Hy wil SA laat blom by WB
2011-08-05 22:13
Tokse en tabberds? Haute couture en hoogvatte?
Rugby en Rademan in een asem?
Inderdaad. Suid-Afrika word volgende maand op rugby- én modefront by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Nieu-Seeland verteenwoordig. Die Pretoriase ontwerper Simon Rademan is gekies om aan ’n modeskou by die toernooi deel te neem saam met internasionale grotes soos Oscar de la Renta.
Die simbool wat die Springbokke en Rademan saamsnoer is ons nasionale blom, die koningprotea. Dit pryk op die span se truie en was die inspirasie vir ’n skelpienk aandrok wat hy besig is om te maak.
Dis “senuweeagtige Simon” wat ons by sy ateljee in Nieu-Muckleneuk ontmoet. “Sorry ek babbel so, maar my kop moet gesuiwer word – hier is baie stemme hier binne!” sê Rademan, soos altyd van kop tot tone in swart gekleed. Dit maak sy groot, blou oë nog opvallender.
Op foto’s aan die muur glimlag ’n paar van die meer as 3 000 bruide vir wie hy die afgelope 22 jaar trourokke gemaak het. Die platskerm-TV is op ’n modekanaal ingestel.
“Wil jy tee hê?” vra Niko Grobler, Rademan se protégé en regterhand, vir hom.
“Eerder ’n kalmeerpil!” sê Rademan. En vir my: “Ek sien jy kyk na my vingers – ek kou letterlik my naels!” Hy moet die rok teen volgende Maandag verpak en Nieu-Seeland toe stuur, maar is nog nie tevrede nie.
“Ek het op ’n plek in die bedryf gekom waar jy dink: It’s over,” sê hy. “Alles wat jy doen, is maar net weer en weer. Dis die een celebrity ná die ander, die troues word net groter en die uitrustings word net duurder.
“Die rokke is anderster en daar is nuwe lappe. But you get to a place where it’s exactly the same thing, just by a new name. Hierdie is vreemde waters en dis hoekom ek so tense is.”
Rademan sê gereeld een sin in Afrikaans en dan die volgende een in Engels, asof hy doodseker wil maak almal kan hom volg.
“Ek is so naby daaraan om te sê: This is it, this is what I really like. En as ek dít kan doen, dan gaan ek my label insit, en ons gaan almal nooi en ons gaan paartie hou. Sjampanje drink en jy sal die ou Simon sien. Ek is uitgesproke en ek is joviaal en ek hou van ’n klomp mense (om my).”
Rademan volg die rok middel September Nieu-Seeland toe, waar hy ook die Wêreldbeker-eindstryd gaan bywoon – al is hy “nie ’n groot rugbyfan nie”.
“Ek sou nooit in my wildste drome gedink het dat dit juis rugby sou wees wat vir my ’n nuwe break gee nie,” sê hy. “As kind wanneer my pa in Wellington gaan rugby kyk het, dan’t ek en my ma buitekant gebly en my broer en my pa het by die rugbyveld ingegaan. Want dit het x-bedrag gekos om in te gaan. En as jy nie wou kyk nie, hoekom sou jy betaal om in te gaan?”
Rademan het arm grootgeword, as die jongste seun van twee dowe mense op die Bolandse dorp Ceres. “Hulle was demonstratiewe mense,” vertel Rademan.
Hy kon gebaretaal voor Afrikaans en Engels praat. “Dis hoekom ek my hande altyd moet vashou. Ek moet altyd keer of ek stamp almal om. Want ek is gewoond as ek met jou praat, wil ek beduie.”
Sy ma het waarskynlik op tien maande doof geword toe sy geelsug gekry het en sy pa nadat hy as jong seun aangerand is. “My pa het ’n stem gehad en hy kon nog ‘Jan Pierewiet’ sing, maar vals,” sê Rademan. “Net óns het geweet dis ‘Jan Pierewiet’.”
Hy was van jongs af deur klere gefassineer. Eenkeer het hy ’n niggie van hom se pop se arms afgebreek om ’n romp vir die speelding aan te trek. Hy beduie: “As jy ’n sakdoek vat en jy vou hom dubbeld en jy vou hom dubbeld en daar op sy voulyn maak jy net ’n klein gaatjie ... In die army leer ’n mens dat jy met ’n klein stukkie toiletpapier kan regkom – daai beginsel. As jy die pop se lyf dan deurdwing, kry jy ’n beautiful fitting.
“Dit was meer daai fitting wat vir my die fascination was. As jy dan die pop aan sy voete vashou ... ” hy gryp die denkbeeldige pop ... “Ek kan nou nog onthou as jy hom so draai, dan maak die rok só.” ’n Mens sién Rademan sien weer hoe die sakdoek swiep.
“Nou nog as ’n kliënt gelukkig is – she really likes the dress – sal sy draai, sy wil hê die lap moet so ’n dingetjie doen. When it does that – vir die soort vrou wat van daai look hou – then you know it’s fine. En dis so asof dit uit my dae met die pop kom. Ek soek daarvoor.”
Totdat ’n kliënt nie vir haarself so skeef in die spieël kyk en effens in die rondte draai nie, kan Rademan nie ontspan nie. Eers dán kan hy sy etiket insit en die rok laat gaan.
Die skêre wat sy ma en ouma s’n was, hang geraam aan die ateljee se muur. Rademan het daarmee geleer naaldwerk doen.
“Toe my ouma en ma oorlede is, het ek hulle naaldwerkboksies gevat,” sê hy. “Die twee boksies is nog nét so. Hulle het nog die tolletjies en alles, en hulle reuk sit steeds daarin.”
Rademan moes eers vyf jaar lank by Volkskas in Bellville as kassier gewerk het om genoeg geld te spaar om ’n kursus in modeontwerp te volg. Daarvoor het hy Pretoria toe getrek.
“Ek was ewe skielik alles, I was important,” vertel hy. “Ek het ’n sê gehad en mense het na my toe gekom vir my mening. Ek het pryse gewen. Toe’t ek besluit om hier te bly, want dis hier waar my kliëntebasis begin het.”
Deesdae is daar nie ’n bekende wat nog nie een van sy skeppings gedra het nie en Rademan hoef glad nie oor geld bekommerd te wees nie. Sy jaarlikse lysie van die bes en swaks geklede bekendes word verwelkom, gevrees én verpes.
Aan die begin het hy dreigemente gekry. “Ek was in Café 41 gewees en ek onthou nou nog hoe die man vir my gesê het: ‘Jy dink jy’s special? Ek gaan vir jou wys wie’s special ... ’ ”
Gelukkig het dit nooit verder as woorde gegaan nie. Rademan glo sy lys het mense se indruk oor Suid-Afrikaners verander.
“Die persepsie wat mense jare terug in Engeland gehad het van hoe Suid-Afrikaners lyk, was nie noodwendig goed nie,” sê hy. “Ons is geken vir kakie, want dis die beeld wat hulle op die TV gesien het.
“Dit was nog altyd vir my belangrik dat ons in die res van die wêreld geken word as ’n stylvolle nasie,” sê Rademan.