Om Simply Slim te kan wees

2009-12-29 19:59

‘Die nommereen-verslan­kings­kapsule in die wêreld. Verloor gewig sonder ’n drastiese dieetverandering of verpligte oefenprogram.”

Dié belofte op die verslankingsmiddel Simply Slim se bemarkingsmateriaal klink soos ’n droom wat waar word vir menige rusbankruspes wat hou van lekker eet en gimnasiums verpes.

Duisende oorgewig Suid-Afrikaners dok R590 per maand op vir dié produk, wat aggressief bemark word in publikasies, winkelsentrums, op radio en televisie.

Die afgelope tyd het verskeie verbruikers egter begin kla dat hulle simptome soos duiseligheid, hartkloppings, angs, hoofpyn, slapeloosheid en neerslagtigheid begin ervaar toe hulle die middel begin gebruik het.

Tientalle vroue het by Beeld gekla, minstens 30 op die verbruikerswebwerf www.hellopeter.com en etlike mense op mnr. Johan Marais (49) van Durban se blog en Health24.

Slegs enkeles het die middel vurig verdedig.

Marais het geskryf hy het die middel gestaak nadat hy ná ’n maand geen gewig verloor het nie, maar gesukkel het met slapeloosheid, moegheid en hartkloppings.

Hy beweer ook hy het die middel teen sowat R16 ($2) per pakkie ingevoer nadat hy die vervaardiger in China gekontak het.

Me. Elna Muller (42) van Pretoria het gesê sy het gevoel asof sy “op ’n ander planeet” was: “Ek het gevoel asof ek ’n hartaanval kry, naar geword en diarree gehad...asof ek wou doodgaan.”

’n 45-jarige vrou van Gauteng het op www.hellopeter.com gesê sy het erge slapeloosheid, ’n droë mond, duiseligheid, floutes, naarheid, bewerasie en futloosheid ervaar.

Haar algemene praktisyn het vasgestel haar bloeddruk was 170/110, glo hoogs gevaarlik. Dít was nadat haar ginekoloog glo kort tevore bevind het haar bloeddruk was normaal.

Dr. Antoinette de Beer, ’n algemene praktisyn van Pretoria, het aan Beeld gesê sy het ’n paar pasiënte op Simply Slim gesien wat kla oor erge hoofpyn, buikpyn en -ongemak, hoë bloeddruk en ’n vinnige hartklop.

Geen toetse, sê MBR

Simply Slim sê op sy webwerf die produk, wat onder meer bitterlemoen (Citrus aurantium), lotus, aalwyn en kassia bevat, is by die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) “geregistreer”.

In hofstukke teen ’n mededinger is beweer die middel is as “aanvullende medisyne” by die MBR geregistreer.

Me. Mandisa Hela, registrateur van die MBR, het egter ontken dit is “geregistreer”. Die MBR het nog geen kliniese toetse op Simply Slim gesien wat die veiligheid en doeltreffendheid van die middel verseker nie.

Simply Slim het onlangs aan Beeld toegegee hy het bloot aansoek gedoen om toekomstige registrasie en ’n MBR-dokument verskaf.

Die MBR het sewe jaar gelede ’n ouditkennisgewing uitgereik ingevolge waarvan vervaardigers van aanvullende medisyne gevra is om binne ses maande hul produkte voor te lê met die oog op toekomstige registrasie.

Die MBR-dokument wat aan Beeld getoon is, is die MBR se erkenning van ontvangs van die voorlegging en nie ’n “registrasiedokument” nie. Dit is ook eers vroeg vanjaar gestempel.

Dr. Joey Gouws van die MBR het intussen toegegee daar is regsonsekerheid oor die owerheid se ouditkennisgewing.

Sy het bevestig die afsnydatum is nie toegepas nie en die MBR “kyk nou na die wetlike aspekte en die produkte”.

Sy het toegegee “hulle kon enigiets ingedien het” om die erkenning-van-ontvangs-dokument te bekom.

Volgens Gouws mag produkte in die oudit net mediese aansprake maak indien hulle dit wetenskaplik kan staaf.

