Krokodil swaai sy stert

2009-09-04 00:36

Oudpres P.W. Botha het die SAUK in die 1980's opdrag gegee om 'n TV-program te staak omdat hy geglo het 'n karakter verander snags in 'n krokodil wat mense opvreet, skryf mnr. Riaan (Koedoe) Eksteen, toe direkteur-generaal van die SAUK. Hy lig in 'n reeks van drie artikels die sluier oor die houvas wat Botha op die SAUK gehad het.  



Die raad van die SAUK het my in Februarie 1983 genader om die pos van direkteur-generaal te aanvaar. Op 40 was ek lus en reg vir ’n nuwe uitdaging.

Baie van die besluite wat ek geneem het, is vandag nog daar, soos Radio Metro (nou MetroFM), Radio 2000, Radio Jakaranda en Radio Oranje (albei nou suksesvol geprivatiseer) en die oggendnuusprogram op TV.

By tye was dit moeilik – indien nie byna ondraaglik nie – om my taak te verrig. Nie om die instelling te bestuur nie, maar aanhoudende inmengery en aftakelende kritiek het my ongevraagd tydig en ontydig oorstroom.

Verhouding met P.W. Botha

’n Belangrike faktor vir die gesonde funksionering van ’n nasionale uitsaaier soos die SAUK is en bly die staatshoof. Daardie verhouding moet op ewewigtigheid en wedersydse respek gegrond wees, anders ontaard alles later in ’n klug.

In die beginjare was daar welwillendheid van oudpres. P.W. Botha teenoor my. Ek het hom gereeld gesien. Ons was by ’n paar geleenthede saam op jagtogte. Hy het briewe aan my geskryf om my vir die een of ander rede te bedank en selfs om my met sekere inisiatiewe geluk te wens.

Soms was hy krities. Ons kon daaroor gesels en ek kon voortgaan.

Ander kere was hy driftig. Dan wou hy na geen rede luister nie.

Maar êrens het iets verkeerd begin loop. Hy het ’n ongekende wrewel in die SAUK en ook in my begin kry.

Tydens die raadsvergadering op ­5 November 1986 lees ek die volgende voor:

“Dit is met jammerte dat ek moet noem dat die staatspresident ongelukkig is met die hantering van ’n nuusbulletin waarin hy nie gereflekteer is nie. Dit was die 20:00-nuusbulletin op 27 Oktober 1986. In die 18:00-bulletin vroeër die dag is hy wel persoonlik in beeld gebruik.

“Oor die aantal jare waarvan ek DG is, het dergelyke voorvalle van ongelukkigheid hulle in ’n meerdere of mindere mate voorgedoen. Baie kere kon die omstandighede verduidelik word waaraan die ongelukkighede toegeskryf of gewyt kon word. Nou het ’n ander situasie ontstaan deurdat ’n vertrouenskrisis ontstaan het omdat die staatshoof voel dat die SAUK hom op ’n ander pad as hy bevind. Ten spyte van absolute versekering dat dit geensins so is nie, kon hy nie oortuig word nie. Gevolglik het ek geen keuse gehad nie as om die raad te versoek om oor die meriete van hierdie aangeleentheid uitspraak te lewer.”

Raad staan agter Botha

Nodeloos om te sê het die raad my bloot aangehoor en net kennis van my mededeling geneem. Soos soveel kere daarna het ek geen ondersteuning gekry wanneer dit by enigiets gekom het in sake waarby Botha betrokke was nie. Dat die lede hom ter wille was, was nie eens ’n kwessie nie.

Hulle het Botha se naam te berde gebring wanneer dit hulle gepas het.

Soos genl. Koos van Zyl, ’n voormalige kapelaan-generaal van die weermag met blindelingse lojaliteit aan Botha toe hy op ’n raadsvergadering voorgestel het dat ’n spesiale direktoraat vir godsdiens ingestel word.

Ek het op sekere praktiese aspekte gewys wat eers afgehandel moes word.

Hy het ná my opmerking opgestaan, agter my kom staan en in my oor gefluister: “As jy nie saamgaan met die voorstel nie, sal ek geen keuse hê as om die president mee te deel dat jy nie wil saamwerk nie.”

Die generaal het sy sin gekry, soos by talle ander geleenthede, byvoorbeeld met die beëindiging van regstreekse kerkuitsendings.

Opnames het hul verskyning gemaak. Sodoende kan gekeer word “dat mense, soos (aartsbiskop Desmond) Tutu, hul standpunte onbeheersd verkondig”. In elk geval is geen diens van Tutu daarna weer uitgesaai nie.

Waar het sake tussen my en Botha begin skeefloop en tot die punt versleg waar hy my nie meer kon verdra nie?

Vir hom was die Staatsveiligheidsraad (SVR) ongelooflik belangrik.

