Deel die lewe met mekaar hiér en nou
2009-11-04 22:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Vyf jaar gelede het die teologiese storms om die Nuwe Hervorming in al hul felheid gewoed. Neels Jackson berig dat die Nuwe Hervorming Netwerk, wat daaruit gebore is, nou in kalmer waters vaar.
Die geboortedatum van die Nuwe Hervorming Netwerk (NHN) is 31 Oktober 2004. Dit was die dag dat ’n groep mense wat met die tradisionele kerke en hul leerstellings onvergenoegd geraak het, in ’n kapel in Centurion byeengekom het. Dit was hul eerste treetjie op ’n gesamentlike pad vorentoe.
Die gesig van die NHN was prof. Sakkie Spangenberg, Ou Testamentikus van Unisa en tot voor sy bedanking ’n proponent in die NG Kerk.
Hy het al hoe meer vrae begin vra oor wat hy as die meesterverhaal van die Christendom bestempel. Dié van sondeval, verlossing en wederkoms.
Leerstellings soos die erfsonde, het hy gesê, kan nie op die teks van die Bybel gebaseer word nie.
Sulke sienings het gelei tot klagte van leerdwaling en uiteindelik tot Spangenberg se bedanking uit die kerk.
Spangenberg was egter nie alleen nie. Daar was ’n groep mense wat ontnugter, teleurgesteld en seergemaak gevoel het en die kerk vaarwel toegeroep het.
Hulle wou iets nuuts stig, maar dit sou nie weer ’n kerk wees nie. Dis hoe die Nuwe Hervorming Netwerk tot stand gekom het.
Dit sou die voertuig word vir mense wat nie langer in die kerk tuis is nie, maar wat saam begin het om nuwe maniere te soek om sin te vind in die lewe.
Mnr. Pieter van der Merwe, huidige voorsitter van die NHN, sê die NHN neem steeds nie dogmatiese standpunte in nie. Daar is nie iets soos ’n amptelike NHN-standpunt oor byvoorbeeld Jesus se opstanding uit die dood nie.
Hul grootste bate is die oop en vrye gespreksruimte. Mense kan binne die NHN met mekaar praat oor hul beskouings. Hulle kan hul beskouings op tafel sit om bespreek te word sonder om bang te wees dat hulle daarvoor kwalik geneem kan word.
Die vlagskip van hul werksaamhede is die byeenkomste wat elke tweede Sondag in Midrand gehou en waar uiteenlopende temas bespreek word. Daarby het hulle huisgroepe wat op hul eie ritme vergader en self temas kies vir bespreking. Hulle hou ook van tyd tot tyd naweekseminare.
Van der Merwe sê aanvanklik het hulle baie tyd bestee aan die dekonstruksie van kerklike dogmas. Hulle het na navorsing gekyk en dit ontleed en bespreek.
Mettertyd het hulle egter besef hulle kan nie daarby bly nie. As hulle die kerk en sy dogmas agtergelaat het, moes hulle op ander maniere sin vind. Hulle moes begin rekonstrueer.
Hulle wou egter nie nuwe dogmas skep wat maar net weer daartoe sou lei dat sommige mense as reg en ander as verkeerd gesien sou word nie.
Dit sou immers opnuut die vrye gesprek in die gedrang bring. Waaroor sou hulle dan met mekaar gesels? Van der Merwe sê die konsensus wat na vore gekom het, is dat almal die lewe hiér en nou met mekaar deel. Hulle sou oor die lewe praat en hulle spoor mekaar aan met die leuse: “Lééf die lewe!”
In hul besinning oor die lewe, gesels die NHN oor vier verskillende kontekste:
*Die spirituele konteks, waarin hulle gesels oor wat Van der Merwe bestempel as die misterie;
*Die sosio-politieke konteks, waarin hulle kwessies bespreek sonder dat dit partypolitiek word;
*Die kosmologiese konteks, waarin klein en groot goed van die fisiese wêreld ter sprake kom; en
*Die gemeenskapskonteks, met die klem op onderlinge, maar ook ander sosiale verhoudings.
In die gesprekke oor dié temas wil die NHN telkens drie goed doen. Hulle wil kennis neem van die jongste wetenskaplike ondersoeke in ’n veld, hulle wil dit verstaanbaar aanbied en hulle wil die implikasies vir die lewe hier en nou uitklaar.
Die gespreksruimte wat hulle geskep het, is uniek, veral onder Afrikaners, sê Spangenberg. Die een grens wat daar gestel word, is dat jy nieiemand anders aanval oor sy of haar standpunt nie.
“As jou standpunt anders is, het ek vrede. Ek hoef jou nie te oortuig of te evangeliseer nie,” sê mnr Hardie Fourie, ondervoorsitter van die NHN.
Die NHN se ampsdraers is dit eens dat hulle ook nie die kerke wil aanval nie. “As dit vir hulle werk, is dit goed so,” is die houding. Hulle vra net dieselfde van die kerke: ruimte om hul eie oortuigings te huldig en uit te leef.
Ná vyf jaar is die NHN nie ’n groot groep mense nie. Hulle het sowat 100 betaalde lede en 400 tot 500 name op hul databasis.
Soos hul naam aandui, is hulle ook ’n netwerk wat hande vat met ander nie-tradisionele groepe in verskeiedele van die land, sommige van hulle wat selfs as gemeentes bekend staan. Met sulke groepe wil hulle graag skakeling bevorder. Hoewel die NHN nie ’n kerk is nie, het hulle ’n kerk geregistreer sodat voormalige predikante byvoorbeeld hul status as huweliksbevestigers kan behou.
Hulle lewer dan ook dienste aan hul mense wat tradisioneel deur kerke gedoen is. Hulle trou mense en hou begrafnisse. Hulle doop nie, maar as ’n lid vra, hou hulle ’n seremonie waardeur die nuwe lewe van ’n baba verwelkom word. Daarby vervul hulle ook ’n sosiale funksie vir hul lede. Met die wegbreek van die tradisionele kerke het baie van hulle vervreemding beleef. By die NHN is daar ruimte om nuwe vriendskappe te smee. Hulle doen dinge saam soos om te gaan stap of ander uitstappies saam te onderneem. En hulle doen dit uit een sentrale vertrekpunt: respek vir die lewe, vir mekaar en vir alle lewe.
In hul geledere is daar mense wat heeltemal afstand gedoen het van godsdiens en ander wat nog op ’n manier daaraan vashou. Daar is lede wat ook nog lidmate is van kerke. Elkeen is op sy eie reis en word die ruimte daarvoor gegun.
- Beeld