‘MDC niks beter as Zanu-PF nie’

2011-02-07 23:00

Freeth kort nadat hy in 2008 deur Zimbabwiese “oorlogsveterane” aangerand is. Foto: Sonja Carstens

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Ben Freeth is in 2008 deur Zimbabwiese “oorlogsveterane” papgeslaan. Hy skryf ’n nuwe, taai jaar lê voor vir die lewensmoeë wit mense in Suid-Afrika se buurland.

’n Paar weke gelede het ek die pad van Harare na Bulawayo aangedurf.

By ’n polisiepadversperring in ons verwaarloosde dorpie Chegutu vra ek of hoofinspekteur Manika al terug is ná sy jongste termyn as vredesbewaker van die Verenigde Nasies.
“Hy kom binnekort terug,” sê die konstabel. My borskas wil ineen krimp, maar ek sê niks.

Ek weet hoe Manika deur sy selektiewe toepassing van die onderdrukkende wette soveel lyding onder ons mense veroorsaak het. Ek onthou hoe hy niks gedoen het om te keer dat geweldenaars ons plaaswerkers en MDC-lede tydens die verkiesing in 2008 aanval en beseer nie.

Hy het nie eens probeer om hulle voor die reg te bring nie.

Sover ek deur die dorp ry, ry ek verby lemoen- en mango-smouse wat die vrugte van ons plase gestroop het en langs die pad probeer verkoop.

Ek hou stil by David Whiteheads, die juweel van die eens florerende katoenbedryf.

Daar is geen elektrisiteit nie, maar in die skemerlig sien ek dwarsdeur die geraamte van die nou spelonkagtige fabriek.

Stil is die klanke van produksie.

Ons stemme eggo spookagtig in die leegheid waar 2 000 mense vroeër gewerk het.

Terug in die motor ry ons na Kadoma Spinners & Weavers.

“Ons kan nog net babadoeke maak,” sê een van die werkers.

“Dit is al waartoe die kragopwekkers in staat is. Die meeste van die tyd sit ons, want daar is geen katoen nie.”

Ek kry ’n paar liter brandstof by ’n wit boer, mnr. Doug Alexander. Al die vulstasies staan leeg.

Hy is eers van sy een plaas en toe van die ander geskop. Doug bly nou op die dorp en probeer om ’n bietjie te boer op stukkies grond in die distrik wat nou in swart besit is.

Sy baard is veel witter as toe ek hom laas gesien het.

Die brandstof is net genoeg om Gweru te haal. Daar kan ek darem vol maak.

Al langs die pad na Bulawayo, met die afgebreekte grensdrade aan weerskante, is al wat van hierdie mielieparadys oorgebly het jammerlike lappies vergeelde mielieplante wat deur bestaansboere gesaai is op grond wat hulle nie gekoop het nie.

Hier en daar hou ek stil en gesels met ’n paar wit boere. Hulle is afgemat.

Mnr. Sid Shaw het die plaas Onverwacht besit totdat mnr. Welshman Ncube, Zimbabwe se minister van handel en die nuwe leier van ’n MDC-faksie nadat hy mnr. Arthur Mutambara, adjunkpremier, ontsetel het, dit uit sy besit gewring het.

“Die MDC is niks beter as Zanu-PF nie,” sê nog ’n boer.

“Ek is wesenssat,” sê mev. Anne Lourens, boervrou en weduwee van ’n man wat 11 jaar gelede tydens die Gukurahundi-volksmoord op die Matabeles in die 1980’s op hul plaas vermoor is.

“My hart gaan uit na jou,” sê ek, “ons is almal moeg. Plaasbesettings doen dit aan ’n mens.”

In Bulawayo aangekom, ry ek deur die voorheen bedrywige nywerheidsgebied, nou byna ’n spookdorp.

Daar is net enkele motors op die pad. Langs die pad loop mense sonder doel of bestemming. Dit verras nie: die werkloosheidsyfer in Zimbabwe is immers 95%.

The Wall Street Journal en die Erfenisstigting het Zimbabwe pas op die 179ste plek op die wêreldranglys wat betref ekonomiese vryheid geplaas. Dié ranglys meet die reg om te belê, te werk en te produseer.

Die stigting van die regering van nasionale eenheid (RNE) het niks gedoen om Zimbabwe se posisie op dié ranglys te verbeter nie.

Nie een van dié land se drakoniese wette is herroep nie.

Die polisie, die weermag en die regstelsel is steeds vyandig partydig.

Die land se menseregtekommissie is al twee jaar lank dormant.

Die enigste openbare uitsaaier is steeds in Zanu-PF se hande.

Die waarborge vir die erkenning en toepassing van menseregte wat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in die ooreenkoms tussen mnr. Morgan Tsvangirai en pres. Robert Mugabe ingeskryf het, word steeds nie toegepas nie.

