Om met syfers te toor
2012-01-12 22:20
Die aanbieding van die matriekuitslae op nasionale TV was vanjaar suiwer politieke teater, skryf Jonathan Jansen.
Die bruisende kamer was gevul met staatsamptenare, regeringskonsultante, semi-staatsagentskappe, politici en leerlinge van staatskole.
Asof iemand telkens die teken gegee het, het die kamer weerklink van applous elke keer wanneer ’n kleim op nog ’n onderwyssege afgepen is.
Dit was immers die jaarlikse drama waarin die minister van basiese onderwys op die verhoog verskyn om die uitslae van die gr. 12’s se eksamen vir die nasionale senior sertifikaat (NSS) aan te kondig.
Die spanning was hoog en die hoofrolspeler het geweet dat om bloot die towergetal bekend te maak die geleentheid sou bederf.
Só is die gehoor op ’n onnodige toer van “regeringsingrypings” in van assessering tot die kurrikulum geneem, met die blote doelwit om saam met die instemmende gehoor na ’n klimaks te bou.
Toe, in ’n beweging wat Fifa se Sepp Blatter trots sou gemaak het, het die adjunkminister met ’n reuse-koevert op die verhoog gespring en, terwyl hy langs sy baas gestaan het, stadig ’n groot kaart te voorskyn gehaal.
Dié keer was die aankondiging nie of Spanje of Suid-Afrika gasheer van die Wêreldbeker-toernooi is nie; dit was ’n syfer: 70,2%, die nasionale slaagsyfer vir die 2011-NSS-eksamen.
Die gehoor het rasend geword en, asof in reaksie op ’n Pawlofiaanse teken, het tientalle ingebedde joernaliste met flitsende kameras in die rigting van die verhoog gespring om die wondergetal vas te vang.
Vanselfsprekend was niks daarvan onverwags nie.
Vir die eerste keer het amptenare inligting vooraf laat uitlek dat die wondergetal die 70%-grens sou oorskry aangesien die 2010-slaagsyfer sowat 68% was.
Ons het selfs vooraf geweet dat die wiskundepersentasie sou daal.
Maar wat die res van die politieke skouspel betref, het een ding ooreengekom met elke matriekuitslae-aankondiging sedert demokratisering: die gepoetste prentjie was optimisties en positief.
Die drama was nog lank nie verby nie.
Die volgende bedryf in die politieke teater was om die topstudente van oor die land heen uit te stal.
Tot talle se verrassing was al die topstudente swart seuns. Dit was sonder presedent. Die enigste wit student wat bo uitgekom het, was ’n blinde meisie met “spesiale behoeftes”.
Watter soort choreografie kon sorg vir so ’n skouspelagtige uitkoms in ’n gemeenskap waarin rasse nie gelyk is nie?
Die verhoogassistente het die briljante besluit geneem om die topstudent in elke kwintiel te gebruik, die maatstaf van armoede wat gebruik word om gemeenskappe te klassifiseer waarin ’n skool geleë is.
In die topkwintiel, waar gegoede en dus voormalige wit skole is, is die topstudent ’n swart leerling wat 100% in wiskunde en fisiese wetenskap behaal het.
Wat ’n vertoning.
Die verskil tussen werklike teater en politieke teater is natuurlik dat jy weet eersgenoemde is versin.
Die eerste misleiding het te doen met die irriterende probleem van syfers.
In die jaar 2000 het 1 035 192 leerlinge in gr. 1 begin, maar net 496 090 het opgedaag om die eindeksamen van die gr. 12-klas in 2011 te skryf.
Met ander woorde 539 102 studente het uit die stelsel verdwyn.
Wat die departement van basiese onderwys nie vir ons wil sê nie, is presies waarheen meer as ’n halfmiljoen leerlinge verdwyn het in hierdie uiters ondoeltreffende en ongelyke skoolstelsel.
Selfs as sterftes, herhalings, die ouderdomsaanpassing van studiegroepe en uitwaartse migrasie verreken word en (natuurlik verkeerdelik) aangeneem word dat geen nuwe leerlinge die stelsel in die tydperk van 12 jaar betree het nie, is die verlies van 52,08% van die leerlinge wat in gr. 1 begin het eenvoudig skandalig.
Die departement kan duidelik nie hierdie vrae beantwoord nie, behalwe deur lagwekkende abstraksies soos die loslating van politieke winderigheid deur sy direkteur-generaal: “Die klas van 2011 was kleiner as die klas van 2010, wat toon dat dit ’n stelsel is wat na balans soek.”
Dit is nie nuut nie, want die tekens is al ’n geruime tyd daar, met ’n geleidelike afname in die getal leerlinge wat vir die gr. 12-eksamen ingeskryf het (588 643 in 2008, 580 937 in 2009, 559 166 in 2010 en 511 038 in 2011).
In net een jaar het 41 443 minder leerlinge die 2011-matriekeksamen afgelê as in 2010.
