Gr. 12’s + syfers = swak
2012-02-07 22:40
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Een uit elke ses matrikulante wat verlede jaar wiskunde geskryf het, het minder as 10% behaal en ’n derde wat fisiese wetenskappe geskryf het, het minder as 30% gekry.
Dié skoksyfers blyk uit die onaangepaste syfers vir verlede jaar se matriekeksamen.
Media24 se ondersoekspan het dié syfers van Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding, bekom ná ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA).
Die rou syfers wys dat ondanks die beter slaagsyfer vir 2011 (nasionaal was dit 70,2%) daar geen of baie min vordering gemaak is in belangrike vakke soos wiskunde, wetenskap, ekonomie en rekeningkunde.
Skoolverlaters se gebrekkige kennis in van die belangrike vakke en ’n tendens waar al hoe minder gr. 12’s dié belangrike vakke neem en slaag, kwel ontleders.
In 2008 het 300 008 matrikulante wiskunde geskryf en 136 184 het bo 30% gekry.
In 2009 het 290 407 dié vak geskryf, terwyl dit in 2011 tot 224 635 gedaal het waarvan net 104 033 bo 30% gekry het.
In fisiese wetenskappe het 217 300 kandidate in 2008 die vak geskryf en 119 206 het bo 30% gekry. Verlede jaar het 180 585 die vak geskryf en net 96 441 het bo 30% gekry.
Die inligting wat Umalusi aan die ondersoekspan bekend gemaak het, toon ook wat die gemiddelde prestasie van verlede jaar se kandidate in die verskillende vakke was voor- en nadat die uitslae op- of afwaarts aangepas is. (Sien grafika).
Die gemiddelde prestasie in rekeningkunde was 33,75% en ná die aanpassing 34,79%.
Dié punte is net vir vraestelle wat kandidate geskryf het wat 75% van die totale eksamenpunt uitmaak. Die jaarlikse deurlopende assesseringspunt (SBA), wat 25% tel, is nie daarby ingereken nie.
Maar hoe gaan die land dié situasie verander?
Prof. Johan Engelbrecht, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse wiskunde-stigting (SAMF) sê die grootste probleem is die gebrek aan goed opgeleide onderwysers in die vakke.
“Daar is ’n geweldige tekort aan onderwysers wat wiskunde en wetenskap kan gee en dié wat wel opgelei word, verlaat die beroep vir beter salarisse buite skole.”
Engelbrecht meen hoewel vakbonde teen die idee is dat sekere onderwysers beter as ander betaal moet word, moet onderwysers wat skaars vakke gee, veral in townships en landelike gebiede, beter vergoedingspakkette kry. “Tans bly ons goeie onderwysers verloor, want daar is vir hulle geen aansporing om te bly nie.”
Engelbrecht sê die gebrek aan lojaliteit en toewyding waar te veel onderwysers ook steeds kinders aan hul lot oorlaat en min onderrig gee, bevorder ook nie beter prestasie nie.
Volgens Engelbrecht moet wiskunde ’n “nasionale prioriteit” word omdat die land se vooruitgang en ekonomie daarvan afhang. “Die regering moet meer doelgerig in wiskunde-opleiding en -onderrig belê.”
Engelbrecht meen nog ’n probleem is dat te veel kinders wiskunde neem wat dit nie behoort te neem nie. Hy sê wiskunde behoort hoofsaaklik deur studente geneem te word wat ná skool in numeriese en ander studierigtings soos medies en ingenieurswese gaan studeer en waarvoor die vak nodig is.
“Dit is totaal onrealisties om te wil hê almal moet wiskunde neem. Vir diegene wat dit nie in hul studies gaan nodig kry nie, is wiskundige geletterdheid ’n uitstekende vak om te neem.”
Volgens Engelbrecht is die wiskunde wat kandidate tans op skool doen en wat dit daarna verder gaan nodig kry, boonop nie voldoende nie en sukkel talle geweldig op universiteit.
“In plaas van om te kyk hoeveel matrikulante wiskunde kan neem en deurkom, behoort eerder gefokus te word om skoolwiskunde te verbeter en uit te bou. Diegene wat dus reeds wiskunde neem, behoort nog meer daarvan te doen.”
Engelbrecht meen ook hoewel talle maatskappye private inisiatiewe aanbied om te help met beter wiskunde-onderrig, is die omvang van die probleem so groot dat industrieë en die private sektor ook baie meer moet doen.
Me. Helen Zille, leier van die DA, het verlede week in haar nuusbrief verwys na die regering se Dinaledi-skole-inisiatief wat nie juis aan verwagtinge voldoen het nie.
