Johannesburg

Saterdag

More sun than clouds. Cool.

4°C
17°C

7 day forecasts

Deel die lewe met mekaar hiér en nou

2009-11-04 22:02

Vyf jaar gelede het die teologiese storms om die Nuwe Hervorming in al hul felheid gewoed. Neels Jackson berig dat die Nuwe Hervorming Netwerk, wat daaruit gebore is, nou in kalmer waters vaar.


Die geboortedatum van die Nuwe Hervorming Netwerk (NHN) is 31 Oktober 2004. Dit was die dag dat ’n groep mense wat met die tradisionele kerke en hul leerstellings onvergenoegd geraak het, in ’n kapel in Centurion byeengekom het. Dit was hul eerste treetjie op ’n gesamentlike pad vorentoe.

Die gesig van die NHN was prof. Sakkie Spangenberg, Ou Testamentikus van Unisa en tot voor sy bedanking ’n proponent in die NG Kerk.

Hy het al hoe meer vrae begin vra oor wat hy as die meesterverhaal van die Christendom bestempel. Dié van sondeval, verlossing en wederkoms.

Leerstellings soos die erfsonde, het hy gesê, kan nie op die teks van die Bybel gebaseer word nie.

Sulke sienings het gelei tot klagte van leerdwaling en uiteindelik tot Spangenberg se bedanking uit die kerk.

Spangenberg was egter nie alleen nie. Daar was ’n groep mense wat ontnugter, teleurgesteld en seergemaak gevoel het en die kerk vaarwel toegeroep het.

Hulle wou iets nuuts stig, maar dit sou nie weer ’n kerk wees nie. Dis hoe die Nuwe Hervorming Netwerk tot stand gekom het.

Dit sou die voertuig word vir mense wat nie langer in die kerk tuis is nie, maar wat saam begin het om nuwe maniere te soek om sin te vind in die lewe.

Mnr. Pieter van der Merwe, huidige voorsitter van die NHN, sê die NHN neem steeds nie dogmatiese standpunte in nie. Daar is nie iets soos ’n amptelike NHN-standpunt oor byvoorbeeld Jesus se opstanding uit die dood nie.

Hul grootste bate is die oop en vrye gespreksruimte. Mense kan binne die NHN met mekaar praat oor hul beskouings. Hulle kan hul beskouings op tafel sit om bespreek te word sonder om bang te wees dat hulle daarvoor kwalik geneem kan word.

Die vlagskip van hul werksaamhede is die byeenkomste wat elke tweede Sondag in Midrand gehou en waar uiteenlopende temas bespreek word. Daarby het hulle huisgroepe wat op hul eie ritme vergader en self temas kies vir bespreking. Hulle hou ook van tyd tot tyd naweekseminare.

Van der Merwe sê aanvanklik het hulle baie tyd bestee aan die dekonstruksie van kerklike dogmas. Hulle het na navorsing gekyk en dit ontleed en bespreek.

Mettertyd het hulle egter besef hulle kan nie daarby bly nie. As hulle die kerk en sy dogmas agtergelaat het, moes hulle op ander maniere sin vind. Hulle moes begin rekonstrueer.

Hulle wou egter nie nuwe dogmas skep wat maar net weer daartoe sou lei dat sommige mense as reg en ander as verkeerd gesien sou word nie.

Dit sou immers opnuut die vrye gesprek in die gedrang bring. Waaroor sou hulle dan met mekaar gesels? Van der Merwe sê die konsensus wat na vore gekom het, is dat almal die lewe hiér en nou met mekaar deel. Hulle sou oor die lewe praat en hulle spoor mekaar aan met die leuse: “Lééf die lewe!”

In hul besinning oor die lewe, gesels die NHN oor vier verskillende kontekste:

*Die spirituele konteks, waarin hulle gesels oor wat Van der Merwe bestempel as die misterie;

*Die sosio-politieke konteks, waarin hulle kwessies bespreek sonder dat dit partypolitiek word;

*Die kosmologiese konteks, waarin klein en groot goed van die fisiese wêreld ter sprake kom; en

*Die gemeenskapskonteks, met die klem op onderlinge, maar ook ander sosiale verhoudings.

In die gesprekke oor dié temas wil die NHN telkens drie goed doen. Hulle wil kennis neem van die jongste wetenskaplike ondersoeke in ’n veld, hulle wil dit verstaanbaar aanbied en hulle wil die implikasies vir die lewe hier en nou uitklaar.

Die gespreksruimte wat hulle geskep het, is uniek, veral onder Afrikaners, sê Spangenberg. Die een grens wat daar gestel word, is dat jy nieiemand anders aanval oor sy of haar standpunt nie.

“As jou standpunt anders is, het ek vrede. Ek hoef jou nie te oortuig of te evangeliseer nie,” sê mnr Hardie Fourie, ondervoorsitter van die NHN.

Die NHN se ampsdraers is dit eens dat hulle ook nie die kerke wil aanval nie. “As dit vir hulle werk, is dit goed so,” is die houding. Hulle vra net dieselfde van die kerke: ruimte om hul eie oortuigings te huldig en uit te leef.

Ná vyf jaar is die NHN nie ’n groot groep mense nie. Hulle het sowat 100 betaalde lede en 400 tot 500 name op hul databasis.

Soos hul naam aandui, is hulle ook ’n netwerk wat hande vat met ander nie-tradisionele groepe in verskeiedele van die land, sommige van hulle wat selfs as gemeentes bekend staan. Met sulke groepe wil hulle graag skakeling bevorder. Hoewel die NHN nie ’n kerk is nie, het hulle ’n kerk geregistreer sodat voormalige predikante byvoorbeeld hul status as huweliksbevestigers kan behou.

Hulle lewer dan ook dienste aan hul mense wat tradisioneel deur kerke gedoen is. Hulle trou mense en hou begrafnisse. Hulle doop nie, maar as ’n lid vra, hou hulle ’n seremonie waardeur die nuwe lewe van ’n baba verwelkom word. Daarby vervul hulle ook ’n sosiale funksie vir hul lede. Met die wegbreek van die tradisionele kerke het baie van hulle vervreemding beleef. By die NHN is daar ruimte om nuwe vriendskappe te smee. Hulle doen dinge saam soos om te gaan stap of ander uitstappies saam te onderneem. En hulle doen dit uit een sentrale vertrekpunt: respek vir die lewe, vir mekaar en vir alle lewe.

In hul geledere is daar mense wat heeltemal afstand gedoen het van godsdiens en ander wat nog op ’n manier daaraan vashou. Daar is lede wat ook nog lidmate is van kerke. Elkeen is op sy eie reis en word die ruimte daarvoor gegun.

