtig omgee vir ons wit werknemers nie. Niks is verder van die waarheid nie.
Dit is nie nodig om teen enigiemand te diskrimineer nie.
’n Moontlike rolmodel
Inteendeel, dit is my persoonlike en ook ENB se doelwit om ’n beter Suid-Afrika vir alle burgers te bou, ’n land waar swart ekonomiese bemagtiging uiteindelik nie meer nodig is om die ongelykhede van die verlede reg te stel nie.
Hoe gouer ons by daardie punt kan uitkom, hoe beter vir ons almal.
Totdat ons daardie punt bereik, is swart ekonomiese bemagtiging egter nog iets wat ooreenkomstig landsbeleid van ons verwag word.
Uit daardie oogpunt was ons mikpunt met die beursskema eerder om swart ekonomiese bemagtiging soos vereis toe te pas, maar sonder om net enkele swart individue te verryk, soos dikwels die geval met sodanige transaksies is.
Die feit is dat swart ekonomiese bemagtigingstransaksies daagliks plaasvind. Ons kan nie daarby verbykom nie, dit moet gebeur.
Daarom het ons gemeen dat, pleks van ’n paar individue, dit ’n veel beter opsie sou wees om op ’n wye front mense te probeer bevoordeel deur dit vir die kinders van swart werknemers moontlik te maak om hul opvoeding so ver moontlik te neem deur beurse aan hulle toe te ken. Op daardie manier bevoordeel dit nie net ’n klein groepie van dikwels reeds welgestelde mense nie.
Eerder as die kritiek waaraan ons blootgestel is, kan ’n mens aanvoer dat opvoeding en die jeug lofwaardige doelstellings is.
So gesien behoort beurse aan swart kinders die rolmodel van toekomstige swart ekonomiese bemagtingingstransaksies te wees.
Die beursskema maak deel uit van die First Rand Staff Assistance Trust.
Die trust is gestig as deel van ’n swart ekonomiese bemagtigingstransaksie wat reeds in 2005 tot stand gebring is. Die bevoordeeldes van die trust is vasgestel as die kinders van swart werknemers.
Die trust het nou tot so ’n mate geld gegenereer dat dit vir die eerste keer moontlik is om op ’n beperkte grondslag beurse te begin toeken.
Daar is besluit dat kinders van werknemers wat minder as R100?000 per jaar verdien in aanmerking vir die beurse sal kom.
Kom maak dit beter
Dit beteken egter geensins dat wit werknemers benadeel word nie.
Die betrokke beursskema maak slegs ’n klein persentasie uit van die bank se bydrae tot opvoeding.
ENB bied ’n verskeidenheid beurse waarom alle werknemers kan aansoek doen en die aansoekers word slegs op meriete, soos skolastiese prestasie en behoefte, beoordeel.
Dit is hierdie beurse wat ons in die toekoms, soos ook in die verlede, gaan gebruik om seker te maak niemand word benadeel nie, maar dat almal ’n gelyke kans het om vir beurse in aanmerking te kom, deur watter skema ook al.
Daar is geen rede waarom ENB enigsins teen wit werknemers, of enige wit mense, sou wou diskrimineer nie.
Om in die moderne markekonomie te oorleef, is hoogsmededingende ondernemings daarop aangewese om die beste personeel aan te stel en te bevorder.
As werkgewer wil ons aantreklike loopbaangeleenthede aan die beste van alle groepe in die Suid-Afrikaanse samelewing bied.
Net so kan ons as diensverskaffer nie bekostig om enige van ons kliënte te vervreem nie.
Benewens beursskemas is ENB ook ’n trotse ondersteuner van verskeie inisiatiewe wat help om die nasie te bou, soos die Wêreldbeker-sokkertoernooi, South Africa – The Good News, asook die Homecoming Revolution.
Ek gesels dus dikwels met oorsese Suid-Afrikaners wat wik en weeg of hulle moet terugkom na hul geboorteland.
Dit help nie om ’n valslik positiewe beeld van ons land te skep nie – hulle weet per slot van rekening presies wat hier aangaan, goed en sleg.
Vrae oor misdaad, diskriminasie en werkgeleenthede moet reguit beantwoord word.
Ons boodskap aan hulle is eenvoudig: Moenie wag totdat dinge beter raak nie, kom huis toe en maak dit beter.
Dit is altyd verblydend hoeveel jongmense wat die Homecoming Revolution-seminare bywoon, wel op die uitnodiging reageer, juis omdat hulle ’n positiewe bydrae wil lewer.
Dít is my droom
Die boodskap wat ten opsigte van ENB se beurse oorgedra is, was feitelik erg verdraai.
Soos vele ander ondernemings bly ons bedoeling om te help om ’n beter land vir alle Suid-Afrikaners te skep.
Diskriminasie en nasiebou is nie goeie vennote nie. Diskriminasie is in der waarheid ’n saak waarmee ek op persoonlike vlak ook worstel.
Ek het self drie jong dogters. Soos enige ouer bekommer ek my oor hul toekoms. My hoop en vertroue is dat hulle gaan grootword in ’n land waar daar nie teen hulle gediskrimineer gaan word omdat hulle wit (of vroue) is nie.
Ek glo die meeste Suid-Afrikaners deel in hierdie droom. Dit is ’n ideaal waaraan ons almal hard moet werk, want dit gaan nie vanself gebeur nie.
En die opvoeding van al ons kinders is ’n goeie plek om te begin.
- Beeld