Dié skole is deel van ’n nasionale strategie vir wiskunde, wetenskap en tegnologie en het in 2001 reeds miljoene rande gekry. Daar was aanvanklik net 102 skole en dit is uitgebrei na 500.
Vanjaar is R70 miljoen aan die skole toegeken en volgende jaar gaan dit waarskynlik R105 miljoen beloop.
Wat egter teleurstellend is, is dat die leerlinge in Dinaledi-skole wat wiskunde geneem het van 53 469 in 2008 tot 47 760 in 2010 gedaal het. Van die groep van 2010 het net 27 109 (57%) wiskunde geslaag wat 21% uitmaak van al die leerlinge wat die vak in die nasionale senior sertifikaateksamen geslaag het.
Dieselfde tendens geld fisiese wetenskappe.
In 2009 het 39 000 Dinaledi-matriekleerlinge die vak geskryf en in 2010 het dit gedaal tot 36 861 waarvan 59% geslaag het.
Prof. Kobus Maree, wiskunde-kenner en onderwyskundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP), meen Suid-Afrika se prestasie in wiskunde en wetenskap kán verbeter sonder dat die onderwyswiel herontdek word.
Hy meen ’n holistiese strategie is nodig waar alle partye – die staat, gemeenskappe, skole én gesinne – bydraes moet lewer om onderrig te verbeter.
Volgens hom kan prestasie verbeter as daar beter ondersteuning aan onderwysers is wat die laaste paar jaar met veranderende kurrikulums verwar en oorlaai is.
Hy meen die jongste meer vaartbelynde kurrikulum met duidelike doelwitte, uitkomste en assesseringsriglyne en die fokus op handboeke en werkboeke kan positief wees.
Voorts moet na onderwysers se moreel gekyk word en na hul geldige klagtes geluister word.
Die regte mense moet vir die bedryf gelok word omdat onderwys vir baie studente, veral swart mense, die enigste kursusse is waartoe hulle toegang het en dit nie hul voorkeurberoepe is nie.
Maree meen meer moet ook gedoen word om vir goeie onderwysers werk te kry nadat hulle afgestudeer het. Hy glo agterstande kan ook reggestel word deur onderwysers te verplig om gemeenskapsdiens in afgeleë gebiede te doen terwyl hulle geldelik en emosioneel ondersteun en stappe vir hul veiligheid geneem word.
Maree meen ook ’n nasionale onderwyseroudit moet gedoen word omdat daar nie sonder akkurate syfers vir die toekoms beplan kan word nie.
Hy sê arm skole waar daar nie eens meubels, elektrisiteit of biblioteke is nie, moet ook beter geriewe kry, terwyl daar beter samewerking en die uitruil van kennis en inligting tussen onderwysers van voorheen benadeelde en ryker skole moet wees.
Volgens Maree moet die staat en gemeenskappe saamwerk om arm gemeenskappe op te hef sodat ’n omgewing geskep kan word waarbinne leerlinge kan floreer en presteer. “Politiek moet nooit toegelaat word om besluite te beïnvloed wat ’n impak op leerlinge se toekoms het nie.”
Mnr. Mathanzima Mweli, adjunk-direkteur-generaal: kurrikulumbeleid en -toepassing in die departement van basiese onderwys, sê die departement is met verskeie strategieë besig om die prestasie in wiskunde en wetenskap te verbeter.
Dit behels die verspreiding van selfstudiegidse om konsepte en gapings in vakinhoude te verduidelik en ’n program om te kyk hoeveel van die leerplan onderwysers dek.
Daar is ook ’n veldtog om persepsies uit die weg te ruim dat wiskunde en wetenskap moeilike vakke is en vir beter onderwyseropleiding.
Daar word ook gekyk na die voorsiening van handboeke, die gebruik van inligtingstegnologie wat skole met die vakke kan help en beter vennootskappe met die private sektor en nie-regeringsorganisasies.
Die departement is ook besig met die instelling van mentorprogramme vir distrikte en skole om wiskunde- en wetenskap-onderwysers te ondersteun.

Die inligting wat Umalusi aan Media24 se ondersoekspan bekend gemaak het, toon wat die gemiddelde prestasie van verlede jaar se kandidate in die verskillende vakke was voor- en nadat die uitslae op- of afwaarts aangepas is. Die vakke wat in groen en oranje gemerk is, is benewens wiskunde en fisiese wetenskappe van die kernvakke wat kandidate op skool neem.