Slim vang toe sy baas
2012-02-02 21:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Theo Neethling is skepties oor die bydrae wat oudpres. Thabo Mbeki nog tot demokrasie in Suid-Afrika kan lewer.
In By (21 Januarie) verwys prof. Willie Esterhuyse onder die opskrif “Is (Thabo) Mbeki dan ‘terug’ – en hoe”, tereg na oudpres. Mbeki as ’n intellektuele rolmodel in veral die swart middelklas en intelligentsia.
Iemand waarsonder die ANC “intellektueel op die afdraande pad is”.
Esterhuyse maak ook melding daarvan dat Mbeki deesdae ’n rol speel as ’n “openbare meningsvormende intellektueel en leier in diens van ’n demokratiese bestel” – ’n intellektueel wat “kan bydra om ons swaar verworwe demokrasie te verdiep en te verbreed”.
Esterhuyse beoordeel dit natuurlik teen die agtergrond dat pres. Jacob Zuma nie ’n indrukwekkende en visioenêre staatshoof is nie en van sy onlangse toesprake maar taamlik vervelig was.
Sy gebreke as staatshoof word trouens algaande duideliker.
Of Mbeki egter beter gevaar het as Suid-Afrikaanse staatshoof is ’n vraag wat nog in die lug hang, maar skielik aktueel is in ag genome sy onlangse openbare optredes.
Ons kan met stelligheid sê dat die laaste woord oor Mbeki as staatshoof en sy bydrae tot Suid-Afrika se ontluikende demokrasie nog nie gespreek is nie. Op dié punt sal historici nog moet help uitsluitsel gee.
Anders as Esterhuyse het die skrywer Jonny Steinberg ’n minder gunstige indruk van Mbeki se presidentskapstermyne.
Die opskrif van sy rubriek in die Sunday Times (29 Januarie), “He (Mbeki) may gain by comparison with Zuma, but his presidency damaged South Africa”, is voorwaar veelseggend.
Asmal-perspektief
’n Interessante en nogal kritiese bydrae oor Mbeki as staatshoof kom uit die memoires van wyle oudminister Kader Asmal, soos gedokumenteer in hoofstuk 8 van sy boek, Politics in My Blood.
Wat Asmal se bydrae betekenisvol maak, is dat daar waarskynlik min ander oudministers is wat hom kan of sal nadoen wat betref ’n kritiese besinning oor die politieke leierskap en interne dinamika van die Mbeki-kabinet.
Die volgende uit die Asmal-perspektief is vir my veral betekenisvol:
* Mbeki was afsydig teenoor selfs senior ministers in sy kabinet. Hy was nooit ’n omgee-mens wat in hul wel en wee belang gestel het nie.
Hy het byvoorbeeld nooit uitgevra na Asmal se stryd teen kanker en sy behandeling nie.
Asmal sê hy het Mbeki net twee keer in Tuynhuys besoek, al was Asmal die politieke hoof van die kritiek belangrike onderwysportefeulje.?
* Mbeki was sterk ingestel op gedetailleerde voorleggings, maar het hom laat ompraat deur MIV/vigs-afvalliges en ander wat hom daarvan oortuig het dat die wetenskap in gebreke is oor die oorsake van MIV/vigs en dat wanvoeding en antiretrovirale middels vigs veroorsaak.
In dié konteks het Mbeki Virodene aangehang en bevorder om vigs om te keer, ten diepste omdat hy ideologies gedryf is om die MIV/vigsprobleem deur ’n Afrika-remedie te beëindig.
In die proses is aanvaarde wetenskaplike prosesse en konvensies by die deur uitgesmyt, wat Asmal teen die bors gestuit het.
Boonop het Mbeki sy ministers verplig om rooi strikkies op hul lapelle te dra en diegene wat mettertyd nagelaat het om dit te doen, het hy op ’n kabinetsvergadering skoolmeesteragtig een vir een laat verduidelik waarom hulle nie hul strikkies dra nie.
