Gees móét gehard wees
2012-02-03 19:44
Daar is niks wat hy nog nie gevra is nie, sê
Heyneke Meyer, die Springbokrugbyspan se nuwe afrigter. Dis skuins voor 09:00,
vyf dae nadat hy aangestel is.
Meyer het pas in die gang buite die koffiewinkel met ’n
Nieu-Seelandse radiostasie gepraat. Nou skuif hy reg vir onderhoud 6 van die
dag, een van by die 40 vir die week.
“Dit was vir my oorweldigend gewees,” sê Meyer. “Jy kry steun van
oor die hele land en alle bevolkingsgroepe. Dit het my net rêrig weer gewys wat
die Springbokspan vir mense beteken.”
Benewens joernaliste wat toustaan om met dié 44-jarige Pretorianer
te gesels, herken pompjoggies hom en ’n besemverkoper het Meyer op straat
omhels.
“Die mense is so opgewonde oor die Springbokspan en dit laat ’n
mens klein voel; jy besef jy het ’n groot verantwoordelikheid...
“Daar is dinge in die land wat miskien nie altyd reg is nie, maar
ek is baie lief vir my land en ek hoop ek kan deur rugby ’n verskil maak.”
---
Die héle Suid-Afrika,
ja, sê die voormalige Blou Bul-afrigter wat tussen 2003 en 2007 ongekende sukses
met die Ligbloues behaal het.
“Ek is ’n Laevelder, ek is maar ’n seun van die platteland. Toe ek
stad toe gegaan het, was dit vir my ’n groot aanpassing.
Want ek is lief vir die
natuur - dis wat min mense nog eintlik geskryf het - lief vir die wildtuin,
omdat ek van Nelspruit af kom.”
Hy het grootgeword op ’n hoewe buite die stad waar sy gesin perde
kon aanhou. Later het Meyer ook ’n draai by die Stormers in Kaapstad en die SWD
Arende op George gemaak.
“Die Pretorianers het aan die begin gedink ek is van die Kaap af.
En noudat ek so lank hier is, dink almal ek is net ’n Blou Bul,” sê hy.
---
Van moegheid sien ’n
mens nie vandag ’n sweem by Meyer nie - hy glo immers aan ’n 12 uur-werkdag. Hy
krap behulpsaam kop om stories te vertel waarvan hy dink min mense weet.
Soos sy eerste smakie as afrigter van Mopanie-manskoshuis se
o.20-rugbyspan.
Meyer was toe net ’n jaar ouer as die span, self ’n Tukkie met
menslike bewegingskunde en sielkunde as hoofvakke, spesifiek gekies met die oog
op afrigting.
“Ek onthou toe ek die kleedkamer inkom, het die ouens daar gesit en
rook en alles,” vertel hy. “Toe sê ek: Luister, julle verstaan nie: ek sal dit
doen, maar ons doen dit professioneel of glad nie.”
Meyer het ’n spanbestuurder aangestel, die span pasta in Hatfield
laat eet voor wedstryde (“dan loop hulle, dan moet ek die rekening kry!”) en sy
pa se Kombi geleen om op toere te gaan.
Die span was omtrent drie jaar onoorwonne. “Dis waar ek die meeste
geleer het van rugby; jy het nie ouens nie en jy moet ouens maak,” sê hy. “Dit
was van my beste tyd.”
---
Op dié manier het
Meyer se naam destyds vir die eerste keer in Beeld verskyn, hier
rondom 1988. Hy het die berig trots vir sy toekomstige vrou, Linda, gewys. Hulle
is al saam vandat sy in st. 8 en hy in st. 9 was.
“Toe sê sy vir my ’n waar ding - ek weet nie of dit profeties was
of wat nie, (want) ek dink nie so diep nie. Sy het gesê: ‘Maar kyk net die
bladsy langsaan, daar is moordenaars en boewe ook in die koerant.’
“Dit was vir my ’n rêrige goeie aanduiding, dat jy maar net so
gelief of gehaat is soos jou laaste wedstryd. Daarom moet jy dit vir die regte
redes doen.”
Meyer rig af omdat hy die spel geniet en ’n verskil in mense se
lewe wil maak. Sedert sy eerste ronde by die Springbokke as voorspeler-afrigter
vir die Wêreldbeker-toernooi in 1999 het hy egter baie wyser geword.
“As ek dit (die Bok-afrigterskap) daai tyd gekry het, was dit ’n
kwessie van: ‘Ek het arrive.’ Nou is dit meer ’n kwessie van:
‘Jislaaik, daar gaan druk wees.’ ”
En Meyer het ook gryser geword.
“Jong, dis rugby wat ’n ou so grys maak! Dit voel of ek elke
sekonde nog ’n grys haar kry, ek dink ek moet my hare alles afsny,” sê hy en
beduie na sy stekelrige hare wat nie plat wil lê nie.
---
In teenstelling met sy voorgangers stel Meyer nie in ’n
outobiografie belang nie.
“Ek sal nooit ’n boek oor myself skryf nie,” sê hy ferm. “Ek weet
nooit is ’n baie lang tyd, maar omdat ek so lank afrig, sal ek op baie mense se
tone moet trap en dis nie vir my aanvaarbaar nie. ’n Ou wil nie omstrede wees om
’n boek te verkoop nie.”
Hy het ’n ander soort boek in gedagte wat reeds in sy kop klaar
geskryf is. ’n Boek oor motivering, ’n slag waaroor hy beskik en waarvan sy
spelers kan getuig.
“Jy moet geestelik gehard wees; jy gaan terugslae kry, maar jy
moet terugkom,” som Meyer sy filosofie op.
In motiveringspraatjies gebruik hy dikwels ’n dag in 2002 as
voorbeeld. Sy vrou is vir borskanker geopereer terwyl sy pa ’n veelvuldige
hartvatomleiding gekry het en hy amper as Blou Bul-afrigter afgedank is.
Alles op een dag. Meyer se drie seuns was toe maar ses maande, twee
en vier jaar oud.
“Ek het die kleintjies met die hosepipe
afgespuit en hulle gehelp terwyl my vrou chemo gekry het. Dit was moeilik,” sê
hy.
Maar Meyer hét teruggekom en tien jaar later die hoogste sport in
Suid-Afrikaanse rugby-afrigting bereik.
---
Eintlik is Meyer bly dat hy nie die laaste vier jaar heeltyds ’n
hoofafrigter was nie.
“Ek het baie meer tyd aan my seuns spandeer en ek kon hulle vir die
eerste keer in hul sport ondersteun,” sê hy.
Vic is vanjaar in gr. 9, terwyl Heyneke jr. en De Wet
onderskeidelik in gr. 7 en gr. 5 is. Toe sy jongste in 1999 gebore is, het Meyer
hom daardie jaar net 30 dae gesien.
“Elke Saterdag as hulle deelneem, het ek deelgeneem en as hulle
verjaar, dan’s jy op ’n toer. Ander belange kom altyd eerste, dis tough op jou kinders.”
Nog iets waarvan sy rowwe rugbyskedule hom weerhou het, is om saam
met sy vrou bergklim te beoefen. Linda vlieg volgende Vrydag Suid-Amerika toe om
die vasteland se hoogste piek?–?en teen amper 7?000?m die tweede hoogste ter
wêreld - te klim.
Dis die 12de hoë piek wat dié doktor in plantpatologie suksesvol
wil bestyg. Sy het reeds spitse soos Kilimandjaro en Mont Blanc in Frankryk op
haar kerfstok.
“As ek iets het waaroor ek teleurgesteld is, is dit dít,” sê hy.
“Linda raak nou al hoe beter, sy is al in sneeu en ys, dis nogal wild. Ek kan
nie begin waar sy nou is nie.”
Meyer staan buitendien aan die voet van sy eie hoë piek. Berg
Springbok wag.