- Beeld

Lewer kommentaar op dié storie


Hans 11/5/2009 9:05:19 AM
Die kerke praat so veel oor hervorming en besinning dat dit hoog tyd word dat gesels word oor hervorming. Dit is in so 'n oop ruimte baie eenvoudiger waar die gesprek nie deur die dogmas van 'n kerklike denomnasie beperk word nie. Mag daar baie deelneemres wees en god's seen vir die NHN
Hansie 11/5/2009 2:37:54 PM
"kalmer waters"? My indruk is eerder dat die lede van die Nuwe Hervorming Netwerk 'n baie eensydige wetenskaplike benadering in hulle "dekonstruksie van dogma" gebruik. Enige ingeligte leser wat oor die jare standpunte soos die van prof Spangenberg gevolg het sal moet erken dat hy as basiese vertrekpunt enige bonatuurlike ingrype deur God verwerp. Dit is 'n keuse wat hy maak waarop hy natuurlik geregtig is. Maar dit is nie 'n "beter" of meer wetenskaplike benadering tot die Bybel nie. Ek sal die "klam waters" eer glo as iemand soos prof Spangenberg dit in die openbaar sal erken dat daar ook baie ander Christen wetenskaplikes is wat radikaal van hom verskil sonder dat hulle summier afgemaak kan word as fundamentaliste. Dit het ek egter nog nerens uit sy pen gelees nie.
Johan 11/5/2009 2:44:45 PM
Ek respekteer prof Sakkie Spangenberg al stem ek nie met sy teologiese standpunte saam nie. Waar ander liberale teoloe soos Julian Muller in die kerk bly (alhoewel hy nie in Jesus se lee graf glo nie), het Spangenberg uit die kerk bedank. Ek daag teoloe soos Muller en ander eenders denkendes uit om die daad by die woord te sit en Spangenberg se voorbeeld te volg.Of kan alles nou maar geglo word in die Kerk?
Hestie Britz 11/5/2009 3:55:05 PM
Dit is goed en reg dat elkeen kan glo soos hy of sy wil. As ek mag vra, sonder om enigsins prof Spangenberg en ander NHN lede se reg om te glo soos hulle wil te bevraagteken: Waarop word waardes en norme gebasseer as daar geen "dogma" en 'n persoonlike God is nie? Watter raamwerk kan in plek gestel word om 'n regverdige samelewing daar te stel? Ek wonder maar net.
Hennie 11/5/2009 5:27:22 PM
My vraag is of prof Spangenberg en kie nie maar so klein bietjie langer moes uitgehou het binne die NG Kerk nie. Is dit nie juis Beeld wat onlangs berig het dat Dr Ben du Toit, prof Danie Veldsman en prof Julian Muller van die NG Kerk nie meer in Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood glo nie? Was Du Toit en Muller nie ook onskuldig bevind aan dwalinge nie? Dalk vind daar nog in die nabye toekoms inderdaad kerkvereniging plaas - nie tussen die VGK en NGK nie. Tussen die NHN en die NGK?
Hennie 11/5/2009 9:20:30 PM
Die vier genoemde kontekste van die Nuwe Hervormingsnetwerk, soos die visie en missie op hul webblad, bied bloot tydelike oplossings vir probleme hier op aarde - daar is geen sprake van ‘n ewigheidsperspektief, ‘n omvattende, ewige verlossing nie.

Daar is geen teken van ‘n waardering vir die gesag en betroubaarheid van die Skrif nie, die Vaderskap van God, die reddende genade van Jesus Christus deur Sy dood aan die kruis of die troosvolle gemeenskap van die Heilige Gees nie. Daar is geen beduidenis van lering aangaande toekomstige dinge nie. Die oorheersende gedagte is dat soos die opskrif van die artikel sê: “Deel die lewe met mekaar hier en nou”.

Wat ‘n hoop-lose, troostelose boodskap, wat ‘n verskraling van hele Bybelse werklikheid! Die artikel het geen verwysing na Jesus óf die evangelie nie – ek hoop nie hulle noem hulself Christene nie?
peet 11/6/2009 10:35:01 PM
Die NHN - Vyf! (gedekonstrueerde) evangelies - en geen goeie nuus...
Johannes Cornelius 11/6/2009 11:32:23 PM
Ek wil graag Hestie Britz se vraag beantwoord: "Waarop word waardes en norme gebasseer (sic) as daar geen "dogma" en 'n persoonlike God is nie? Watter raamwerk kan in plek gestel word om 'n regverdige samelewing daar te stel?" Dis 'n billike vraag en verdien 'n billike antwoord. Kom ek begin deur twee soortgelyke vrae te vra:
Was IS daardie waardes en norme wat op "dogma" en 'n persoonlike God gebaseer is?
Welke van hierdie waardes en norme is nie ook deel van die lewenstyl van wetsgehoorsame mense wat nie in "dogma" of aan 'n persoonlike God glo nie?
Elke groep en individu in 'n samelewing is onderhewig aan landswette, wat in Suid-Afrika onder die Grondwet staan. Die Grondwet verteenwoordig die regte van mense van alle gelowe, maar ook die regte van mense met geen geloof in die bonatuurlike nie.
Die Grondwet maak geen melding van geloof of godsdiens of "dogma' of 'n persoonlike God van enige aard as die bron van die waardes en norme en morele standaarde wat daarin vergestalt word nie. Die woord "God" kom slegs as 'n generiese begrip in die Aanhef tot die Grondwet voor, en word verder verswyg in al 14 hoofstukke daarvan. Skedule 2 maak wel melding van die gebruik van die uitspraak "So help me God" tydens eedneming, maar weereens as 'n generiese godsbegrip. En tog rig hierdie sekulêre grondwet die waardes en norme van 'n hele land. Dieselfde geld vir die grondwette van die meeste ontwikkelde westerse en oosterse lande. Daar is geen teken in enige van hierdie waarde- en normgewende dokumente wat aandui dat enige "godsdiens" die morele basis daarvan vorm nie. Ek vermoed Hestie bedoel in werklikheid christelike waardes en norme as sy van hierdie begrippe praat. Indien wel, is die vraag nog soveel meer kompleks. Apartheid was byvoorbeeld algemeen verdedig deur die christelike apologete in die "ou" Suid-Afrika. Sou dit beteken dat apartheid 'n christelike waarde, 'n christelike norm is? Is slawerny (ook algemeen onder christelike – en moslem – seën bedryf vir baie eeue) 'n christelike waarde? Wat sou dan die morele verskil wees tussen christelike waardes en die waardes van wetsgehoorsame hindoes of moslems of ateïste wat ook onmenslike en brutale dade soos moord, verkragting en diefstal sterk veroordeel? Is daar 'n hoër morele standaard heersend onder christene wat nie gevind kan word by ander wetsgehoorsame godsdienstige of nie-godsdienstige groepe nie? As dit wel waar is, word dit duidelik nie weerspieël in gepubliseerde studies oor misdadigheid en ander onetiese optrede wat sekulêre lande vergelyk met sg. "godsdienstige" (religious) lande nie. Een studie (Paul, G.S. 2005, J. Religion & Soc., 7, http://moses.creighton.edu/JRS/2005/2005-11.html) bevind byvoorbeeld dat daar 'n sterk korrelasie bestaan tussen die persentasie van 'n bevolking wat glo in 'n skepper en dié aanbid, en hoër koerse van moord, aanranding, verkragting, mortaliteit by jeugdiges en jong volwassenes, seksueel-oordraagbare siektes, en tienerswangerskappe en aborsie, as in die ontwikkelde sekulêre demokrasieë. Die sterk uitsondering in hierdie tendens is die Verenigde State van Amerika, wat 'n geweldige groot christelike bevolking het! Verskeie studies sedertdien het, ten spyte van sterk (emosioneel-gedrewe) teenstand uit godsdiensgeledere, hierdie bevindings bevestig en uitgebrei na ander sosiale sfere, en byvoorbeeld bevind dat hoe groter die deel van BBP wat 'n land aan sy burgers se welvaart bestee, hoe meer nie-religieus die bevolking, en hoe laer die kerkbywoning.
Dalk beteken dit dat godsdiens (uitlewing van geloof aan "dogma" en eerbetoon aan 'n persoonlike God) dalk moreel inert is. Of dalk het geloof en godsdiens (of die gebrek daaraan) baie meer met die mense te doen wat dit beoefen/nie beoefen nie: sommige mense gebruik hulle uitgangspunte as 'n bron van liefde en goedheid, terwyl ander dit gebruik as 'n bron van haat en boosheid. Kies maar self – ek kies om goed te doen en om my naaste te respekteer omdat dit die regte ding is om te doen, en nie omdat ek glo aan 'n mite of met die hel gedreig word nie.
Anti-New Age 11/8/2009 11:43:11 PM
Wat hierdie is, is een van daai New-Age groepe. Waar Mense soos Deon Maas kan se hy dink Satanisme verdien om te erken word as n Geloof. Dit mense, is waar ons land besig is om heen te gaan - christene is besig om te van vir hierdie godelose nuwe wereld waar godelose mense in beheer is
Hennie 11/10/2009 7:51:57 PM
Ek wil graag aansluit by een van die gedagtes van Hestie Britz. My indruk van die NHN is dat hulle die hele Bybel as mities beskou, dus ook die Genesis verhale ingeslote die sondeval. Vir my as Christen verduidelik die eerste hoofstukke van Genesis die oorsprong van gehoorsaamheid/ongehoorsaamheid Dit gee vir my 'n aanvaarbare verduideliking van die oorsprong van die goeie en die kwade. In verdere Boeke in die Bybel leer ons dat God sy Wet aan Moses gegee het. Hierdie Wet resoneer in een of ander vorm dwarsdeur die hele Bybel.