Twee jaar later het Mbeki sy eie strikkie ook nie meer op sy lapel gedra nie.
* Wat Mbeki as demokraat betref, bevestig Asmal vele berigte en bespiegeling wat daar in die laaste jare in die media was oor Mbeki se toenemend ondemokratiese of outokratiese praktyke.
As staatshoof was Mbeki volgens Asmal doelbewus daarop uit om kritiese denke in die kabinet te ontmoedig en dit het hy gedoen deur die kabinet bloot te vergroot met die insluiting van adjunkministers (weliswaar sonder stemreg).
Deur dié vergroting het hy daarin geslaag om diskoers en veral kritiek in te perk omdat die vergaderings gewoon te lomp geraak het, terwyl al hoe meer magte in die kantoor van die president gevestig is.
As alles wat Asmal hieroor geskryf het, waar is, staan dit terloops reëlreg teenoor Mbeki se onlangse toespraak by die Universiteit van Stellenbosch se sakeskool, waar hy akademiese vryheid en “duisend denkskole” bepleit het.
Asmal vertel ook dat uiters belangrike dokumente oor staatsbestuur, soos oor die aanskaffing van wapentuig vir die SANW, weggehou is van kabinetslede en -besprekings.
Gevolglik kon die kabinet nooit werklik aandag daaraan gee nie en het probleme ontstaan oor subkontrakteurs en bewering oor korrupsie en selfverryking.
Selfs die belangrike en omstrede betrekkinge met Zimbabwe en pres. Robert Mugabe is nie op kabinetsvlak bespreek nie.
Min simpatie
Miskien vervaag die gedagtes dat Mbeki belangrike gebreke geopenbaar het en dat sy afsydigheid uiteindelik tot sy ondergang gelei het.
Esterhuyse meld dat Mbeki ’n “vernederende en myns insiens onbeskofte ervaring in Polokwane gehad het”.
Dit is inderdaad ’n akkurate beskrywing, maar nadat ek Asmal se weergawe gelees het, meen ek dat die gemiddelde minister in elk geval vervreemd geraak het van Mbeki en gevolglik maar min simpatie vir hom gehad het toe sy ondergang by Polokwane bewerkstellig is.
Indien hy sy pad saam met sy ministers gestap het, kon dit dalk anders verloop het.
Laastens is dit duidelik uit onlangs gepubliseerde akademiese werk dat Mbeki se buitelandse beleid sterk gegeur was met ’n anti-imperialistiese (lees anti-Westerse) ingesteldheid.
Die werk van dr. Laurie Nathan, ’n kenner van Suid-Afrikaanse buitelandse beleid, in die gesaghebbende joernaal African Affairs gee duidelike en onteenseglike blyke hiervan.
Trouens, Nathan se onlangse navorsing fokus spesifiek op hoe Mbeki die despotiese Soedanse pres. Omar el-Basjhir beskerm
het ondanks El-Basjhir se wandade en aandeel in growwe menseregteskendings.
En die geval van Soedan is maar ’n enkele voorbeeld van hoe despotiese leiers baat gevind het by die beskermende Mbeki.
Op ’n positiewer noot uit die Asmal-perspektief moet darem gemeld word dat Mbeki, soos min. Trevor Manuel en oudpres. FW de Klerk, ten minste daarvoor bekend was dat hy die kabinetsmemoranda en dokumente voor kabinetsvergaderings deeglik bestudeer het.
Van Zuma sê Asmal dat hy selde kabinetsmemoranda en -dokumente bestudeer het. Dit is voorwaar ’n stuk skokkende getuienis oor die huidige Suid-Afrikaanse staatshoof.
Ek verlang nie na Mbeki nie. Ek het waardering vir sy intellek, maar ek is nie juis opgewonde oor wat hy volgens Esterhuyse “kan bydra om ons swaar verworwe demokrasie te verdiep en te verbreed” nie.
Prof. Theo Neethling is hoof van die departement politieke studie en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat.