Gun (on)gelowige ook lewensruimte
2009-10-28 07:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die manier waarop daar in die openbaar oor godsdiens gepraat word, het ingrypend verander. Neels
Jackson berig na aanleiding van die debat oor godsdiens in skole.
Godsdiens in skole? Die vraag daaroor is maar een kwessie waaroor ’n heftige, openbare debat losgebreek het.
Vroeër, sê prof. Nelus Niemandt van die Universiteit van Pretoria, is teologiese gesprek anders gevoer.
’n Klompie akademici sou ’n konferensie hou om ’n saak te bespreek. Dalk sou een van hulle ’n boek skryf.
Die koms van die internet met sy sosiale netwerke het dit alles verander.
In die eerste plek, sê Niemandt, het dit gelei tot ’n opkoms van godsdiens-tigheid.
Wanneer jy jou rekenaar aanskakel, is dit daar.
Komplekse teologiese kwessies waarvan ’n mens 30 jaar gelede in konferensies of akademiese joernale sou moes kennis neem, is nou in die huis via persoonlike rekenaars en in jou sak via jou selfoon.
Kuberruim
Van die wêreld se voorste teoloë gebruik forums in die kuberruim om hul gesprekke te voer.
Die Amerikaanse denker Leonard Sweet het byvoorbeeld ’n Facebook-groep gestig waar sy jongste boek, So Beautiful, bespreek word.
Dít word weer die teelaarde waar gedagtes oor volgende boeke gevorm word.
Op ’n ander noot: Iemand wat nooit met sê maar Boeddhiste in aanraking sou kom nie, kan nou met ’n paar klikke van sy muis kniediep in hul wêreld wees. Die kuberwêreld het dit so naby gebring.
Dis ook hoekom dit onmoontlik sou wees om godsdiens in skole te probeer verbied. Die godsdienstige gesprek is so ver van ’n kind af as die selfoon in sy baadjie se bosak.
As ’n skool byvoorbeeld gebed verbied, kan kinders mekaar binne minute via Twitter of MXit oproep tot ’n gebedsaksie.
Ekstremistiese stemme
Die een komplikasie met die openbare godsdienstige gesprek is dat allerlei ekstremistiese stemme nou ook in die debatte en gesprekke gehoor word – en dat hulle die gesprekke soms oorneem.
Niemandt haal denkers aan wat uitgewys het dat die bekende klokvormige grafiek vroeër ook op openbare gesprekke van toepassing sou wees.
Die redelike stemme in die middel sou die groot meerderheid wees, en hoe meer ekstreem die standpunte was, hoe minder sou dit gehoor word.
In die digitale era is dit egter vervang deur ’n putvormige grafiek.
Die redelike stemme, wat die middelgrond verteenwoordig, onttrek hulle uit die debat en die ekstremiste aan die kante raas die hardste.
Eindelik ontaard die debat in ’n geskree op mekaar van mense wat verskillende pole verteenwoordig.
Mev. Gretha Wiid, aanbieder van die Worthy Women-konferensies, sê dit is ’n akkurate beskrywing van hoe sy die polemieke oor haar standpunte beleef.
Sy probeer ’n genuanseerde standpunt oordra oor hoe die verhouding tussen man en vrou moet lyk.
As sy die woord “onderdanigheid” (wat in die Bybel voorkom) gebruik, dan hoor een groep mense net dat die man baas is en niks anders nie.
As sy die woord “onderdanigheid” vermy om misverstand te probeer uitskakel, dan kry sy van ’n ander kant raas by mense wat meen sy hou nie meer by die Bybel nie.
En tussen dié twee groepe is sy ’n bietjie moedeloos oor hoe sy ’n ge-
nuanseerde boodskap aan die wêreld moet oordra.
Skole-godsdiens
Die gevaar bestaan dat dieselfde soort ding met die gesprek oor godsdiens in skole kan gebeur.
Dan ontstaan die illusie dat dit ’n stryd word tussen geharde ateïste aan die een kant en geharde Christene aan die ander kant wat mekaar nie ’n stukkie lewensruimte gun nie.
Niemandt sê Christene se uitdaging in dié nuwe wêreld is om mense van ander godsdienste te respekteer en ruimhartig teenoor hulle te wees.
Jy moet onderskei tussen die mens en sy standpunt – en altyd respek vir die mens behou, al hou jy nie van sy standpunte nie.
Niemandt meen dit hoef nie ’n mens se eie geloof te bedreig as jy kontak het met mense van ’n ander geloof en meer van hul geloof leer nie.
In skole, sê hy, sal dit die slegste ding denkbaar wees as elke ou sy eie beskouing van godsdiens op ander wil afdwing.
Skool nie sendingveld
Die skool is nie ’n sendingveld nie.
Hieroor stem dr. Stephan Joubert van die e-kerk saam.
Hy meen dat Christene ook ’n ander beskouing op die kwessie moet kry.
Daarom is sy eerste vraag of Christen-ouers hul plig doen in die geestelike vorming van hul kinders. Dis iets wat in die eerste plek tuis moet gebeur.
En as ’n mens kyk waar die Christendom sy periodes van sterkste groei beleef het – in die eerste drie eeue onder die Romeinse bewind, en in die laaste paar dekades onder die kommunistiese bewind in China toe die aantal Christene in die stilte tot 100?miljoen gegroei het – dan was dit nie op plekke waar godsdiens in skole toegelaat is nie.
“As ons dink Christenskap se bestaan is afhanklik van Christenskap in skole, mis ons die punt,” sê Joubert.
Maar hy stem saam dat Christene die reg het om hul godsdiens ook in skole te beoefen. Die staat moet die ruimte daarvoor bied.
Hy noem die voorbeeld van Nieu-Seelandse skole waar daar ’n godsdiensperiode ingestel is. Die kerke moes mense voorsien om met hul kinders te praat.
En vir die kinders wat dit nie wou bywoon nie, was daar ’n ander aktiwiteitsperiode.
Maar hy beklemtoon ook dat dit nie misbruik moet word nie.
Dis nie Christene se taak om ’n imperialistiese godsdiens daar te stel nie, sê hy.
Die ruimte dat kinders hul godsdiens in skole kan beoefen, moenie ’n dekmantel word om ’n evangelisasieveldtog te bedryf nie.
Christene moet hul godsdiens binne skoolverband só beoefen dat ook die ateïste gemaklik voel daarmee, sê hy.
Mense wat nie glo nie, moenie geviktimiseer word nie – maar dit geld ook andersom. Mense moenie slagoffers word van hul geloof of ongeloof nie.
Niemandt, wat sendingwetenskap doseer, sê dit beteken nie Christene hoef hul sendingywer in te boet nie.
Maar sending is in die eerste plek ’n saak van verhoudings, nie van inligting nie. Goeie verhoudings beteken meer vir die sending as om mense met propaganda te oorlaai.
En wat die gesprekke oor sulke godsdienstige kwessies betref, sê Niemandt dat dit nou meer as ooit nodig is dat mense in die redelike middelgroep hul stemme moet laat hoor.