Mense wat nie die Bybel erken nie, sal dus hul idee van reg en verkeerd kry van die bepaalde groep waarin hulle hul bevind. En WIE bepaal in so ‘n groep wat reg is en wat verkeerd? “The leader(s) of the pack” - so dit sal iets soos “the law of the jungle – the survival of the fittest ” wees. In elk geval glo hulle nie dat die mens geskape is na God se Beeld nie – hulle glo eerder wat Darwin sê – en is dit nie in lyn met ‘n oerwoud-denke nie?
Matt Heyns 11/11/2009 6:50:39 AM
Soek ons nog die Waarheid? Die Waarheid sal ons na die aanbidding van ons Skepper lei. Daarom moet ons bid dat die Afgesonderde Gees ons toerus om te onderskei tussen die Gees van die Waarheid en die gees van Satan. Die vry vertalings of "dynamic equivalents" beroof die skoot van die Waarhede in die oorspronklike Hebreeuse teks. Die Messiaanse geloof is baie jare gelede deur die Son aanbidders besoedel om hulle eie siening te pas. Die Shabbat of 4de gebod word bv verkrag tenspyte daarvan dat die Shabbat die teken van die ewige Verbond is. Ewe skielik is die leë graf n twispunt terwyl die Messias bewys het dat Hy dié Messias is. Sy opstanding is seer sekerlik n mistérie maar die bewyse, dat Hy wel opgestaan het, bestaan. Hy hét opgestaan en lewe as ons Verlosser. Hoe dit gebeur het is bo ons vuurmaak plek. Die koringkorrel, wat ontbind om n plant voort te bring, help om te verstaan. Die eind tye kom nader en ons sal wys wees om Openbaring na behore te verstaan en te gehoorsaam. Die Ewige Koninkryk van Yahweh is op pad aarde toe met of sonder geloof. Hierdie gebeurtenis is die Goeie Boodskap of Evangelie. Shalom!
Jou naam
*
E-posadres
*
Kommentaar
*
 
 
 

binne beeld

Weer
Verkeer
Lotto
Ksd: 13-18°C Sunny. Mild. Pta: 6-20°C Mostly sunny. Cool.
Jhb: 4-17°C More sun than clouds. Cool. Bfn: 5-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 14-25°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Cost Engineer/ Estimator

Gauteng,KwaZulu Natal - Durban,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

Embedded Software Engineer

Gauteng,KwaZulu Natal - Durban,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

Mechanical Engineer Bulk Materials

Gauteng,KwaZulu Natal - Durban,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i CitiSport AB 5-dr
2009
R 83,900.00

VOLKSWAGEN

Golf 5 2.0 GTi DSG 5-dr
2006
R 208,659.00

ISUZU

KB300 DTEQ D-Cab LX Dsl PU MY07
2009
R 301,715.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

VIERLANDEN

House R 1 750 000

BRYANSTON

Apartment R 1 300 000

CRAIGAVON

House R 1 290 000

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Gratis Speletjies - TE VEEL NUUS? Neem ‘n blaaskans

Kalahari.net - doen vandag jou inkopies aanlyn

Lae pryse op Boeke!

Miljoene titels om van te kies. Spaar nou tot 40%!

DVD's vir R129.95 Elk

Kry al die topverkopers en nuwe vrystellings vanaf R129.95 nou! 100e DVD's om van te kies.

Koop jou UNISA & Akademiese Teksboeke & WEN Groot

Koop enige teksboek van kalahari.net en 50 gelukkige lesers sal 'n R100-koopbewys elke dag van Maandag die 19de tot Saterdag 31 Julie wen.

Vuurwarm Musiekvrystellings

Kry jou gunstelingalbum van die musiekwinkel. Lae pryse op ALLE albums.

Tot 20% af op Elektronika

Besoek die Elektroniese winkel vir die nuutste produkte en toebehore. Fantastiese aanbiedings op handelsnaam-produkte.

Vandag se beste aanbod!

Tot 40% Af op Sagtebande

Miljoene Titels

Maak gebruik van dié fantastiese geleentheid & koop wonderlike nuwe uitreikings & ou gunstelinge.

iPods, Wii, toebehore, sonbrille, horlosies & meer by www.kalahari.net!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...