Dan is daar die verskil tussen die getal leerlinge wat vir gr. 12 ingeskryf het (511 038) en wat uiteindelik die eksamen afgelê het (496 090), om 2011-syfers te gebruik.
Nare mikropolitiek is hier ter sprake.
Dit is algemene kennis dat skole, wat onder reuse- politieke druk is om hul slaagsyfer te verbeter, twee dinge doen: Hulle hou leerlinge terug in die vroeër grade, veral gr. 11; en hulle laat leerlinge afgradeer na makliker vakke, soos wiskundige geleerdheid eerder as suiwer wiskunde.
Met ander woorde, hoe groter die kans dat gr. 12-leerlinge slaag, hoe beter lyk die skool, hoe beter lyk die provinsie en hoe beter lyk die provinsie se gemiddeldes.
Die oorsprong van hierdie druk is mees intens gevoel toe Kader Asmal minister van onderwys was en toe die nasionale slaagsyfers opgeskiet het van die 40’s tot die 70’s, maar daardie druk is steeds daar en veral baie skoolhoofde neem die soort besluite wat kinders terughou.
Die departement erken ’n praktyk wat hy “uitdunning” noem.
Die tweede misleiding het met die betekenis van die slaagsyfer te doen.
Die slaagvereistes in Suid-Afrika is so laag dat leerlinge werklik ’n spesiale poging moet aanwend om te druip.
Onthou dat leerlinge net 40% in ’n eerste taal en twee ander vakke, asook 30% in drie vakke, moet behaal om die seniorsertifikaat-eksamen te slaag. Watter selfrespekterende nasie aanvaar so ’n vlak van middelmatigheid?
Kom ons kyk na die punte van ’n leerling wat deur die provinsiale onderwysdepartement ingelig is dat hy goed genoeg geslaag het om universiteit toe te gaan.
Al sy punte was in die 50’s en vir die belangrike vakke, wiskunde en fisiese wetenskap, het hy onderskeidelik 32% en 24% behaal.
In hierdie land is dié jong man op pad universiteit toe.
Geen ernstige universiteit sal hierdie student in sy eerstejaarklas aanvaar nie en as dit wel gebeur, sal hy ongetwyfeld misluk – teen ’n reuse-koste.
Die derde misleiding hou verband met die desperate poging om rassegelykheid in prestasie te demonstreer, derhalwe die kwintiel-metodologie.
Wat dié verneukery uiteraard verberg, is dat die 100 topleerlinge in elke provinsie oorweldigend wit en middelklas bly, soos die glimlaggende gesigte in streekkoerante bevestig het.
Dit het natuurlik niks te doen met die feit dat hulle wit is nie, maar alles met die onaangename werklikheid dat ons politieke meesters daarin misluk het om die erflating van onderwys-ongelykheid doeltreffend te pak.
Daar is trouens getuienis dat vordering na onderwysgelykheid gestagneer het of selfs in trurat is.
Die vierde misleiding is die aanspraak dat selfs die mees beskeie verbetering in slaagsyfers die gevolg is van wat die regering doen.
Dit is heeltemal misleidend.
Ek kan ’n lys van talle mense, maatskappye, nie-regeringsorganisasies en gemeenskapsgebaseerde groepe maak wat die inisiatiewe vir verandering in skole baie doeltreffend dryf.
Dit is meestal afgetrede skoolhoofde en onderwysers, klein kerkgebaseerde inisiatiewe of liefdadigheidsorganisasies wat werk om te verseker dat hoërskoolleerlinge gemotiveer word om beter te vaar en met noodsaaklike vaardighede toegerus word.
G’n erkenning is aan enige van hierdie akteurs gegee nie in die teaterstuk wat op die planke gebring is.
Niks demonstreer die sistemiese aard van die skolekrisis beter as die wiskunde-uitslae nie.
Terwyl ’n betekenislose 99,6% van leerlinge lewensoriëntering deurgekom het, bied wiskunde ’n onsentimentele blik op of ’n leerling logies en sistematies kan dink, redeneer, oordeel, bereken, vergelyk, bepeins en opsom.
Meer as enige ander onderwerp verg dit konsekwentheid, die kennis van syfers wat sedert gr. 1 en vroeër geleer is.
Wiskunde is, na my oordeel, die goudstandaard vir die assessering van die ware betekenis van die NSS-uitslae.
Wat vertel die wiskundeslaagsyfer ons?
Dat 46,3% wiskunde geslaag het. Erg genoeg? Kyk nog ’n slag. Die 104 033 studente wat geslaag het, sluit almal met ’n punt van net 30% en hoër in.
’n Veel beter maatstaf sou gewees het die getal wat met 50% geslaag het.
Met dié maatstaf het net 41 586, of 18,51%, wiskunde deurgekom, wat 8,38% is van al die leerlinge wat die NSS-eksamen geskryf het, en die getal leerlinge wat in 2011 wiskunde geskryf het, is 40 000 minder as in 2010.
Prof. Jansen is rektor van die Universiteit van die Vrystaat.
Die artikel het vroeër in die Saturday Star verskyn.