Later? Dit is dalk te laat
2012-02-21 22:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Wat is die moontlikheid dat die Midde-Ooste binnekort weer kan ontplof? Leopold Scholtz bekyk die verwikkelinge.
Die oorlogstaal wat deesdae tussen Israel en Iran geslinger word, laat koue rillings langs menige kenner se ruggraat afloop.
As sake nie versigtig bestuur word nie, kan die Midde-Ooste binne weke in vlamme staan.
Dit gaan hier om twee nou verwante brandpunte, die strategies belangrike straat van Hormoes (die deurgang tussen die Persiese Golf en die Indiese Oseaan), en die vraag of Israel (al dan nie gesteun deur Amerika) die Iranse kernwapenprogram uit die lug gaan probeer vernietig.
Albei brandpunte het uiteindelik te make met die oortuiging dat Iran kernwapens aan die ontwikkel is. Sommige kenners meen Iran sal uiteindelik daarvoor terugdeins; ander meen hy sal binne ’n jaar sy eerste kernbom kan begin bou.
Dalk die gesaghebbendste bron is die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA)-verslag ’n paar weke gelede. Daarin het hy ’n lang reeks agterdogwekkende feite opgenoem wat saam die oorweldigende vermoede wek dat Iran wel aktief aan ’n kernwapenprogram werk.
Is dit erg? Immers, Israel het self kernwapens en die Koue Oorlog het gewys dat die besit van kernwapens deur albei groot magsblokke ’n wedersydse afskrikking ingehou het.
Maar dié analogie gaan nie op nie. Die Kubaanse krisis van 1962 het Amerika en die USSR beweeg om permanente kommunikasiekanale na mekaar te open om misverstande gou te keer – en Iran weier om met die Israelse regering te praat.
Tweedens is daar twyfel oor die Iranse regering se rasionaliteit.
Sommige kenners sien ’n koorsagtige apokaliptiese visie in Teheran, ’n houding dat die prys wat Iran in ’n kernoorlog sal betaal die moeite werd is, solank Israel uitgewis word.
Die ajatolla Ali Chamenei het Israel onlangs ’n “kankergeswel” genoem wat “verwyder” moet word.
Daarby het Alireza Forghani, deur nuusmedia as “Chamenei se strategiese raadgewer” beskryf, op ’n Farsi-internetblad redes verskaf waarom Iran Israel teen 2014 moet aanval en uitwis.
Hy het Israel se behandeling van die Palestyne as rede aangegee en gesê dit gaan hier om ’n “verdedigende djihad”. As die Islamitiese wêreld Israel nie gou aanval nie, “kan die geleentheid daarmee heen wees en sal dit nie meer moontlik wees om hom te stop nie”.
Dié soort praatjies voed die eksistensiële angs in Israel. Die Israeli’s vrees een of twee kernbomme bo die dig bevolkte Tel Aviv-omgewing sal 75% van die bevolking uitwis.
Die ander brandpunt is die straat van Hormoes.
Amerika en die Europese Unie (EU) het besluit om op 1 Julie ’n olieboikot teen Iran af te kondig.
As dit gebeur, het Iran gedreig, sluit hy die straat, waardeur sowat ’n derde van die wêreld se olie vloei. Dit kan ’n globale ekonomiese ramp veroorsaak.
Iran het die militêre middele om dit ’n beperkte tyd lank te doen.
Maar dit sal outomaties beteken dat Amerika met sy oorweldigende vuurkrag sal ingryp en dit kan die vonk vir ’n groter oorlog verskaf.
Met die Amerikaanse presidentsverkiesing wat feller word, kan pres. Barack Obama verplig voel om die Iranse kernprogram met ’n lugaanval te vernietig. Peilings wys dat die Amerikaners oorweldigend ten gunste daarvan is.
Voorlopig is Obama nie ten gunste daarvan nie; hy wil eers die sanksies kans gee om te werk. Dus doen hy sy bes om die Israeli’s te keer.
Maar die oorlogspraatjies hou nie op nie. Die Washington Post het onlangs berig dat mnr. Leon Panetta, Amerikaanse minister van verdediging, vrees dat die Israeli’s êrens tussen April en Junie met aanvalle kan begin.
En op ’n konferensie het mnr. Ehud Barak, Israelse minister van verdediging, onheilspellend gesê: “Diegene wat sê ‘later’, kan vind dat later te laat is.”
Israel is nie tot dieselfde vuurkrag as Amerika in staat nie, maar hy kan Iran wel baie seermaak.
Alles dui daarop dat Jordanië en Saoedi-Arabië se regerings anderpad sal kyk as Israeliese bomwerpers oor hul grondgebied vlieg om hul bomladings oor Iran af te werp. Maar dit sal ’n langdurige veldtog moet wees. Die Israeli’s kan nie al die teikens in twee of drie aanvalle raak nie; dit sal waarskynlik meer as ’n week lank volgehou moet word.
En Israel sal ’n groot prys betaal. Die Iraniërs, so kan verwag word, sal onmiddellik terugslaan met middel-langafstand-missiele, maar dié kan betreklik maklik gekeer word.
Wat aansienlik moeiliker sal wees, is die gelyktydige lansering van honderde kortafstand-missiele deur Hamas in die Gasastrook en veral Hisbolla in Suid-Libanon.
Wat beteken dat Israel óf nóg ’n reeks lugaanvalle hierop sal moet doen óf ’n omvattende grondaanval sal moet doen.
En omdat albei bewegings die missiele tussen en selfs in dig bewoonde woongebiede geplaas het, sal Israelse aanvalle noodwendig grootskaalse burgerlike verliese meebring.
Al verbied die Geneefse Konvensie dit dat militêre agter burgerlikes skuil, moet Israel weer, soos in 2006, ’n histeriese veldtog verwag met die beskuldiging dat hy oordrewe reageer.
Israel gaan self erg seerkry as hy aanval. Maar as hy nié aanval nie, kan dit sy einde beteken.
Dit sal help as Israeli’s meer begrip vir die Palestyne toon.
Maar die Palestynse kwessie is vir die fanatici wat Iran lei net ’n voorwendsel.
Die spanning hoop op.

