Skuld oor witlikheid werk rassisme in hand
2011-07-19 23:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Dave Steward en Jacques du Preez
Wat doen filosofie-dosente in Grahamstad in die lang maande tussen feeste?
In die geval van me. Samantha Vice, ’n senior lektor in die departement filosofie aan die Rhodes-universiteit, worstel hulle met skuldgevoel, skaamte en berou omdat hulle wit is en omdat hulle “witlike” voorregte geniet.
Vice het haar menings in dié verband neergepen in ’n artikel, “How Do I Live in This Strange Place?”
wat onlangs in die Journal for Social Philosophy verskyn het.
Vice spring weg met die punt dat wit Suid-Afrikaners, of hulle nou regstreeks by apartheid betrek kan word of nie, verteer moet word deur skuldgevoelens en skaamte vanweë hul voortgesette en opsigtelike “witlike voorregte”.
“In this country it is difficult to avoid thinking of oneself as guilty just by being white, irrespective of directly racist actions, and irrespective of whether one was responsible for acquiring whitely habits.
“One is – even if unavoidably – a continuing product of white privilege and benefiting from it, implicated in and enacting injustice in many subtle ways; it seems to me that feelings of guilt are appropriate.”
Sy vra wat dit sal kos vir wit mense om goeie mense te wees en stel dit dat wit mense nie op onproblematiese wyse hulself kan sien inpas in of bydra tot die post-apartheid narratief nie.
Sy argumenteer dat skuldgevoel, berou en skaamte geskikte emosies is vir wit mense en dat om moreel suksesvol te kan wees, hulle nederige en stille beheersing moet toepas. Volgens Vice moet wit mense – uit erkenning van hul skadelike teenwoordigheid – “try, in a significantly different way to the normal workings of whiteliness, to make themselves invisible and unheard, concentrating rather on those damaged selves ...
“One would live as quietly and decently as possible, refraining from airing one’s view on the political situation in the public realm, realizing that it is not one’s place to offer diagnoses and analyses, that blacks must be left to remake the country in their own way.
“Whites have too long had influence and a public voice; now they should in humility step back from expressing their thoughts or managing others.”
Moet ’n mens regtig bekommerd wees oor Vice se beangste en introspektiewe mymeringe?
Ongelukkig moet ’n mens.
Selfs Max du Preez, wat nie juis bekend is as ’n beskermer van “witlikheid” nie, het dit nodig gevind om daarop te reageer.
Die probleem is dat idees – selfs vanuit die verste hoeke van die provinsiale akademiese wêreld – gevolge kan inhou. Vice se menings moet om die volgende redes aangevat word:
- Eerstens omdat dit ongrondwetlik is. Die hele idee van ons nuwe demokrasie is dat ons gelyk is en dat ons almal saakmaak. Daar is nie meer plek vir die gedagte dat sommige Suid-Afrikaners moreel of op enige ander wyse oppermagtig is bó enige ander Suid-Afrikaners nie.
Alle Suid-Afrikaners het die reg en inderdaad ’n plig om deel te neem aan openbare sake, om hul menings uit te druk en die regte te geniet wat in die Grondwet verskans word.
Die gedagte dat enige deel van ons samelewing bloot oor hul ras van die openbare debat moet onttrek, is skokkend.
Dit herinner aan Perikles se vermaning: “We do not say that a man who takes no interest in politics is a man who minds his own business; we say that he has no business here at all.”
- Tweedens is Vice se menings, en moontlik onopsetlik, rassisties. Die wese van rassisme is die nadelige behandeling van of die toeskryf van negatiewe eienskappe aan mense gegrond op hul ras.
Vice tref geen onderskeid tussen die verskillende klasse en kategorieë wit Suid-Afrikaners nie.
Dra die 600 000 wit Afrikaners wat na beriggewing in armoede verval het, steeds “witlike” voorregte?
Is die wit mense wat vir die ANC geveg het, net so skuldig as diegene wat die AWB ondersteun het?
Was wittes soos Bram Fischer, wat die totalitêre dogma van die SAKP bevorder het, moreel oppermagtig bó ware demokrate soos Helen Suzman? Natuurlik was hulle nie.
In die woorde van Martin Luther King jr.: Mense moet beoordeel word volgens die inhoud van hul karakter, nie volgens hul velkleur nie.
- Derdens is Vice eenvoudig verkeerd oor die idee van wit “voorregte”. ’n Groot aantal wit mense kan glad nie meer as “bevoorreg” beskryf word nie. Die meerderheid het hul welvaart bekom op dieselfde wyse soos ander in die res van die wêreld: deur harde werk en ondernemingsgees. Hulle het hul belasting betaal, hul lewe so goed as wat hulle kon gelei en het ’n ongelyke bydrae tot die ekonomie en welstand van al die mense in die land gemaak.
Daar is niks fout met die strewe na welvaart nie.
Die morele filosoof Adam Smith het gesê: “Every individual intends his own gain, and he is in this, as in many other cases, led by an invisible hand to promote an end which was no part of his intention?.?.?.?
“By pursuing his own interest he frequently promotes that of the society more effectually than when he really intends to promote it.”
Ironies genoeg doen die bevoorregte, en moontlik kras, wit nyweraar wat 500 werkers in diens het, meer goed as al die filosowe in die land saam – of meer as die ander wat voorhou dat hulle in “die samelewing se belang” optree.
- Laastens moet ons Vice se menings aanvat omdat dit gevaarlik is.
Dit sal maklik gesnap word deur ’n nuwe geslag swart rassiste wat dit sal gebruik om hul toenemend aggressiewe veldtog van anti-wit stigmatisering en uitsluiting te regverdig.
Die konsep van kollektiewe rasgegronde skuldgevoel is nie ver verwyderd van ontmensliking nie. In onstabiele multikulturele samelewings soos ons s’n kan sulke houdings ons na baie donker plekke terugneem.
Ons Suid-Afrikaners kom van ’n baie donker plek. Ons deugsaamheid as mense – insluitende die oorgrote meerderheid van ons gemeenskappe – is dat ons beweeg het uit ons diep verdeelde verlede en ’n ooreenkoms bereik het oor ’n nuwe samelewing wat op die voorskrifte van nie-rassigheid, gelykheid, menswaardigheid en fundamentele regte vir almal gegrond is.
Ons het nog ’n ver pad om te gaan totdat ons dié doelwitte bereik.
Die nasionale konsensus wat in ons Grondwet verskans is, bied egter ’n uitstekende morele kompas om ons almal op die regte pad te hou.
Liewe Samantha, hou op om skuldig te voel; hou op om jouself filosofies te folter; raak as ’n gelyke burger betrokke by die belangrike kwessies van die dag; werk aan die visie van nie-rassigheid, menswaardigheid, gelykheid en geregtigheid wat in ons Grondwet verwoord is.
As jy dit doen, sal jy vind dit is soveel makliker om in hierdie wonderlike en uitdagende plek te bly.
- Steward en Du Preez is onderskeidelik die uitvoerende direkteur en operasionele beampte van die FW de Klerk-stigting.