Oor die kruispad na ’n nuwe lewe
2012-01-25 21:50
Yanga Mcunukelwa het met deursettingsvermoë die pad van die plakkerskamp Kruispad na die Universiteit van Stellenbosch gestap. Michael le Cordeur deel sy verhaal.
Die Universiteit van Stellenbosch moet ’n plek wees waar die dogter van die boer en die seun van die plaasarbeider saam-saam kan studeer, het die rektor, prof. Russel Botman, by sy inhuldiging gesê.
Hy sal eersdaags daardie stelling moet aanpas om ook ’n seun van die plakkerskamp O.R. Tambo in te sluit.
In my onderwysloopbaan het ek al baie suksesverhale gehoor, maar nie een so aangrypend soos Yanga Mcunukelwa s’n nie.
Dit is die verhaal van ’n 21-jarige man wat pas matriek geslaag het (sien ek ’n paar oë rek?) danksy die bemoeienis van twee onderwysers: een op laerskool en een op hoërskool.
’n Kind wat weens sy velkleur dikwels verneder is. Maar ek loop die verhaal vooruit.
Laat hom self vertel:
“My naam is Yanga Mcunukelwa. Ek is Xhosasprekend en gebore in Kruispad, ’n plakkerskamp naby Kaapstad. My ma het my verlaat toe ek sewe was, en ek het nooit my pa geken nie.” (Ter wille van die artikel se konteks moet ek sê dat sy gelaat baie lig is.)
“Nadat my ma weg is, het my ouma my gevat en ons het op ’n plaas in die Noorder-Paarl gaan bly. So het ek by my ouma en my oupa opgegroei. Ons het voortdurend rondgetrek agter blyplek aan, van plaas tot plaas, en uiteindelik geëindig by die plakkerskamp O.R. Tambo in Mbekweni, ’n township tussen Paarl en Wellington. Ek was al tien jaar oud en kon Xhosa, Afrikaans en Engels praat omdat ons tussen verskillende gemeenskappe gebly het.
“Ná gr. 1 was ek baie jare in geen skool nie. Ek was nooit swart genoeg vir die skole in die township nie. Ek is gespot oor my velkleur. Dikwels is ek met klippe gegooi. Ek was nooit welkom tussen my eie mense nie.”
Maar dit sou uiteindelik verander:
“Ek was 14 jaar oud toe my ouma my gr. 2 toe stuur. Ek is na die Primêre Skool Newton in Wellington, ’n Afrikaanse skool. Hier het my lewe drasties verander, want die onderwysers het my baie ondersteun.”
(Dit was veral me. Linda Fortuin wat Yanga se potensiaal raakgesien het. Omdat hy so slim was, het hy twee grade in een jaar afgehandel. Hy het so goed gevorder dat hy op 17 reg was om hoërskool toe te gaan. Hier het sy paadjie dié van sy Afrikaans-onderwyser, my vrou, Sonia, gekruis.)
“Ek is na die Hoërskool Bergrivier, ook ’n Afrikaanse skool. Dit is ’n handelskool met vakke waarin ek baie belangstel. Dit was altyd my droom om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word. Dit was my kans om verder te leer sodat ek ’n beter lewe kan hê om uit die township te kom.
“Ek moes saans met ’n kersie studeer omdat ons nie elektrisiteit gehad het nie. Smiddae ná skool het ek my na die skool se rekenaarsentrum gehaas om my take te doen.
“In gr. 9 het ek begin sokker speel. ’n Jaar later was ek die kaptein, ’n posisie wat ek tot in matriek beklee het.
“In gr. 10 het my ma, wat ek laas gesien het toe ek sewe was, uit die Oos-Kaap teruggekeer om by ons te kom bly; met twee kinders.
“Van gr. 10 tot 12 was ek lid van die verteenwoordigende raad van leerders, en in matriek is ek as hoofseun gekies. Ek het in my gemeenskap betrokke geraak en is as ons kerk se jeugleier gekies.
“Die harde werk het vrugte gedra ; ek was vier jaar ná mekaar my skool se toppresteerder. Vir my was dit ’n seën van die Here. Nou wag ek net vir die matriekuitslae sodat ek my droom kan uitleef ...”
Voordat ons by die uitslae kom, eers ’n paar mooi oomblikke in Yanga se matriekjaar:
Yanga woon steeds by sy grootouers in ’n plakkershut wat al drie keer afgebrand het. Maar soos met sy lewe, het hy elke keer opgestaan en die hut herbou.
Toe hy moes aansoek doen by ’n universiteit, is hy wonderlik ondersteun deur nog ’n onderwyser, mnr. Victor Kronenberg. Hy het besluit om sy lewenslange droom om rekenmeester word te volg na te streef.
Toe is dit matriekafskeid. Hy het besluit hy wil in ons huis aantrek. Dus moes Sonia vir hom ’n “tafel” gee. Dis wanneer die ouers ’n paar vriende nooi vir ’n geselligheid voordat die paartjie vertrek.
En toe begin die eksamen in alle erns. Omdat hul plakkershut nie elektrisiteit het nie, is besluit dat hy na die koshuis sal trek sodat hy langer ure kon studeer. Die koshuis is egter naweke gesluit. Gevolglik het Sonia naweke vir hom etes berei.
Uiteindelik was die eksamen verby, maar tyd en geld vir vakansie was daar nie. Terwyl ander matrikulante Margate toe is, wou Yanga bos toe gaan (soos die inisiasie-prosedure in die volksmond bekend staan). Dis iets wat hy wou doen om almal wat hom gespot het, te wys hy sal sy man staan.
Ons het nog geslaap toe Sonia se selfoon op Tweede Kersdag lui. Dit was Yanga. Terug uit die bos, en gesond. ’n Beter Kersgeskenk kon ons nie kry nie. Ek het my vrou lanklaas so emosioneel gesien. Hy het geld benodig vir die terugrit, want al sy goed is gesteel.
Op Tweede Nuwejaar klop hy aan ons voordeur. Hy is ooglopend maer.
“Ons het nie veel gehad om te eet in die bos nie,” verduidelik hy toe Sonia se waaksame oog sy skraal lyf bekyk.
Op 5 Januarie word die matriekuitslae bekend gemaak. Yanga is die enigste een van sy skool wat met ’n gemiddelde A-simbool slaag. Hy verwerf výf onderskeidings: wiskunde, ekonomie, rekeningkunde, besigheidstudie en lewensoriëntering. Die uitsonderings is Afrikaans (sy tweede taal) en Engels (sy derde taal) wat hy met 72% en 72% onderskeidelik slaag. Wiskunde slaag hy met 92%!
Twee dae later kom die brief van die universiteit: Yanga ontvang die prestigeryke Thuthuka-beurs om aan die US te studeer om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word. Die beurs sluit klas- en koshuisgeld in.
Sy beker loop oor. ’n Droom is bewaarheid. Al kort hy nog so baie – ook in die O.R. Tambo-township is sy klere gesteel terwyl hy weg was – is ek en Sonia net so opgewonde soos toe ons eie dogter en seun universiteit toe is.
Yanga is nie deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement vereer nie, maar met deursettingsvermoë kon hy die kruispad oorsteek. Tog het hy geen illusie dat die eintlike harde werk nou eers begin nie.
Nou is hy op pad na die koshuis Dagbreek, waar – so glo ons – ’n nuwe dag aangebreek het vir die townshipklong van die O.R. Tambo-plakkerskamp.
Dr. Le Cordeur is die B.Ed.-programbestuurder in die fakulteit opvoedkunde aan die US.