Spartelende lyf sonder kop, arms
2010-09-03 00:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Min twyfel bestaan dat Afrikaans in sportstadions, kroeë, kafees en sitkamers gaan oorleef. Maar wie gaan dit ernstig opneem as dit nie op intellektuele en professionele vlak presteer nie, vra Hermann Giliomee.
Die Afrikaanse Taalraad het verlede week ’n waardevolle funksie verrig deur voorraad op te neem van die stand van Afrikaans. By die beraad is “’n Studie van Afrikaans op universiteitsvlak” van die FW de Klerk-stigting bekend gestel. Dit bied ’n prentjie wat tot die kern van sekere probleme sny.
Wat is die stand van Afrikaans as onderrigtaal?
In die algemeen bejeën die verskillende Afrikaanssprekende gemeenskappe hul moedertaal verskillend.
Die een helfte beskou Afrikaans as hoofsaaklik van instrumentele waarde en teken nie sterk beswaar aan as Afrikaans as voertaal toenemend deur Engels op universiteit en hoërskool vervang word nie. Vir die ander helfte is Afrikaans nie net van instrumentele waarde nie, maar verteenwoordig dit ook een van die vernaamste simbole van hul sosiale identiteit.
Hierdie verskil hang in ’n belangrike mate saam met ’n kleurverskil. Dit blyk onder meer daaruit dat slegs 39% van die bruin Afrikaanssprekende leerlinge in openbare skole hul onderrig in Afrikaans ontvang teenoor 51% wat dit in Engels ontvang (die res is in die aparte strome van ’n parallelmedium-opset).
Die swaai na Engels is waarskynlik hoofsaaklik toe te skryf aan amptenare en ouers se ideologiese voorkeure en/of onkunde oor die waarde van moedertaalonderrig.
Afrikaanse onderrig bly belangrik vir die meeste wit Afrikaanssprekendes. Van hulle is 15% in Engelsmediumskole, ’n derde in parallelmediumskole en 51% in Afrikaansmediumskole. Laasgenoemde is die enigste vorm van onderrig waar Afrikaans werklik veilig is.
Daar moet ’n paar punte oor Afrikaanse studente beklemtoon word.
Ten eerste diskrimineer die regering in sy beursskema skromelik teen arm bruin en wit mense. Slegs 2% van wit studente en 4% van bruin studente kry beurse.
Tweedens ondersteun Afrikaanse studente sterk Afrikaanse onderrig.
Ongeveer 80% van die bruin en wit jeugdiges verkies moedertaalonderwys. Onder wit Afrikaanssprekende jeugdiges (die ouderdomsgroep 16 tot 24 jaar) is taaltrots en taalbehoud sterker as in die geval van enige ander subgroep van jeugdiges. Aan die Universiteit van Stellenbosch (US) verkies ongeveer 83% van Afrikaanse studente van alle kleure ’n voertaalbeleid van “hoofsaaklik en konsekwent Afrikaans”.
Derdens stem studente ook met hul voete. ’n Studie toon aan dat die getal Afrikaanse studente tussen 1998 en 2008 van ongeveer 45 000 tot 56 000 gestyg het.
Afrikaanse getalle het die sterkste gestyg op die twee kampusse wat ’n volle Afrikaanse aanbod voorgraads maak. Op Bloemfontein het dit met meer as 62% gestyg en op Potchefstroom met ’n volle 105%.
Laasgenoemde het sy markaandeel van Afrikaanse studente verhoog van 16% tot 29%.
Die US en die Universiteit van Pretoria (UP), die twee universiteite waar Afrikaans die meeste onder druk is, het geen sterk groei in Afrikaanse getalle getoon nie.
By die US het die proporsie Afrikaanse voorgraadse studente tussen 1998 en 2008 met minder as ’n kwart gegroei. Hier het die proporsie Afrikaans-enkelmedium-klasse tussen 2004 en 2009 van 75% tot 38% gedaal, terwyl die proporsie T-opsie (dubbelmedium met twee tale in een lesing) van 24% tot meer as 50% gestyg het.
By die UP was die groei in Afrikaanse voorgraadse studente ’n skrale 4%.
Hier was die onderrigmodusse in 2008 soos volg: 21% dubbelmedium, 46% parallelmedium (aparte strome) en 30% Engelsmedium. Die UP en US het miljoene rande in subsidies weens hul gebrekkige Afrikaanse aanbod verloor.
Die UP se universiteitsraad het op 20 Augustus die brandnetel van omstrede taalbeleid aangepak toe dit besluit het om sekere kernprogramme en verwante modules te identifiseer wat op lang termyn in Afrikaansmedium aangebied sal word.
Daar word verwag dat dubbelmedium tot die minimum afgeskaal sal word.
By die Universiteit van Johannesburg, waar Afrikaanse klasse feitlik uitgefaseer is, was daar ’n daling in Afrikaanse studente van 43%.
Dubbelmedium wat nog op groot skaal by die US toegepas word, word buite die US onomwonde verwerp.
Prof. Flip Smit, oudrektor van die UP, skryf: “Dubbelmedium-onderrig is die swakste wyse van onderrig en is gewoonlik net ’n tussenstadium vir Engelse onderrig.” Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, verwerp ook dubbelmedium omdat dit tyd mors en bloot ’n halfwegstasie tot slegs Engels is.
