Lang vryheidspad lê voor

2011-02-22 23:05

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Politieke vryheid is betekenisloos sonder kulturele vryheid, skryf Flip Buys en Henk Schalekamp na aanleiding van pres. Jacob Zuma se onderhoud met Beeld.


Pres. Jacob Zuma sê Afrikaners moet ’n sielkundige tuiste vind waar hulle veilig is en die vryheid en vrymoedigheid het om dit uit te leef wat vir hul belangrik is.

Dis mooi woorde van die president, maar dit bots ongelukkig met die regering se dade.

Zuma wys tereg uit dat dit vir Afrikaners as ’n verspreide groep moeiliker is as vir hom as Zoeloe om ’n grondgebied as tuiste te hê.

Die Afrikaner se werklikheid is waar van talle groepe ter wêreld wat as minderhede nie gebiedstuistes het nie. Daarom het die Verenigde Nasies (VN), die internasionale reg en versiende regerings hierdie probleem lank­al raakgesien en standaarde daarvoor ontwikkel. Die kern van hierdie beste praktyke is dat regerings nie net hierdie groepe moet verdra nie, maar dat daar ’n verpligting op state is om die tuistes waarvan die president gepraat het vir hulle te help skep. Terselfdertyd word regerings verbied om die bestaande tuistes en ruimtes wat hulle reeds het weg of oor te neem.

Die doel van hierdie internasionale standaarde is om te sorg dat kultuurgemeenskappe se regte gerespekteer word en dat hulle die nodige magte en hulpbronne kry om daardie regte te verwesenlik.

Anders bly dit net papierregte waaroor die meerderheid kan besluit. Dit beteken dat die grondwette en regerings voorsiening moet maak vir die kulturele vryheid van hierdie groepe sodat almal tuis kan wees in ’n multi-etniese land. Wenlande het lank­al ingesien dat die inkoop en lojaliteit van kultuurgemeenskappe voordelig is en hul lande vir almal vry, veilig, vreedsaam en voorspoedig kan maak deur minderhede te gun wat die meerderhede vir hulself opeis. ’n Minderheid kan net tot sy reg kom indien hy ook oor ruimtes en instellings beskik waar hy ’n meerderheid is.

Kulturele vryheid
’n Goeie voorbeeld van hierdie internasionale standaarde is die VN se ontwikkelingsprogram wat al in 2004 ’n verslag oor kulturele vryheid gepubliseer het met riglyne vir state soos Suid-Afrika.

In hierdie verslag bevind die VN dat ’n gewone demokrasie en grondwetlike waarborge van individuele regte nie voldoende is nie. Die verslag stel dit prontuit: “As die geskiedenis van die 20ste eeu iéts bewys het, dan is dit dat pogings om kultuurgroepe weg te wens of in die meerderheid te laat opgaan eerder ’n lewenskragtige kulturele herlewing uitlok”.

Die verslag sluit nou aan by filosowe soos die Kanadees Charles Taylor, wat waarsku teen die “demokratiese uitsluiting” van minderhede waar die meerderheid sy getalle misbruik om die grondliggende belange van minderhede weg te stem, soos byvoorbeeld hul taal- of onderwysregte.
Timothy Sisk, Amerikaanse politieke wetenskaplike, sê dat dit die rede is waarom minderhede ’n demokrasie nie as vryheid beleef nie, maar as “strukturele oorheersing deur die opponerende meerderheid”. Die VN-verslag waarsku daarom ernstig teen “kulturele uitsluiting”, waar die minderheid se instellings, waardes en lewenswyses nie erken en gerespekteer word nie of waar op grond van hul kulturele identiteit teen hulle gediskrimineer word.

Die president het in sy staatsrede gesê dat politieke vryheid niks beteken sonder ekonomiese vryheid nie. Is politieke vryheid sonder kulturele vryheid nie net so niksbeduidend nie?

SA werklikheid
Hoekom is daar by talle Afrikaners so ’n versugting na veilige ruimtes of tuistes dat selfs die president met begrip daarna verwys het?
Die rede is baie duidelik: Die ANC het sedert 1994 daardie ruimtes en tuistes stelselmatig verskraal en afgetakel en Afrikaner- en Afrikaanse kultuurskatte en kultuurinstellings onherstelbaar aangetas. Daar is te veel voorbeelde om op te noem. Kyk maar net wat het gebeur met Afrikaans as openbare taal of Afrikaanse skole, universiteite en kolleges wat onder die dekmantel van transformasie bloot oorgeneem is en steeds geteiken en geteister word.

Beskuldigings dat ’n strewe na aanvaarde wêreldpraktyke en -standaarde ’n terugverlang na die voorregte van apartheid is, is nie geldig nie. Afrikaners veg lankal nie meer om ’n beter verlede nie, maar het kulturele vryheid vir die toekoms nodig soos enige ander vergelykbare groep ter wêreld. Dis ook nie ’n kwessie dat Afrikaners teen demokratiese veranderings is nie. Daar is vandag algemene begrip daarvoor dat daar ná 1994 grootskaalse veranderings moes kom ter wille van regstelling, gelykheid, insluiting en geleenthede vir almal.

