Afrikaners streef daarna om te floreer
2010-06-11 00:29
Afrikaners word in die oë van die wêreld toenemend met belangstelling en selfs simpatie bejeën, skryf Danie Goosen.
Tim du Plessis is reg dat Afrikaners tot onlangs toe nog as die muishonde van die wêreld gesien is, maar besig is om dié status af te skud.
In plaas daarvan dat Afrikaners as boos gesien word, word hulle met simpatie en belangstelling beskou.
Afrikaners het rede om opgewonde hieroor te wees. Hoewel ons kan verskil oor wat dit beteken om ’n “florerende” gemeenskap te wees, weet ons dat gemeenskappe nie kan floreer as hulle hulself as muishonde ervaar nie.
En is dit nie juis wat kultuurgemeenskappe nastrewe nie – om florerend te wees?
As kultuurgemeenskappe hulself as muishonde ervaar, word hulle gekenmerk deur dinge wat tipies van talle Afrikaners die laaste jare geword het: In plaas daarvan om vanweë ’n gesonde selfbeeld verantwoordelikheid vir hul wêreld te aanvaar, hou hulle hul besig deur ander vir hul toestand te verkwalik.
Maar nog meer, hulle neig ook daartoe om in allerlei vorms van ontvlugting vas te val. En hoeveel voorbeelde van ontvlugting is daar nie tans onder Afrikaners nie?
Sommige vlug in ’n utopie van verbruik; ander beperk hulle tot ’n kultivering van hul eie, private voorkeure; ander neem hul toevlug tot buitensporige godsdienstige idees en ervarings; tot onpraktiese en uitgediende politieke idees; terwyl talle na ’n sterk en verlossende leier verlang wat hulle met die swaai van die staf van hul nood sal verlos.
As kultuurgemeenskappe floreer, sal hulle hul egter nie aan ’n kultuur van verwyt en ontvlugting oorgee nie.
Maar wat beteken dit om ’n florerende gemeenskap te wees?
In aansluiting by ou tradisies in die politieke geskiedenis kan vandag aangevoer word dat gemeenskappe floreer wanneer hulle verantwoordelikheid vir hulself aanvaar.
En wanneer hulle dus nie hul toekoms aan ’n groot staat, ’n magtige leier of ’n onbreekbare sentrum oorlaat nie. (Vanweë die struikelende staat word laasgenoemde buitendien ’n al hoe minder realistiese uitweg).
Kortom, gemeenskappe gefloreer wanneer hulle op ’n gemeenskaplike grondslag vir hulself intree en – bygesê – ooreenkomstig ou deugde soos matigheid, dapperheid, geregtigheid en verstandigheid aan gemeenskaplike sake deelneem.
Eeue se ervaring het egter geleer dat “floreer” ook beteken om ’n deelnemende verhouding met ander gemeenskappe in hul wêreld aan te knoop.
“Floreer” beteken ook om ’n hand van vriendskap na die ander uit te reik, bondgenootskappe en verstandhoudings te sluit en hulp te verleen.
Egte florering word in hierdie dubbele deelname (verantwoordelikheid vir die self sowel as bondgenootskappe met ander) moontlik.
Hoe kan dit gebeur? Ten minste die volgende drie dinge is in hierdie dubbele strategie belangrik.
Eerstens, Afrikaners sal ’n andersoortige verhouding met hul eie geskiedenis moet aanknoop. Terwyl die tradisie vol wenke is oor hoe gemeenskappe kan floreer, maak talle Afrikaners asof die tradisie nie bestaan nie.
Vir alle praktiese doeleindes funksioneer 1994 vir hulle as die “jaar nul”.
Om uit hierdie tydskapsule te breek, sal Afrikaners op ’n skeppender wyse met die verlede moet praat.
Om bloot nostalgies na die verlede en die leier op die perd te verlang, beteken nog glad nie dat jy in ’n sinvolle gesprek met jou verlede is nie. Inteendeel, deur die nostalgie kan die betekenis van die tradisie eerder op ’n afstand gehou word.
Tweedens, uit ’n oop gesprek met ons verlede kan Afrikaners ontdek dat die sentralistiese neiging om alles aan ’n sentrale staat (en ’n groot leier) oor te laat eintlik vreemd aan hul geskiedenis is. Veel belangriker as die sentralistiese sindroom van afhanklikheid is eerder die neiging om self verantwoordelikheid te aanvaar.
Vanuit ’n sentralistiese perspektief (dit wil sê vanuit die perspektief van die groot territoriale staat wat in die 20ste eeu tot stand gebring is) het Afrikaners daartoe geneig om neerhalend oor die hiperklein en desentralistiese republieke te wees wat hul voorvader orals in die binneland gestig het. (Van Swellendam en Graaff-Reinet af tot in Natal, Lydenburg en Ohrigstad, Stellaland en Goosen, die Vrystaat en Transvaal).
Die feit van die saak is egter dat hierdie klein republieke in die teken gestaan het van ’n kultuurgemeenskap wat verantwoordelikheid vir hulself aanvaar het. So sterk was die weersin in ’n sentrum onder sommige van ons voorvaders dat hulle nie onderling kon ooreenkom of hulle hoegenaamd ’n president of ’n enkele
leier wou gehad het nie.
In hierdie sin vir verantwoordelikheid jeens die plaaslike lê hul betekenis vir vandag opgesluit.
Derdens, hoewel ons voorvaders (net soos ander gemeenskappe) geen engeltjies was nie, het hul sin vir plaaslike verantwoordelikheid bykans sonder uitsondering gepaard gegaan met ’n sin vir vriendskapsbande met ander gemeenskappe.
Daarom ook die kontrakte en ooreenkomste met en hulpverlening aan talle stamme in die ou swart wêreld. Vir hulle was dit vanselfsprekend dat hul sin vir plaaslike verantwoordelikheid aan ’n sin vir bondgenootskappe geknoop moet word.
Hoewel dit vandag nie ’n gewilde ding is om te sê nie, het hulle daarmee by ’n oeroue “federatiewe” impuls uit onder meer die Nederlandse wêreld aangesluit. (Vergelyk die federatiewe denke van die Nederlander Althusius van die vroeë 17de eeu).
Daarvolgens aanvaar jy nie net verantwoordelikheid vir jou eie gemeenskap nie, maar is jy ook federatief verbind tot die lotgevalle van ander in jou wêreld.
Is dié gedagtes oor wat ’n florerende gemeenskap is alles dagdrome? My waarneming is dat hierdie dinge juis onder ’n nuwe geslag Afrikaners gebeur, asook onder diegene uit die ouer geslag wat hulself nie aan wrokkigheid en onttrekking oorgegee het nie.
Talle Afrikaners raak betrokke by die wel en wee van hul eie skole, hul eie dorpe, hul eie veiligheid, hul eie kunste en teaters, hul eie burgerlike bewegings, ensovoorts.
Tegelyk kan ook talle voorbeelde genoem word van Afrikaners wat op ’n verbeeldingryke wyse by ander gemeenskappe betrokke is. Boere van Bultfontein Landbou wat verlede week ingespring en gehelp het om die township Phahameng reg te ruk, is een van die jongstes daarvan.
In die mate waarin Afrikaners volhou om bogenoemde dubbele strategie te volg, sal ons waarskynlik steeds meer van die eertydse muishond-status afskeid neem. En dit is wonderlik.
Prof. Goosen is ’n filosoof en dosent in die departement godsdienswetenskap aan Unisa.