Sy sê dit beteken hulle moet in besit wees van wetenskaplike studies wat op die hele produk gedoen is en nie net op sekere bestanddele daarin nie.

Verhale van mense wat vertel hulle het gewig verloor op die produk tel nie as stawing nie.

Die MBR het vroeg vanjaar by monde van prof. Peter Eagles gesê bemarkers van dié produkte mag geen medisyne-aansprake maak as die aansprake nie by die MBR geregistreer is nie.

Beeld het vroeër betroubaar verneem die MBR het nie die mannekrag om elk van die 20?000 tot 60?000 produkte wat voorgelê is, te monitor vir wetenskaplike stawing nie.

Beeld het Simply Slim gevra om bewyse van ’n wetenskaplike studie.

Mnr. Ferdi Hartzenberg, prokureur van mnr. Marius Venter, eienaar van Simply Slim, het gesê Simply Slim se vervaardiger in China het ’n “interne kliniese studie” gedoen om die “doeltreffendheid en gewenstheid” van die produk te bepaal.

“Die data is interne maatskappy-inligting wat nie die farmakologiese pad volg soos gewone medisyne nie en die data is ook nie deur die maatskappy gepubliseer nie.”

Volgens Hartzenberg is Simply Slim in ’n “beplanningsfase” om ’n protokol op te stel om die produk, in samewerking met “erkende wetenskaplikes”, in Suid-Afrika te toets.

Vrae oor bitterlemoen

Gouws het bevestig die MBR ondersoek Simply Slim en is besig met toetse om vas te stel wat daarin is.

Die MBR kon tot dusver geen onwettige middels, soos die voorskrifmedisyne efedrien of sibutramien (die voorskrifmiddel Reductil), daarin opspoor nie, word verneem.

Volgens prof. Vernon Louw, hoof van kliniese hematologie aan die Universiteit van die Vrystaat se fakulteit mediese wetenskappe, bevat bitterlemoen in middels soos Simply Slim onder meer m-sinefrien. Dit is ’n alfa-agonis wat die slagare so kan vernou dat dit bloeddruk verhoog.

“Op die oomblik is die aanbeveling van die American College of Physi­cians om nie bitterlemoen vir gewigverlies te gebruik nie.”

Volgens Louw kan daar ook ’n interaksie wees tussen bitterlemoen en ander medikasie wat die persoon gebruik.

Dr. Jan-Peter Smedema, ’n kardioloog van Kaapstad, en dr. Gerbus Müller, hoof van die Tygerberg-hospitaal se gifinligtingsentrum, het ’n jaar gelede in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal ’n geval beskryf van ’n blakend gesonde 38-jarige liggaamsbouer wat ’n hartaanval gekry het nadat hy aanvullings met onder meer sinefrien, okto-pamien, tiramien en kafeïen geneem het.

Dr. Robert Brackett, direkteur van die Amerikaanse kos- en medisyne-administrasie (FDA) se sentrum vir voedselveiligheid, het in Maart 2006 aan ’n Amerikaanse regeringskomitee gesê hul ondersoek het getoon natuurlike bitterlemoenekstrak behoort sowat 4% m-sinefrien te bevat.

Sommige produkte bevat egter tot 90% m-sinefrien, ’n aanduiding dat dit dalk met chemiese sinefrien aangevul is. Dus is die vlak van m-sinefrien ’n moontlike maatstaf vir veiligheid.

Hulle het ook bevind dat verslankingsmiddels met bitterlemoen dikwels ook natuurlike produkte soos oktopamien en tiramien bevat wat die hartklop en bloeddrukvlakke kan beïnvloed.

Vetsug-kwellinge

Prof. Tessa van der Merwe, endokrinoloog en wêreldbekende vetsugspesialis van Pretoria, meen oorgewig behoort nie deur leke “behandel” te word nie.

Sy sê die Wêreldgesondheidsorganisasie het vetsug in 1997 as ’n mediese toestand geklassifiseer.

“Ons mediese fondse het reeds ’n ICD10-kode (E66) daarvoor. Wat gee ’n onopgeleide die reg om ’n mediese toestand te behandel met produkte wat dalk nie behoorlike eweknie-geëvalueerde wetenskaplike studies geslaag het nie?”

