Johannesburg

Saterdag

More sun than clouds. Cool.

4°C
17°C

7 day forecasts

Die taal: 'n Blik van buite

2010-01-26 23:13

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Aan die vooraand van die F.W. de Klerk-stigting se beraad oor die behoud van Afrikaans as akademiese taal het twee vooraanstaande swart kommentators húl stemme laat hoor in dié debat, wat tans grootliks in wit Afrikaanse geledere gevoer word. Mondli Makhanya, redakteur van die Sunday Times, het Sondag in sy rubriek geskryf die ander taalgroepe kan gerus op dieselfde wyse as die Afrikaners vir hul tale in die bresse tree. Gister het Phylicia Oppelt, redakteur van Business Times, in The Times geskryf sy is Afrikaans, maar sy is moeg vir wit ou Afrikaanse mans wat "op en af spring" vir die taal. Hieronder is albei rubrieke, wat met toestemming geplaas is.



Afrikaners stel 'n puik voorbeeld met hul taaltrots

Mondli Makhanya

Die Verenigde Nasies se organisasie vir onderwys, kultuur en wetenskap (Unesco) bedryf ’n geruime tyd al ’n program wat bedreigde tale monitor.

Die program is getiteld: “Atlas of the World’s Languages in Danger of Disappearing” en word jaarliks op internasionale Moedertaaldag bygewerk. Dit is kommerwekkende leesstof.

Luidens verlede jaar se verslag word sowat die helfte van die wêreld se sowat 6 700 tale voor die einde van die eeu deur uitsterwing in die gesig gestaar.

Die tempo van uitsterwing wissel van streek tot streek en word ook beïnvloed deur die geskiedenis en regeringsbeleid. In die Amerikas is inheemse tale byvoorbeeld ’n knou toegedien deur wat Unesco noem die “uitwissing van hele volke” tydens die koloniale tydperk sowel as die verbete opmars van Engels en Frans.

Indië, waar Hindoe die amptelike taal is en Engels die vernaamste handelstaal, het ’n sterk beleid oor diversiteit. Gevolglik is die land se meer as 400 tale en meer as 1 000 dialekte lewenskragtig.

As dit by Afrika kom, raam Unesco dat sowat 600 van die 1 400 tale wat op die vasteland gepraat word, aan die kwyn is – met ongeveer 250 van hulle reeds in die waaksaal.

Sommige mense sal argumenteer dat dit ’n logiese ontwikkeling is waardeur die dominante handelstale die kleineres sal verdring. Dit is kortsigtig, want taal is meer as net ’n kommunikasiemiddel.

Soos Unesco dit stel: “Tale is die mensdom se vernaamste werktuig vir interaksie en die uitdrukking van idees, emosies, kennis, herinneringe en waardes.

“Tale is ook primêre draers van kulturele uitdrukking en ontasbare kulturele erfenis, wat noodsaaklik is vir die identiteit van individue en groepe.

“Alle domeine van ontasbare kulturele erfenis – van kennis oor die heelal tot by rituele, die uitvoerende kunste tot by kunsvlyt – maak op taal staat vir hul daaglikse beoefening en die oordrag daarvan tussen geslagte. In die domein van mondelinge tradisies en uitdrukking is taal nie bloot ’n draer van ontasbare erfenis nie, dit is die essensie daarvan.”

As ’n taal sterf, sterf baie dinge daarmee saam. Die mensdom verloor die kultuur, kennisstelsels, oorvertellings en mondelinge geskiedenis van die sprekers.

Dit is waarom ek dié week my hoed afhaal vir F.W. de Klerk en die uiteenlopende bende Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies wat later vandeesmaand ’n konferensie gaan aanbied oor die toekoms van dié taal aan universiteite.

Die byeenkoms word gereël deur die F.W. de Klerk-stigting en is ’n reaksie op wat hulle sien as die demovering van die taal by die vyf histories Afrikaanse universiteite waar Engels voorkeur begin geniet.

De Klerk het dié week aan Rapport gesê hy voel ’n “persoonlike verantwoordelikheid vir die Grondwet wat ek help onderhandel het en wat ek Afrikaners help oortuig het om te steun, insluitend die reg van alle Suid-Afrikaners om onderrig te word in die taal van hul keuse”.

Baie van ons sal hewig verskil van die idee dat Afrikaans onder bedreiging is. Dit is trouens ’n netto begunstigde van post-apartheid-Suid-Afrika omdat dit ontslae is van die etiket as “taal van die onderdrukker”.