Zimbabwe se regslui vir menseregte (ZLHR) kla die SAOG daarvan aan dat hy deur die nie-toepassing van dié regte verdere vergrype aanmoedig en ongestraf laat.

Terug in Harare is dit ’n ander wêreld, ’n heel ander land.

Op die oppervlak werk dinge weer. Die supermarkte is vol. Die paaie is besig. Mnr. Tendai Biti, die MDC se minister van finansies, voorspel ’n groeikoers van 9,3% en selfs die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) verwag groei van 4,5% in 2011.

Met die perspektief van buite die stadsgrense, waar ons vlugtelinge in ons eie land is, lyk dít onmoontlik.

Dit laat my wonder waar Biti en die IMF aan hul optimisme kom, maar dis seker nie te moeilik om ekonomiese groei te bewerkstellig op ’n tydstip dat die prys van grondstowwe wêreldwyd die hoogte in is nie.

Prof. John Makumbe, ’n politieke ontleder, sê 2011 “is die jaar waarin die diktator (Mugabe) op die een of ander wyse geen ander keuse sal hê as om te gaan nie”. Die meeste van ons durf dit nie waag om hom te glo nie, ons het dit al soveel keer gehoor.

Almal is senuweeagtig. Selfs diegene in Harare-land is bekommerd oor 2011.

Mugabe praat van ’n verkiesing en landwyd maak Zanu-PF hom gereed vir ’n herhaling van die gebeure toe Mugabe in Junie 2008 “herkies” is nadat hy aanvanklik die Maart-verkiesing verloor het.

By die padversperrings maak militêre polisiebeamptes weer hul opwagting naas die gewone polisielede. Soldate beweeg voortdurend deur die dorpe.

Dreigemente van geweld word oral gehoor. Die vrese van wat in 2008 gebeur het, lê vlak in die geheue. Toe is meer as 300 mense dood en duisende vermink in die skrikbewind wat landwyd teen die opposisie en die wit boere gevoer is.

Wit en buitelandse sakelui is op hul senuwees. Die waarskynlikheid dat die wetgewing om ondernemings te verinheems (deur te verseker dat 51% van alle ondernemings aan swart Zimbabwiërs behoort) deur Zanu-PF as ’n verkiesingskreet gebruik gaan word, is ’n gegewe.

Voelers word reeds uitgesteek. Die voorval onlangs toe “oorlogsveterane” ’n vakansieoord in ’n Suid-Afrikaners se besit net buite Harare ingeneem het, is net ’n eerste stap.

Die RNE, tot sy lof, het ingetree. Niemand is egter in hegtenis geneem of van ’n misdaad aangekla nie.

Dis egter Zimbabwe se diamantskat wat die Zanu-PF se besluit om die RNE te laat uitrafel, nou belangrik maak.

Die grootste diamantveld ter wêreld is in Zimbabwe ontdek en dit is buite perke vir almal behalwe die Mugabe-elite. Selfs ’n parlementêre komitee is onlangs toegang tot dié gebied geweier.
Zimbabwe se diamantbedryf is toegespin in ’n web van politieke intrige.

Oral waar diamante op dié skaal in Afrika ontdek is, is dit gevolg deur gewere en bloedvergieting.

Daar word wyd bespiegel oor Chinese betrokkenheid. Die laaste paar maande is reuse- Chinese militêre kasernes langs die Mazowe-pad na die diamantvelde gebou. Dis nooit in die parlement, die senaat of die kabinet bespreek nie.

Maar iemand het dit gemagtig. En daardie iemand het genoeg omvangryke belange in die diamantbedryf om so ’n ontwikkeling te regverdig.

Van ons, Zimbabwe se klein mense, word verwag om klakkelose optimiste te wees. Anders is ons net mense wat ons maar daarin berus het om die toekoms op ’n manier te oorleef.



Mnr. Ben Freeth en mnr. Mike Campbell, sy skoonpa, in 2009 by die SAOG-tribunaal in Windhoek toe bevind is dat hul plase onwettig beset is. Twee jaar later is Zimbabwe steeds ’n gevaarlike plek.
Foto: André le Roux

Binne Beeld

Weer
Lotto
Ksd: 10-18°C Mostly sunny. Mild. Pta: 6-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 2-17°C Sunny. Cool. Bfn: 1-15°C Sunny. Quite Cool.
Dbn: 14-20°C Mostly sunny. Cool. PE: 13-19°C A few showers. More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

BMW

118i (E87)
2007
R 200,600.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

AUDI

A4 2.0 TDi Dsl 103kW MY05
2006
R 255,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

7'' gobii LCD e-leser met kleur

Nou slegs R899

Sluit in e-boek geskenkbewys ter waarde van R160, swart omslag en USB muur laaier. Aanbod eindig 27 Mei 2012. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.