Van der Merwe sê daar is etlike mediese toestande wat met vetsug verbind word. Dit sluit endokrinologiese en ginekologiese toestande in.

Sy meen slegs spesialiste is opgelei om die eerste tekens van toestande soos diabetes by mense te diagnoseer wat selfs net effens oorgewig is. Dié pasiënte kan dadelik behandel of verwys word.

Daar is ook mense met baie hoë liggaamsmassa-indeks(LMI)-tellings, selfs tot 80kg/m². LMI is jou liggaamsmassa (kg) gedeel deur jou lengte kwadraat (m²). ’n Gesonde LMI is onder 25kg/m² en vetsug word gewoonlik bo 30kg/m² gediagnoseer.

Volgens Van der Merwe kan abnormaliteite met die pituïtêre klier ’n rol speel en die totale gesondheidsprofiel van die persoon moet behoorlik deur ’n mediese praktisyn ondersoek word.

“Watter agent wat Simply Slim verkoop, het genoeg opleiding om te weet of daar ’n mediese oorsaak vir ’n persoon se oorgewig is?”

Van der Merwe het byvoorbeeld ná ’n intensiewe mediese ondersoek op ’n 27-jarige vrou, wat binne ’n jaar 20kg opgetel het, polisistiese ovariale sindroom by haar gediagnoseer en haar dadelik na ’n ginekoloog verwys.

“Die pasiënte sit ’n uur tot anderhalf uur by ons. Mense moet ophou om na vetsug te kyk as ’n nie-mediese probleem.

“Ek daag Simply Slim uit om deur te druk met ’n behoorlike kliniese proefneming met plasebo-kontrole en eweknie-evaluering, dan kyk ons oor ’n paar jaar of die produk op lang termyn werk.”

- Beeld

Binne Beeld

Weather
Lottery
Cpt: 21-31°C Sunny. Warm. Pta: 17-30°C More sun than clouds. Warm.
Jhb: 15-28°C Afternoon clouds. Mild. Bloem: 18-27°C Scattered showers. More clouds than sun. Pleasantly warm.
Dbn: 20-29°C Tstorms late. Mostly cloudy. Warm. PE: 19-22°C Scattered showers. Morning clouds. Cool.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

AUDI

A4 1.8T FSi Attraction MY09
2008
R 209,900.00

TOYOTA

RunX 180 RX 5-dr MY04
2005
R 125,900.00

TOYOTA

Fortuner 4.0 4x4 AT
2008
R 329,990.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chill out in Knysna

Spend 2 nights at the Turbine Boutique Hotel & Spa in Knysna's gorgeous Thesen Island for R3058 per person sharing. Includes return flights, taxes, car hire and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii eReader nou beskikbaar

Koop die gobii eReader en gobii-omhulsel vir iemand spesiaal vir Valentynsdag. Gratis aflewering binne 24-uur. Koop dit nou.

Koop Friends with Benefits en wen

Koop die DVD of Blu-ray en staan ’n kans om 1 van 5 "Love You"-blikke met koekies te wen. Die wedstryd sluit 9 Februarie. Koop dit nou.

Koop 4 romans vir R79,96

Koop enige 4 romantiese verhale vir slegs R79,96 terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Geskenke vir hom

Koop ’n klassieke skuimskeerborsel vir R279 vir die man in jou lewe en kry 15% afslag op ’n uitgesoekte reeks naskeermiddels. Koop dit nou.

Dit is al weer ’n fleurige Valentynsdag!

Daar is fleurige spesiale aanbiedinge by kalahari.com met die gobii eReader, Friends with Benefits, parfuums en rose wat nou beskikbaar is. Koop dit nou.

2 DVDs vir slegs R129

Winskopie van die week

Sit snoesig teenaan jou geliefdes hierdie Valentynsdag met ons aanbod van 2 DVD's vir slegs R129. Aanbod geldig solank vooraad hou. Koop dit nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

Please Upgrade
Your Version of Flash
Get Adobe Flash player
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.