Afrikaanse letterkunde floreer. Afrikaanse koerante is gesond. Televisie kook. In staats- en semi-staatsorganisasies het Afrikaans ’n hoër status as die ander inheemse tale.

Belangrikste van alles vir Afrikaans is dat die taal nou ook aanvaarding geniet en gevier word as ’n taal wat op eie bodem ontstaan het. Tog bly die persepsie voortbestaan onder Afrikaners dat hul taal onder beleg is, vandaar die terugveg teen enige vermeende aantasting van die taal.

Sommige van die verdedigers van Afrikaans is werklike liefhebbers van die taal, met hul bona fides in plek.

Daar is egter ook ’n groot deel van hulle wat gemotiveer word deur eng nasionalisme en, durf ’n mens sê, rassisme. Hulle hunker terug na die Suid-Afrika wat in 1994 gesterf het, ’n Suid-Afrika waarin die Afrikaner die opperwese was.

Insoverre ’n mens sommige van die houdings van Afrikaans se verdedigers verwerplik vind, moet jy hul verbetenheid bewonder. As die sprekers van die ander Suid-Afrikaanse tale maar net soveel aandag wou gee aan die beskerming van hul taal as wat Afrikaanssprekendes doen, sou daar min kommer wees oor die ondergang van plaaslike tale.

Ongelukkig is dit nie die geval nie. Suid-Afrika se Afrika-taal-sprekers het besluit dat hul tale nie die moeite werd is om te bewaar nie. In die middelklas word ’n geslag jong Suid-Afrikaners groot sonder die vermoë om hul moedertaal te verstaan, want hul ouers het besluit dis nie belangrik nie.

Daar word teen ’n hewige tempo aan tale weggekalwe. Ons is op pad na ’n situasie waar inheemse tale slegs deur die werkersklas gepraat word – en hul aspirasies veroorsaak dat ook hulle die middelklas begin napraat.

Dit is nie buite die kwessie nie dat Unesco binne die volgende 50 jaar sou kon verslag doen dat verskeie Suid-Afrikaanse tale op die gevaarlys is.

Hiervoor moet die regering heelwat van die blaam dra omdat hy slegs lippediens bewys aan taalgelykheid.

Terwyl elke politikus graag grootbek is oor die viering van ons diversiteit, word min gedoen om een van die kernaspekte van daardie diversiteit te bewaar – ons tale.

Pleks daarvan dat ons Afrikaners veroordeel daarvoor dat hulle trots op hul taal is en daarvoor baklei, behoort die res van Suid-Afrika ’n les daaruit te leer.


Afrikaans behoort net soveel aan my as aan ou wit mans

 Phylicia Oppelt

Die ander aand beland ek in een van daai taaierige Suid-Afrikaanse gesprekke waarin ek vertel is dis tyd om ontslae te raak van die swart chip op my skouer.

Sekerlik, is ek vertel, is dit 15 jaar ná die einde van apartheid nie nodig om simplistiese frases soos “julle wit mense” in gesprekke te gebruik nie, veral sedert ek tot die middelklas uitgestyg het en niks het om oor te kla nie.

Dalk is dit trouens tyd om my beitel uit te haal en aan daardie chip te begin werk.

Dit is in dié gesindheid van verantwoordelikheid vir my toekoms neem eerder as om in die verlede te leef dat ek Afrikaanse taalstryders kan vra om dieselfde te doen.

Ek het genoeg gehad van hoofsaaklik wit mans wat op en af spring oor “hul” taal wat in die nuwe Suid-Afrika uitgerangeer word – want die meeste Afrikaanssprekendes is en was nog nooit wit nie.

Ek is moeg van die tirades wat aan koerante gestuur word en die patetiese gekerm oor “hul” taal wat in dreigende gevaar is om permanent uitgedoof te word, asof die regering ’n beleid van taal-volkslagting verklaar het.

As dít die geval was, waarom sien ons dan steeds rye Afrikaanse boeke op die rakke van Exclusive Books, Afrikaanse verjaardagkaartjies by die CNA en die voortgesette groei van Afrikaanse koerante?

Waarom bied Johan Stemmet, uitgerus in sy klopse-monderings, steeds Noot vir noot aan – die SAUK se oudste vermaaklikheidsprogram? En waarom saai die openbare uitsaaier elke weekdag ’n sepie genaamd 7de Laan uit as daar dan geen plek vir Afrikaans in die land is nie?