Wat daar bespreek en besluit is, was evangelie en dit het hy gepredik.

Ek moes tweeweeklikse vergaderings van die SVR se werkkomitee bywoon sodat ek kon weet van die aanslae teen die land en hoe die regering situasies hanteer. Gevolglik het ek dokumente van die SVR se werkkomitee ontvang.

Ná vier jaar het ek besluit dat die senior nuusdirekteur dit maar kon bywoon, as hy wou.

Dit het sieldodend geword om elke tweede week in die werkkomitee te luister na hoe die revolusie in en teen Suid-Afrika bekamp word en hoe vordering daarmee gemaak word, terwyl jy weet dat die teendeel eerder waar was. Die buitelandse strop het net ál nouer begin trek sodat iets êrens moes meegee.

Die dokumentasie en besprekings het, met respek, allermins enige perspektief verskaf wat nuusaanbieding en -ontleding kon verbeter.

Baie duidelik was my volgehoue afwesigheid by die werkkomitee aan Botha oorgedra. Hy was voorsitter van die SVR.

Een aand by ’n onthaal van die hoof van die weermag groet ek Botha.

Hy beveel my om langs hom te kom staan. Hy roep sowat ses senior generaals nader.

Gretig hoor hulle: “Hier is die man wat hom verwerdig om nie meer die werkkomitee by te woon nie.

“Hy dink mos hy hoef hom nie aan die werkkomitee en die SVR te steur nie. Ek het nuus vir hom. Dankie, u kan maar gaan, mnr. Eksteen.”

Op pad huis toe wonder ek waar en wanneer die bom gaan bars.

Krokodil in die program ‘V’

Nie lank daarna nie kry ek ’n oproep van min. Pik Botha, wat toe ministeriële verantwoordelikheid vir die SAUK gehad het. Die SVR het daardie oggend besluit dat P.W. Botha as voorsitter met my “in gesprek moet tree” oor die TV-program V.

Volgens P.W. Botha verander die karakter in die fiksieprogram V snags in ’n krokodil en vreet dan mense op.

P.W. Botha beskou die program as ’n aanval op hom.

(Volgens die webwerf www.imdb.com was V ’n wetenskapfiksieprogram oor klaarblyklik vreedsame buiteruimse wesens wat in menslike gewaad aarde toe kom. Mettertyd word ontdek hul mensvoorkoms is net ’n masker vir ’n reptielagtige spesie en dat hulle die aarde van sy natuurlike hulpbronne wil plunder. Die wesens was wel reptielagtig, maar nie krokodille nie en het wel mense doodgemaak, maar eintlik muise en rotte verorber.)

Elke plakkaat met sy foto in Pretoria se strate vir die komende NP-kongres is met ’n “V” geverf.

Ek gaan spreek hom dadelik en verduidelik dit is ’n fiksieprogram wat weekliks as deel van ’n reeks op TV4 uitgesaai word. Ek kan dit nie net sommer afhaal soos die SVR besluit het nie. Daar is implikasies wanneer so iets gedoen word, maar ek sal die program na ’n later tydgleuf verskuif en die episodes nie meer weekliks nie, maar elke aand aanbied. Sodoende kom die reeks vinniger tot ’n einde.

Sy reaksie: “Jy kan ook nie wag om die land in vlamme te sien opgaan nie. Dit wil jy natuurlik so gou as moontlik doen. Maar as jy so wil voortgaan, moet jou besluit nie vir my kom gee nie. Doen dit skriftelik en rig dit aan die voorsitter van die SVR. Dan sal die SVR daaroor besluit.”

Wat die verband sou kon wees tussen die land in vlamme te laat opgaan en ’n fiktiewe TV-karakter bly vir my duister; ook dat die SVR hom met so ’n onderwerp besig hou.

Vir die eerste keer begin ek werklik skrik. Nou het P.W. Botha die SVR agter hom. P.W. Botha het nou al ’n paar dik skywe van die Koedoe-salami gesny.

* Eksteen was ’n diplomaat wat van 1984 tot 1988 direkteur-generaal van die SAUK was. Voor dit was hy onder meer ambassadeur by die Verenigde Nasies in New York en hoof van beplanning by die departement van buitelandse sake.

Hy was byna ses jaar lank nou betrokke by die inwerkingstelling van resolusie 435 vir Namibië se onafhanklikheid. Hy woon deesdae in Namibië.

- Beeld

Binne Beeld

Weer
Lotto
Ksd: 14-20°C Scattered clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bfn: 3-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

OPEL

Corsa 1.4 Sport Utility MY04 PU
2008
R 99,900.00

TOYOTA

Corolla 140i MY05
2006
R 104,990.00

AUDI

A3 2.0 FSi Attraction Tiptronic 3-dr
2007
R 207,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.