Wat die US-beleid nog vreemder maak, is dat dit nie sin maak wat betref transformasie of studente se vereistes nie.
Toe die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe in 2005 besluit het om die T-opsie in al drie jare in die lesings af te dwing, was die argument dat dit swart studente sal lok. Die proporsie swart studente in die fakulteit het egter van 2004 tot 2010 slegs van 3,3% tot 4,7% gegroei. Dit is ook die patroon as al die fakulteite in ag geneem word.
Voorgraadse bruin Engelstalige studente het in die afgelope tien jaar van 3,8% tot 6,9% gegroei, maar hierdie studente het as kinders veel meer blootstelling aan Afrikaans as wit Engelstalige studente gekry. Intussen het die bruin Afrikaanssprekende studente op ongeveer 10% gestagneer.
Oor die afgelope ses jaar het die wit Engelstalige voorgraadse studente met ’n volle 54% gegroei sodat hulle teen 2010 ongeveer 25% van die totaal was.
As die verskillende fakulteite met mekaar vergelyk word, is dit duidelik dat die T-opsie tussen 2004 en 2010 misluk het as ’n meganisme om transformasie te bevorder.
Dit blyk ook dat fakulteite wat oorwegend Afrikaans-enkelmedium aanbied net soveel en soms selfs meer wit Engelse studente trek as dié wat die T-opsie aanbied.
Daar is ook die moontlikheid dat die US op groot skaal Engels invoer omdat daar geglo word dat die Grondwet dit vereis. Dat die regering op so iets aandring, is onwaarskynlik.
Die ANC verkiesingsplatform in 2009 verklaar die volgende: “Die ANC is ten gunste daarvan dat sekondêre en tersiêre onderwysinstellings maniere en strategieë oorweeg waarvolgens Afrikaans die primêre, maar nie noodwendig die enigste medium van onderrig nie, sal wees.”
Dit lyk of die US-bestuur ’n heeltemal ander opvatting huldig.
In ’n voorlegging wat hy in 2008 gemaak het aan die Soudien-paneel, wat ondersoek ingestel het na die voorkoms van rassisme op kampusse, word verklaar dat die US “given its history of deep complicity in the apartheid system” ’n spesiale verantwoordelikheid het om gelykheid tussen rasse en in die besonder gelykheid in die werkplek te verseker.
Op grond van die mening van ’n professor in die regte word aanvaar dat gelykheid van uitkomste die uiteindelike doel van die Grondwet is en dat ’n taalbeleid wat as dit aangetoon kan word dat Afrikaans ’n hindernis is, nie maklik die toets van grondwetlikheid sal kan slaag nie.
Die voorlegging maak ook melding van die mening van die direkteur van diensbillikheid en die bevordering van diversiteit, “who pointed to the
serious effects that aspects of the institution(al) culture, especially the use of Afrikaans, may have on the promotion of social cohesion in staff relations”.
Prof. Marinus Wiechers meen dat so ’n interpretasie van die Grondwet ongegrond is. Elke persoon het ’n grondwetlike reg op onderrig van keuse waar haalbaar en “die ongenuanseerde eise van nie-diskriminasie, vrye toegang en demografiese verteenwoordiging verskaf nie geldige en genoeg gronde om onderrig in oorwegend Afrikaans te bevraagteken nie”.
Afrikaans op skool en universiteit lê ten grondslag van taalbehoud en taalontwikkeling. As Afrikaans afgeskaal word soos wat dit aan die US die afgelope sewe tot agt jaar gebeur het, is daar nie op die duur sprake van Afrikaanse boeke, koerante en tydskrifte nie. Sonder Afrikaans wat op die openbare terrein vryelik gebesig word, kan daar nie meer van ’n Afrikaanse gemeenskap sprake wees nie.
In 2001 het ek en prof. Lawrence Schlemmer die volgende stelling gemaak: “Die grootste enkele gevaar vir Afrikaans is dat as dit as universiteitstaal sou verswak of verdwyn, dit die ondergang sou beteken van Afrikaans as wetenskapstaal, as vaktaal, as taal van intellektuele omgang en uiteindelik ook as letterkundige taal.”
Aan die US is die posisie veel benarder as in 2001 toe ons hierdie woorde geskryf het.
Gerrit Komrij, ’n Nederlandse literator, het sy vinger op die belangrikste probleem rondom die US se verengelsing gelê: Afrikaans word deur Afrikaanssprekendes self magteloos gemaak. Komrij het gesê: Afrikaans is “lewend-dood”. Dit is soos ’n “gesonde, spartelende liggaam waarvan mense besig is om ledemate af te sny”.
Daar is min twyfel dat Afrikaans in sportstadions, kroeë, kafees, en sit- en slaapkamers gaan oorleef.
Maar wie gaan dit ernstig opneem as dit nie op intellektuele en professionele vlak presteer nie?
Soos die ander inheemse Afrika-tale sal Afrikaans in so ’n geval onthoof wees. ’n Kosbare kultuurerfenis loop gevaar om weggegooi te word.
Daarom is die UP se skuif na ’n kernaanbod so verblydend en die US se halsstarrige vasklou aan die T-opsie so bedroewend en kortsigtig.
Prof. Giliomee is ’n historikus.