Die probleem is dat wat in die praktyk gebeur veel verder as gelykheid gaan en Afrikaners se grondliggende regte en belange aantas, tuistes en ruimtes soos ons instellings ondergrawe en talle Afrikaners so vervreem het dat ’n groot aantal totaal ontuis begin voel en reeds geëmigreer het.

Verteenwoordigendheid
Selfs oudpres. FW de Klerk het al gesê dat hy uiters bekommerd oor die toekoms van minderhede is en hy het gevra wat anders is dit as oorheersing wanneer die swart meerderheid die agenda dikteer vir die wit, Indiër- en bruin minderhede en oor alles in hul lewe besluit?

Die beginsel van “bevolkingsverteenwoordiging” word as werktuig gebruik om Afrikaners en ander groepe te stroop van hul bestaansbelangrike instellings. Weens die bevolkingsamestelling in die land sal die blinde toepassing van hierdie beginsel noodwendig beteken dat alle instellings in die land onder swart en terselfdertyd Engelssprekende beheer moet wees.

Volgens De Klerk is die konsep van “verteenwoordigendheid” onversoenbaar met die grondwetlike beginsel van kulturele verskeidenheid. Hy het tereg gesê dat in ons multikulturele gemeenskap “verteenwoordigendheid” daarop sal uitloop dat die meerderheid elke faset van minderhede se lewe sal beheer, of dit nou in hul werk, skole, universiteite of sport is.

’n Ereplek
Suid-Afrika is ’n groot land met ruimte vir almal en die ANC sou steeds sy doelwitte kan bereik sonder om kulturele skade aan te rig. Die ANC kan sy eie geskiedenis ’n ereplek gee sonder om die Afrikaners s’n te kriminaliseer.

Hy kan swart mense hul broodnodige toegang tot skole, universiteite en kolleges gee sonder om alle Afrikaanse instellings in die proses weg te transformeer. Hy kan arm swart mense toegang tot welsynsdienste gee sonder om sy 20%-subsidie aan Afrikaanse welsynsorganisasies te gebruik om deur die transformasie dienste aan 90% van Afrikaanse armes te ontsê, hy kan Engels en inheemse tale hul regmatige staanplek gee sonder om die grondwetlike bepalings oor taal só te hanteer dat Afrikaans sy plek verloor.

Hy kan dorpe en strate na sy helde noem sonder om net Afrikaanse name te teiken vir verandering.

Hy kan demokrasie orals invoer sonder om soos die kenner Donald Horo-­ witz gesê het “ ... die soort meerderheidsregering te wees soos wat in Brittanje en die VSA aangetref word, maar wat in ’n land soos Suid-Afrika net een soort rasse- of etniese oorheersing vir ’n ander verruil”.

Kortom was en is dit nie nodig om in die proses om die meerderheid te bemagtig die minderhede kultureel en andersins te ontmagtig nie.

Afrikaners het daarom sedert 1994 al tallose gesprekke met ANC- en regeringsleiers gevoer, juis oor die veilige tuistes waarna Zuma verwys het. Maar ná al die “vrugbare” samesprekings waar daar met groot begrip na Afrikaners geluister is, is die deure vriendelik in ons gesigte toegemaak.

Ongelukkig lê ’n lang pad na kulturele vryheid en gelykheid nog voor, en as Zuma ernstig genoeg is, sal hy die leiding neem om ’n kulturele skikking te bemiddel wat die tans beperkte grondwetlike ruimtes vir kultuurgroepe verbreed tot by die jongste internasionale standaarde en beste wêreldpraktyke.

Dan sal Afrikaners ook ’n veilige tuiste en ruimte in Afrika hê.

Flip Buys en Henk Schalekamp is onderskeidelik uitvoerende hoof en uitvoerende adjunkhoof van Solidariteit.

Binne Beeld

Weer
Lotto
Ksd: 10-18°C Mostly sunny. Mild. Pta: 6-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 2-17°C Sunny. Cool. Bfn: 1-15°C Sunny. Quite Cool.
Dbn: 14-20°C Mostly sunny. Cool. PE: 13-19°C A few showers. More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

IT Operational Manager

Johannesburg, South Africa
E-Merge IT Recruitment
R480000

Admin Assistant

Silverton, Pretoria, South Africa
Sentinel Staffing Services
R8000 - R10000

Back End Developer

Cape Town, South Africa
Nu Beginnings Recruitment Specialists
Market Related

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

BMW

118i (E87)
2007
R 200,600.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

AUDI

A4 2.0 TDi Dsl 103kW MY05
2006
R 255,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

7'' gobii LCD e-leser met kleur

Nou slegs R899

Sluit in e-boek geskenkbewys ter waarde van R160, swart omslag en USB muur laaier. Aanbod eindig 27 Mei 2012. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.