Toe ek hoor dat die F.W. de Klerk-stigting ’n debat oor Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch reël sonder om die universiteit se visekanselier te nooi, het ek dit skouerophalend afgemaak.

Toe gaan kyk ek op die internet en lees koerante soos Die Burger en webwerwe soos www.litnet.co.za om uit te vind hoe die taaldebat verander het. Geen verrassing nie – die debat van tien jaar gelede is die debat van 2010. Hier gaan ons al weer, het ek gedink.

Maar ek is ’n eerstetaal-Afrikaanssprekende – my pa se reël was dat ons tuis Afrikaans gepraat het en Engels by die skool geleer het. En ná meer as 20 jaar in ’n Engelse wêreld bestaande uit ’n Engelse universiteit en Engelse werkplekke praat ek steeds Afrikaans.

As ek en my 70-jarige ma buite in die son sit met ons oggendkoffie, haal ons in Afrikaans in. As ek een van my Afrikaanssprekende kollegas in die gang raakloop, stop ons om gou in Afrikaans te skinder. Dis ’n natuurlike ding om te doen.

En ek vind dat daar in my 40 jaar oue hart steeds ’n passie vir Afrikaans is. Daardie passie ontwaak wanneer ek hoor hoe my vyf jaar oue dogtertjie moeiteloos van “Nkosi Sikelel’ iAfrika” na “Die Stem” oorslaan.

My dogters praat Afrikaans. Hulle gaan na Engelse skole. Hulle is tweetalige kinders wat nog ’n Afrika-taal ook sal aanleer.

Maar hoewel Afrikaans oral om my is, kan ek nie dieselfde hittigheid en geesdrif as die taalpatriotte optower nie.

Wanneer gaan hulle aanvaar dat, vir baie van ons, hul taalstryd nie gesien kan word sonder ’n politieke konteks uit die verlede nie – ’n konteks wat ons nie deel nie?

As die stryders geweet het wat goed is vir hulle, sou hulle hul visier rig op mense soos ek en die baie swart sprekers van “hul” taal, veral in die Wes-Kaap.

Moet ons nie deel maak van ’n magstryd oor ’n taal nie; maak ons deel van ’n sirkel van passievolle mense wat nodig het om Afrikaans te praat omdat dit deel is van wie ons is.

Vir my dogters het Afrikaans geen magiese kragte nie; dit dra nie ’n geskiedenis wat Voortrekker- en Afrikaner-dapperheid huldig nie.

Afrikaans se redding sal kom deur mense soos my dogter en haar kleinsussie, en die talle ander kinders soos hulle. Omdat hulle geen politieke verbintenis het met ’n taal wat so intiem verweef is met die mag van ons voormalige onderdrukkers nie.

Vir hulle is dit net nog ’n taal wat hul lewe sal verryk deur die skoon en krag wat gevind kan word in die werk van Hein Willemse, Adam Small, Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker.

Nie deur rûe styf te maak of deur groot gebare nie en beslis nie deur die geblêr van ou wit mans wat terughunker na vervloë tye nie.

- Beeld

Lewer kommentaar op dié storie


Andre 1/27/2010 8:55:48 AM
Phylicia. Dit gaan oor meer as net Afrikaans praat. Dit gaan oor die behoud van die afrikaanse taal by van die tradisioneel afrikaanse universiteite. Gaan lees bietjie Mondli se berig. Ek ondersteun die ou wit omies 100% vir hulle stryd vir die behoud van n ontasbare erfenis. Jy kan jouself gerus vra of jy n patriot is vir die afrikaanse taal aangesien dit dieper strek as om net die taal te kan praat. Dit geld ook vir enige ander taal. Lank lewe Afrikaans!
Robard 1/27/2010 8:58:09 AM
As mev Oppelt werklik so passievol was oor Afrikaans sou sy tog sekerlik nie haar kinders in 'n Engelse skool gesit het nie? As almal haar voorbeeld volg, dan sal Afrikaans weldra uit die opvoedingsinrigtings verdwyn. Sy kan maar op en af spring soos sy wil om ons van haar goeder trou te oortuig, maar soos die spreekwoord in haar voorkeurtaal lui, "actions speak louder than words."
Abrobs 1/27/2010 9:10:12 AM
Dankie vir die bevestiging dat Afrikaans nie aan 'n "ras" gekoppel is nie, maar 'n volwaardige taal is in 'n diverse land en die bevestiging dat die taal 'n taal van keuse moet wees eerder as 'n geforseerde taal. As afrikaans sprekende is ek ook een van die wat rooi sien en warm onder die kraag word as ek voel die taal word onderdruk deur 'n enkel medium as opvoedingstaal of enige ander aspek vir daardie rede. Ek is nie naief om te aanvaar dat die taal in vergeleke met die res van ons mooi land 'n klein taal is, maar 'n taal wat deur baie "groepe" gepraat en geslyp word en dit wil mens graag sien voort bestaan. Ek deel ook die sentiment dat dit nie net gaan oor die behoud van afrikaans nie maar al die inhemse tale, maar aangesien ek eerstens afrikaans magtig is en dit my passie is is dit belangrik om vir die taal te "veg" sou dit blyk dat enige iemand dit sou wou bedreig. Sterkte aan al die verskillende tale, en mag my eerste keuse - afrikaans ook sy regmatige deel hê en steed van krag tot krag gaan en vir almal se nasate voortbestaan om vrylik te gebruik, sou hulle so verkies. Nie bo enige ander taal nie, maar gelyk met enige ander taal.
John Trevor 1/27/2010 9:19:47 AM
Na jou aantuigings in jou artikel het jy duidelik bewys jy het n identiteids RAMP en nie jou huiswerk gedoen nie. dis uiters swak van jou!
Die feit dat jy se dat die 'meeste Afrikaanssprekendes is en was nog nooit wit nie' wys net hoe dom is jy want hulle wat jou tipe Afrikaans praat vermeng hul Afrikaans met Engels of dalk nog hul inboorling taal.
En boonop wie soek de Klerk en sy gesante om names hul te praat?? Nie een enkele blanke nie!!! Hul sal weereens Afrikaans, die witman se laaste, ook verkoop en weggee soos Suid Afrika wat gedompel is in moord, geweld en verkragtings.
Alfred 1/27/2010 9:35:24 AM
Die Pionier-Instituut is besig om 'n nuwe Afrikaanse akademiese instelling vanuit Nederland op te bou. Akademiese Afrikaans moet sowel binne as buite die ANC-oorheerste stelsel bevorder word. Dan het Afrikaanssprekers meer mag en kan mens die standaarde hoog hou.
Bietjie Stout 1/27/2010 10:01:23 AM
Phylicia Oppelt

As dit nie vir hierdie "op-en-af springende" wit mans was nie sou Afrikaans in die eersteplek nie bestaan het nie, ook nie jy of ek nie.
Milton 1/27/2010 11:17:29 AM
Van die kommentaar wat hier geuiter word bevestig net wat Phylicia sê. Ek dink iets wat niemand egter hier in aanmerking neem nie is dat Afrikaans heelwat meer is as net sommige mense se politieke agendas, maar is terselfdertyd ook heelwat meer as net 'n onderlinge omgangstaal. Dit is 'n akademiese en wetenskapstaal wat bietjie meer as 'n 100 jaar oud is en vir enige taal is dit 'n besonderse prestasie. Toegegee, dié prestasie kan nie losgemaak word van Afrikanernasionalisme nie; nietemin is dit vir alle sprekers van Afrikaans iets om op trots te wees. Juis om hierdie rede is dit belangrik dat Afrikaans nie net oorleef op 'n vlak waar dit onderling tussen mense op grondvlak gepraat word nie, maar ook as akademiese en wetenskapstaal bewaar en uitgebou moet word.
Daar is egter 'n persepsie onder baie mense (selfs die wat hulle kamstig vir Afrikaans beywer) dat die taal nie goed genoeg is om homself te laat geld op die vlak nie. En dit is juis waar die probleem lê: Indien mense nie die waarde van die taal as 'n akademiese en wetenskapstaal besef nie, is daar geen nut om dit op daardie vlak te bewaar nie. 'n Hunkering na die kunsmatige beskerming van Afrikaans en die politieke voordeel wat dit in die verlede gehad het, gaan egter niks doen om die situasie te beredder nie.
Ek voel mense moet minder emosioneel met die taal omgaan en in plaas daarvan dat hulle heeltyd klem lê oor waar Afrikaans bedreig word, eerder kyk na hoe Afrikaans in die post-apartheid era inderwaarheid bo ander tale bevoordeel word. Dit is betreurenswaardig dat sommige sprekers van die taal, soos hierbo vermeld, nie die taal kan losmaak van die onderdrukking van apartheid nie, hoewel ek begrip het daarvoor. Ongelukkig versterk die houding (soos ons ook hierbo kan sien) van sommige Afrikaanssprekendes net hierdie gevoel onder die sprekers wat in die verlede onderdruk is.
Ten spyte hiervan voel ek dat alle Afrikaanssprekendes iets het om op trots te wees in Afrikaans. Dit is tyd dat ons almal hande vat en saam Afrikaans vier, dan sal die bedreigde gevoel verdwyn, mense sal hul kinders na Afrikaanse skole en universiteite stuur en die lang debatte oor die behoud van Afrikaans waar mense heeltyd by mekaar verbypraat sal iets van die verlede wees.
JDA 1/27/2010 11:48:11 AM
@Phylicia: As 'n blanke man van jou ouderdom kan ek met heelwat van jou kommentaar simpatiseer. Ek het 'n hekel in die feit dat die taal gestraf word vir ' ideologie wat die een helfte van sy sprekers op die ander helfte (en die res van die land) afgedwing het. 'n Mens sou kon se dat Afrikaans gekaap is deur die Afrikanernasionaliste. Maar die ander kant van die munt is dat hulle ook baie gedoen het en (in nuwe gedaante) tans doen om die taal se voortbestaan te verseker. Ek is nie trots op alle aspekte van die verlede nie, maar ek bly lief vir my taal. Dis een van min samebindende elemente in 'n land waar dit lyk my elke ou vir homself is. Kom ons gee dit 'n regverdige kans, nie net in huise nie maar ook in skole en universiteite. Ons kinders sal ons daarvoor bedank, en die agtergeblewenes méér as die rykes. En moenie kwaad wees vir blanke mans nie (wat ookal jou stereotipe behels) - gooi eerder jou gewig saam in en steel die stryd van hulle weg. Vir eens gaan dit oor taal en nie politiek nie.
Henk 1/27/2010 2:29:41 PM
Almal wat Engels praat is nie Engelse afkomstig van Engeland nie. Dit geld vir Duits, Frans, Portugees,ens, ens. So daar is iewers vir elke taal 'n kern oorsprong en dit is gewoodlik daardie mense wat om die behoud van 'n taal veg. Daar sal altyd mense met verskuilde agendas wees wat ook deelneem waar hulle nie eintlik hoort nie. Jy moet self besluit hoekom die taal waarin jy jou diepste emosies uitdruk vir jou belangrik is. Dit geld ook vir me Phylicia Oppelt. So dit maak werklik nie saak wat elkeen se rede is waarom hy vir 'n spesifieke taal se voorbestaan veg nie. Afrikaans is vir miljoene mense om verskillende redes belangrik en wat die redes is, is dus irrelevant. Dit is gewoondlik die gryses van enige kultuur wat die voortbestaan van wat vir daardie kultuur belangrik is dryf sodat dit vir die nageslag behoue bly.
So noem mnr. Mondli Makhanya met reg dat daar ander taalgroepe is wat moet wakker word. So dankie aan almal wat 'n positiewe bydrae maak tot die behoud van Afrikaans, 'n taal waarin miljoene hulself pragtig en met trots uitdruk.
Louise 1/27/2010 3:37:45 PM
Ek word sommer vies vir ou wit mans soos Robard - hier bo - wat vir Phylicia "Mev Oppelt" noem!
Mnr Robart - get a life - Afrikaans is vir almal van ons - en ek is wit, afrikaans, my kinders is engels en praat afrikaans, en ek is 'n afrikaans en praat tot my groot skande, na 50 jaar nog geen swart taal nie.
As meer Afrikaanse kinders en gesinne bietjie meer ander kulture en mense leer ken - ook met nie-Afrikaanse skole - sal ons almal hier aan die suidpunt van Afrika ook bietjie meer verdraagsaam en intelligent wees!
Lank leef afrikaners in engelse en swarttaal skole! En engelse en swarttaal mense, in Afrikaanse skole!
Louise 1/27/2010 3:53:36 PM
O ja, hier's nog 'n eiertjie wat ek le om aan te sluit by "bietjie stout;"
Voorwaar 'n -op-en-af-springery - jy kan dit weer se! (Maar botter kan gewoonlik nie in die mond smelt nie.)
Kyk ons oulike spreekwoorde! Lank leef Afrikaans!
Selma 1/27/2010 4:03:19 PM
Afrikaans en Engels is albei kombuistale. MAAR die grootste kombuistaal sal die stryd wen. Nie sonder of slag of stoot nie. Die taalstryd hehinner aan die Anglo-Boere Oorlog. Daar sal hier en daar n veldslag gewen word maar die oorlog sal verloor word. Afrikaans sal in gekonsentreerde kampe geskiet.
Candace 1/27/2010 4:11:43 PM
Daar is net een oplossing: elke Afrikanssprekende moet by die ANC aansluit en vanuit die binnekring druk uitoefen op die regering om die grondwet anders te interpreteer. Die ander poletieke partye is te futloos. Hoekom gee ander taalgroepe voorkeur aan Engels as onderrigtaal aan Tersiere instellings? Daar word nooit verneem dat SACO of die ANC Jeugliga hul bearbei vir Zuku of Xhoza tersiere instellings nie.
Maljan 1/27/2010 6:17:30 PM
Die hele taaldebat is net 'n slinkse streek van die kommuniste om die aandag aflei van veel erger kwessies. Teen die tempo wat ons uitgewerk en uitgemoor word gaan daar niemand oorbly wat na Afrikaanse universiteite toe wil gaan nie. Wat maak dit dus saak? Hierdie hele debat is net 'n fopspeen vir die Afrikaanses om aan te suig. Word liewer wakker en neem kennis van die volksmoord wat aan die gang is.
Naomi du Toit 1/28/2010 4:40:30 AM
Afrikaans is my eerste taal en my eerste liefde. Dit is pragtige taal en snoer alle gebruikers van die taal saam. Die feit dat baie gebruikers toevallig wit is en uit die voorheen bevoordeelde deel van ons bevolking kom is myns insiens irrelevant. Baie voorheen bevoordeeldes in die pragtige land van ons praat Engels maar hulle word nie gegesel daaroor nie. Toevallig gebruik die witmense wat oor die Drakensberge binneland toe gevlug het om weg te kom van die Engelse Kolonialiste Afrikaans as voertaal. Die feit dat ons as minderheidsgroep en onderdruktes die land later oorheers het spreek boekdele vir ons vasberadenheid en deursettingsvermoe. Dit is om hierdie rede dat die Afrikaanse taal wat veronderstel was om uit te sterf na 1994 ongekende groei beleef het en ek, wat 52jaar oud is en as jong mens nie na Afrikaanse musiek geluister het nie omdat dit nie "cool" was nie verlustig my nou in Kurt Darren en andere se mooi afrikaanse musiek. Wit Afrikaans sprekendes het niks anders om op terug te val nie. Julle sal ons nooit onderkry nie. Hoe meer jul ons taal wil vermoor hoe sterker staan ons saam. Hou op om jaloers te wees op ons en leer by ons. Werk hard, met deursettingsvermoe en etiek as jou "motto" en jy sal ook so goed word soos die Afrikaner. Ek het nog altyd net vir Orania gelag maar daar is weereens die bewys. Die Afrikaners vorder so goed daar dat tot Julius Malema al daar was. Hulle is n voorbeeld van wat die Afrikaner vermag wanneer sy taal en selfbehoud bedreig word. Tot oorsee sien mense raak wat in Orania gebeur. Afrikaans "rock" en die "rockspaaiders" gaan die taal nog lank praat en bewaar vir ons nageslagte.
Amaaanda!! 1/28/2010 12:26:00 PM
Orals is identiteit aanvaarbaar behalwe vir wit afrikaner mans, jou voortbestaan word nie bedreig nie so jy het nie rede om te struggle nie, vir die wit ou-En-jong mans selfs ongeborenes(dogters en vrouens) is dit 'n struggle, so jou antagonisme word verstaan/verdra afterall - jy praat net afrikaans.....
Bevoorreg? My voet! 2/1/2010 10:12:33 AM
Ek hoor altyd van die Afrikaanssprekende blankes wat sulke hoogs bevoorregte mense in die ou Suid-Afrika was. Ek veronderstel ek was ook een van hulle, dis hoekom my ma ook moes werk om die pot aan die kook te hou. Dis ook hoekom ons kinders my ma en pa moes help met huis skoonmaak, skottelgoed en wasgoed was en tuinwerk, want geld vir ‘n bediende was daar nie. Deel van ons skottelgoedwas pligte het ingesluit dat die plastieksakkies waarin die groente en maalvleis gevries was, uitgewas en op die draad gehang moes word, sodat hulle weer gebruik kon word. Tuinwerk het die versorging van die groente tuin ingesluit. Destyds was tandepasta buisies van aluminium gemaak en wanneer die buisie leeg was, is die onderkant met die blikskêr oopgeknip en die laaste tandepasta met ‘n mes se punt uitgekrap. Die laaste stukkies seep moes almal in die leë margarienbak gegooi word. Wanneer daar genoeg van hulle was, het my ma dit bewerk om weer seepblokkies te maak. Om die eerlike waarheid te sê, ek pluk vandag steeds die vrugte van my bevoorregte opvoeding. My kinders dra ook ander mense se tweedehandse (geskenkte) klere, nes ons gedoen het terwyl ek grootgeword het. Ek het nou net een vraag om te vra, aan die mense wat die Afrikaanssprekende wit mans (en vroue) heeldag vir hulle kastige voorregte verwyt, verduidelik vir my hoekom is daar, onder die 10 rykste mense in Suid-Afrika, net 1 Afrikaanssprekende man terwyl die res almal Engelssprekendes is?
jêmblik 2/2/2010 5:11:33 PM
afrikaans is bloot n dialekt van nederlands. en dialekte sterf nie uit nie, dit word geleef!
nicola 2/2/2010 5:24:38 PM
@Bevoorreg? My voet!

ook al moes ons spaar en die sente omdraai was ons bevoorreg gewees! jou spaar metodes klink vir my bekend - ons het nog koerante in mooi blokkies gesny vir toiletpapier en sondag n druppeltjie 4711 op die sakdoek in die kerk gesnuif, maar ons moes nie kaalvoet soos ons mede landsgenote in die winter skool toe hardloop nie. inteendeel het die onderwyser in daai jare al gewaarsku "julle blanke kinders is baie bederf - eendag gaan die ander julle inhaal". wel hulle het ons nie net ingehaal nie, maar steek by tye verby en hoe!!!! tel liewer jou seëninge - die feit dat ons hier kan gesels is deel daarvan!
Jou naam
*
E-posadres
*
Kommentaar
*
 
 
 

binne beeld

Weer
Verkeer
Lotto
Ksd: 13-18°C Sunny. Mild. Pta: 6-20°C Mostly sunny. Cool.
Jhb: 4-17°C More sun than clouds. Cool. Bfn: 5-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 14-25°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Electrical Engineer

Gauteng,KwaZulu Natal - Durban,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

Electrical Engineer

Gauteng,KwaZulu Natal - Durban,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

Cost Engineer/ Estimator

Gauteng,KwaZulu Natal - Durban,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

Polo Classic 1.9 TDi Highline 96kW Dsl
2008
R 189,995.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i CitiStorm AB 5-dr
2009
R 82,995.00

VOLKSWAGEN

Touran GP 1.9 TDi Trendline MPV Dsl
2008
R 209,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

VIERLANDEN

House R 1 750 000

BRYANSTON

Apartment R 1 300 000

CRAIGAVON

House R 1 290 000

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Gratis Speletjies - TE VEEL NUUS? Neem ‘n blaaskans

Kalahari.net - doen vandag jou inkopies aanlyn

Lae pryse op Boeke!

Miljoene titels om van te kies. Spaar nou tot 40%!

DVD's vir R129.95 Elk

Kry al die topverkopers en nuwe vrystellings vanaf R129.95 nou! 100e DVD's om van te kies.

Koop jou UNISA & Akademiese Teksboeke & WEN Groot

Koop enige teksboek van kalahari.net en 50 gelukkige lesers sal 'n R100-koopbewys elke dag van Maandag die 19de tot Saterdag 31 Julie wen.

Vuurwarm Musiekvrystellings

Kry jou gunstelingalbum van die musiekwinkel. Lae pryse op ALLE albums.

Tot 20% af op Elektronika

Besoek die Elektroniese winkel vir die nuutste produkte en toebehore. Fantastiese aanbiedings op handelsnaam-produkte.

Vandag se beste aanbod!

Tot 40% Af op Sagtebande

Miljoene Titels

Maak gebruik van dié fantastiese geleentheid & koop wonderlike nuwe uitreikings & ou gunstelinge.

iPods, Wii, toebehore, sonbrille, horlosies & meer by www.kalahari.net!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...