Piet se laaste dossier

2010-07-02 22:24

Baasspeurder Piet Byleveld Foto: Herman Verwey

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Soos ’n storieboekkarakter kom sit hy in die halfdonker; effens geboë, en steek ’n sigaret aan; laat die rook saam met sy stories grys en wolkerig die kamer vol draai.

Baasspeurder Piet Byleveld. Joernalis se droom, reeksmoordenaar se nagmerrie.

En nou: pensioentrekker. “Ek haat daai woord. Jis, dit klink so verskriklik oud. Ek kies eerder werkloos. Sê eerder dít as pensioentrekker.”

Gister (Woensdag) was brig. Byleveld (60) se laaste dag as polisieman. Ná 38 jaar in die mag het hy uitgetree.

Was maar ’n normale dag, sê hy. Hoofkantoor toe, paar afsprake gehad “en die volgende oomblik het ek ’n oproep van die nasionale kommissaris gekry.

Ek moes hom dringend gaan sien. Hy’t my bedank vir al my werk, my uitstekende werk wat ek gedoen het; my sekere dinge gesê wat ek nie wil openbaar nie”.

Daarna het hy oor die foon gepraat met die lede van sy span: die serial offenders unit, sê hy in Engels.

“Toe sê ek net byt vas, daar’s ’n mooi toekoms voor. Hulle’t min gesê.”

En dis dit. Geen emosionele laaste oomblikke nie; geen trane wat opwel in geharde polisiemanne se oë nie.

Hy bekyk my van onder sy swaar ooglede. Kwaai. Sê in sy rookrasperstem: “Nee, nee, ag nee, dit was nie hartseer nie. Ons is nie sissies nie.

Ek soek nie huilende mense om my nie. Hierdie mense wat so huil, jis ... Soos as jy om ’n lyk staan en jy begin huil. Doesn’t work that way. Nie in my boek nie; nie in my kategorie nie.”

Hy grinnik heserig en steek nog ’n sigaret aan.

Vanoggend, toe hy sy oë oopmaak, was dit sy eerste gedagte: Hy’s nie meer ’n polisieman nie.

“Daar was onsekerheid in my. So half of jy nie weet wie jy is nie. ’Tuurlik. Jislaaik. Ek’t gevoel of ek so ’n bewerigheid in my kry.”

Toe staan hy maar op en trek ’n pak klere aan. “Wat anders? Ek trek elke dag ’n pak klere aan. Van 1977 af.” Hy suig aan sy sigaret, frons. “Dit gaan ’n ruk vat.”

Daar is twee sake wat by hom spook; hom in die nag teister: “Insp. Rapeta, wat vermoor is in GaRankuwa. En dan Kievits Kroon.

Waar die paartjie getrou het en toe word die man daar in die hotelkamer doodgeskiet. Kyk, as jy ’n speurder is, bly sulke sake maar pal in jou gedagtes. En dit sal nie ophou nie.”

Dan is daar natuurlik die Leigh Matthews-saak, wat die hele land aangegryp het.

Donovan Moodley, haar ontvoerder en moordenaar, het hy vasgetrek.

Dié sit lewenslank in die tronk, maar Byleveld wéét iemand het Moodley gehelp en dit pla hom dat dit nie opgelos is nie.

“Ek en Elize bespreek daai ding oor nagte en nagte.”

Elize is sy meisie, soos hy haar noem. Blond en aantreklik het die 51-jarige vrou nou-nou, ook in ’n strepiespak, sy huis binnege-klik-klak.

Sy sit nou langs hom, rook saam ’n sigaret. “Jy moet my help om die regte woorde te kry,” sê hy aan haar. “Dis reg, my engel,” sê sy laggend.

In ’n stadium gaan haal hy vir hom ’n Amstel Lager, tssjj dit oop en sluk hard.

Maar ja, hervat hy, blaas die rook met ’n lang asem uit; daardie is sy enigste onopgeloste sake wat hy aan ander speurders moes oorhandig.

Daai drie en dan nog een oor bendegeweld waaroor hy eerder niks wil sê nie.

Maar duisende dossiere het hy, Piet Byl, oopgemaak en toegemaak. Ondersoek, gearresteer, voor die hof gebring, skuldig bevind, gevonnis. Case closed.

Elke reeksmoordenaar wat hy ondersoek het, het hy vasgetrek. “Ons het nou getel. Agt van hulle. Maar ek dink dis nege. Een het ek vergeet. Hy sal my nog byval.”

Cedric Maake is die een wat uitstaan. 1997.

“Ek dink hy’t iets soos 2?200 jaar tronkstraf gekry in totaal.”

Maar elke moord wat hy opgelos het, was ’n hoogtepunt. “Eerlikwaar.” En die howe. “Mal oor die hof. Daai getuiebank. ’n Mens se brein word getoets.

Baie regters het my al geprys vir my voorkoms in die getuiebank. Vir ’n feit.

“Getuienis lewer is my alfa en omega. Om die verdediging ore aan te sit. Jis, ek laaik dit. Die verspotte advokate en prokureurs.

Want hulle’t daai grade. Ek het geen grade nie, maar ek sit vir hulle ore aan. Ek’s nie windgat as ek dit sê nie. Dis feite, ek praat oor feite.”

Daai feite hang geraam teen die muur langs die trap. Sertifikate, toekennings, selfs ’n brief wat hom amptelik aanbeveel as nasionale polisiekommissaris.

Petrus Erasmus Johannes van Staden Byleveld (“weet jy hoe trots is ek op daai name?”), oor 38 jaar bevorder van konstabel tot sersant, adjudant-offisier, luitenant, kaptein, superintendent en toe direk tot direkteur.

Nou, met die nuwe range, brigadier. “Brigadier is ’n fantastiese naam.”

Maar eintlik is hy net speurder, “that’s it”. ’n Speurder wat niks miskyk nie, ongeag hoe grusaam.

“Kyk, ek was op baie lelike tonele. Baie doodsberigte oorgedra.”

Een wat hom nou nog bybly was in 1979, Wendywood, Johannesburg.

“Sewejarige meisie keelafgesny. Tuinjong het haar doodgemaak vir haar fiets.”

Toe Byleveld die tuinwerker wou arresteer, het hy ’n wapen uitgepluk en Byleveld moes hom doodskiet uit selfverdediging.

“Ons het die fiets ook teruggekry,” sê hy en lag sinies.

Spook sulke tonele by hom? “Vir ’n rukkie. Net vir ’n rukkie.” ’n Stilte. “Natuurlik. ’n Onskuldige kind.”

Maar geen toneel het hom ooit laat huil nie. “Nee jis, blikskottel. Dit sal nooit gebeur nie. Hel. Dan staan jy en huil en die traandruppels beskadig die toneel. Nee hel.” Sy hele lyf ril. “Jy vra snaakse vrae.”

Ná die toneel kom die harde werk; die maande en maande se soek, naspeur, navors.

“Ek het my mal gewerk. En die reeksmoordenaars bly lyke gooi. Hulle bly moor, hulle stop nie. Dan lê ek in die nag wakker in die bed, dan spring ek op, waddehel, dan gaan ry ek in die omgewing rond waar hulle moor. Probeer iets sien, iets kry.”

In sy kantoor by die Brixton-polisiekantoor, destyds se Moord en Roof, was dit altyd ’n geharwar van dossiere, dokumente, mense; met Piet Byl agter die volgepakte lessenaar, fronsend, geboë, aan’t ontrafel, oplos, soms met die hand so oor die seunskuif of die rooigewerkte oë.

Nou’s dit leeg daar. Net die skoon lessenaar met drie stoele.

“Ek’t nog nie gedink aan daai leë lessenaar nie. Kan jy glo?”

Vandag was gelukkig besig. Eerste dag van aftrede, maar klaar weer kantoor toe. “Blikskottel,” sê hy en glimlag onderlangs.

“Môre ... ek weet nie. Al koop ek net kos vir die gaste wat die naweek kom oorbly. Iets gaan ek doen.”

Want stilsit kan hy nie. “Ek raak verskriklik senuweeagtig.”

En private speurder gaan hy nie word nie.

“Nee, nee, nee, wil nie ander mans se vrouens gaan oppas of ander vrouens se mans nie. Kyk wie loop rond, wie sluip in die nag. Nee, jissum.”

Natuurlik sal hy nog help, konsulteer, adviseer, maar hy’t nie ’n keuse nie, hy moet nou kalmeer.

“Van gisteraand ’n minuut oor 12 is ek ’n haas (polisielede se benaming vir burgerlikes).”

En hierdie haas gaan nou oorsee. “Vir die eerste keer in my lewe.

‘Genuine’.” Engeland toe saam met Elize. “Ek sien baie uit, hoor. Baie, baie.”

En wie weet? Wanneer hy terugkom, dra hy dalk nie meer elke dag ’n pak nie, wonder hy dalk nie meer wie’t Moodley gehelp nie.

“Nou’s ek net ’n gewone mens. Nou’s ek net Piet.”

Hy druk sy sigaret dood, sluk die laaste van sy bier.

En toe ons ry, waai hy skrams, glimlag onderlangs en stap effens geboë weg met sy baadjie wat so agter in die middel opwip.

So op die Piet Byl-manier.


 

Binne Beeld

Weather
Lottery
Cpt: 21-31°C Sunny. Warm. Pta: 17-30°C More sun than clouds. Warm.
Jhb: 15-28°C Afternoon clouds. Mild. Bloem: 18-27°C Scattered showers. More clouds than sun. Pleasantly warm.
Dbn: 20-29°C Tstorms late. Mostly cloudy. Warm. PE: 19-22°C Scattered showers. Morning clouds. Cool.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

AUDI

A4 1.8T FSi Attraction MY09
2008
R 209,900.00

TOYOTA

RunX 180 RX 5-dr MY04
2005
R 125,900.00

TOYOTA

Fortuner 4.0 4x4 AT
2008
R 329,990.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chill out in Knysna

Spend 2 nights at the Turbine Boutique Hotel & Spa in Knysna's gorgeous Thesen Island for R3058 per person sharing. Includes return flights, taxes, car hire and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii eReader nou beskikbaar

Koop die gobii eReader en gobii-omhulsel vir iemand spesiaal vir Valentynsdag. Gratis aflewering binne 24-uur. Koop dit nou.

Koop Friends with Benefits en wen

Koop die DVD of Blu-ray en staan ’n kans om 1 van 5 "Love You"-blikke met koekies te wen. Die wedstryd sluit 9 Februarie. Koop dit nou.

Koop 4 romans vir R79,96

Koop enige 4 romantiese verhale vir slegs R79,96 terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Geskenke vir hom

Koop ’n klassieke skuimskeerborsel vir R279 vir die man in jou lewe en kry 15% afslag op ’n uitgesoekte reeks naskeermiddels. Koop dit nou.

Dit is al weer ’n fleurige Valentynsdag!

Daar is fleurige spesiale aanbiedinge by kalahari.com met die gobii eReader, Friends with Benefits, parfuums en rose wat nou beskikbaar is. Koop dit nou.

2 DVDs vir slegs R129

Winskopie van die week

Sit snoesig teenaan jou geliefdes hierdie Valentynsdag met ons aanbod van 2 DVD's vir slegs R129. Aanbod geldig solank vooraad hou. Koop dit nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

Please Upgrade
Your Version of Flash
Get Adobe Flash player
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.